Die lewe gaan voort, selfs met al die protes en bohaai

DONDERDAG 16 FEBRUARIE 2006

09:36

Al die protes en bohaai in sommige Moslemlande oor die Mohammed spotprent gaan oor een ding: Die bron, en heiligheid, van die protesteerders se identiteite is beledig, en siende dat hulle reeds bedreig voel in ’n wêreld wat op soveel maniere verskil van hulle religieuse gemeenskappe, vaar hulle uit, en hulle skree, en hulle brand af, en hulle vermoor, en hulle vernietig.

* * *

Die protesteerders se aksies – soos die aksies van fundamentaliste van ander oortuigings – manifesteer ook die idee dat, “As almal nie soos ons is nie, bedreig en ondermyn dit die geldigheid en grootsheid van ons waarhede. So, hoe meer mense soos ons glo, hoe beter. En dié wat nie soos ons glo nie, wel, hulle lewens is afskryfbaar omdat hulle die waarheid verwerp.”

DONDERDAG 23 FEBRUARIE 2006

19:10

Om te leef asof jy net een week oor het om te leef, is nie juis bevorderlik vir lewe wat verder strek as daai een week nie.

SATERDAG 25 FEBRUARIE 2006

13:24

Daar is diegene wat onkundig is.

Daar is diegene wat weet, en wat hul lewens leef in vrees – of in fatalistiese aanvaarding van die onvermydelike.

Laastens is daar diegene wat gevrees word.

13:36

Ek glo dat absolute stellings onmoontlik is om te maak omdat ons nie oor voldoende data beskik nie. Sodra jy dit aanvaar en vrede gemaak het daarmee, is dit heel moontlik om voort te gaan met die res van jou lewe.

“Hoe?” mag jy dalk vra. Deur keuses te maak elke dag.

Watter keuses is goed en watter keuses is sleg? Dit moet jy uitwerk soos jy voortgaan met jou daaglikse bestaan.

MAANDAG 27 FEBRUARIE 2006

18:46

’n Gedagte van die fiets: “En so gaan ook die lewe van Brand Smit verby. Hy het ’n interessante lewe gehad sover. Hy het interessante mense ontmoet, op interessante plekke gewoon, en interessante plekke gesien. Hy het ook baie tyd op sy eie spandeer – meestal nie aangenaam nie, maar hy het uiteindelik geleer om die tyd op sy eie produktief aan te wend. Hy het ook, na jare van tyd spandeer op sy eie, liefde gevind.”

DINSDAG 28 FEBRUARIE 2006

09:05

Vergeet om te noem by gister se gedagte van die fiets: Daai teks is veronderstel om die inleidende paragraaf te wees vir ’n stuk met ’n titel soos, “Ek is nie Chinees nie – maar die Taiwannese is ook nie.”

* * *

Uit my droom vanoggend: “Selfkennis en stratosfeer”

______________________

Nuwe verwikkelinge in die Beskawing van BRAND

INLEIDING

“Many people look at the Internet as the last ‘gold rush’ or pot of gold at the end of the rainbow. The Internet is no different than any offline store, business, or job if you are looking to make a full-time income from it. It’s not the lottery; it’s business and it takes WORK. Money is not going to magically drop into your lap or arrive in your mailbox – it has to be earned online just like it does offline – by putting in the time doing the necessary work and continuing to put in the time working and growing your ‘home business’ to a consistent level of income. Yes, I said ‘home business’, because that’s what it is – a job you do from home. It’s YOUR business and requires some discipline and commitment to make it grow. The rewards are huge, however …” ~ Uit ’n onderhoud met Deborah Casey [die oorspronklike artikel het lankal verdwyn van die Internet af]

Presies ’n maand gelede, op Maandagaand 9 Januarie 2006, cut-and-paste ek driftig aan ’n dokument getiteld, “Guidelines for Unpublished Writers”. Ek was toe reeds amper twee maande lank besig om te werk aan die Engelse vertaling van “Persoonlike Agenda”, en ek het gereken dit was tyd om ’n bietjie inligting bymekaar te maak oor literêre agente en uitgewers. Kort na die samestelling van die omvattende 60-bladsy dokument met onder andere die name van omtrent 100 agente, reken ek: As die konvensionele proses nie resultate oplewer nie … dan doen ek dit op my eie.

’n Week of wat later kom ’n groot ontdekking: ’n Plek waar mens fotokopieë kan maak en dit netjies kan laat bind in boekvorm – hier in Fengshan! Nie ’n dag later nie het ek ’n kopie van my versameling gedigte laat druk-en-bind, en ek is toe heel opgewonde oor die moontlikhede van om tog aan die einde self kopieë van my literêre projekte te produseer, te bemark, en te versprei. Kreatiewe onafhanklikheid, en miskien ’n klein profyt, het ek gereken.

Drie weke gelede noem Natasja iets van Turkye, en ons gesels toe oor die moontlikheid om daar Engels klasse te gaan gee. My internet konneksie was op daai stadium baie wisselvallig, so ek kon nie onmiddellik inligting soek oor die onderwerp nie. Teen Donderdag 26 Januarie het ek die probleem laat herstel, en daai aand begin ek toe wat ek gemeen het ’n vinnige navorsingsessie sal wees. English teaching in Turkye het binne minute oorgegaan na werkgeleenthede in Hong Kong – waarna ek, en die volgende dag ook Natasja, met groot belangstelling gekyk het.

Een van die Hong Kong blaaie het iets onder my aandag gebring waarmee ek reeds ’n jaar of wat gelede kennis gemaak het: boeke in digitale formaat, oftewel e-boeke.

“E-boeke wat verkoop vir soveel as $12!” het ek minute daarna uitgeblaker in die kombuis (asof iemand anders buiten ekself daar gestaan en wag het vir die nuus). Voordele van e-boeke sluit in goedkoop produksie, eerste en finale kreatiewe seggenskap oor die materiaal, geen verskepingskoste nie, en vanweë die feit dat ek besig was om die materiaal te vertaal in Engels, ’n internasionale mark.

Soos ek besig was om e-boek formate na te vors, dring twee ander brokkies data my brein binne. Die eerste is ’n wêreldwye aanlyn betalingstelsel genaamd, PayPal. Die tweede stukkie inligting is die moontlikheid dat ek my eie Internet boekwinkel kan bestuur waar ek boeke kan bemark van my eie keuse, wat dan via die groter aanlyn boekwinkels verkoop en versend word. “Ek kan betaling ontvang oor die Internet, per kredietkaart?” het ek gedink, en as ’n bygedagte, “en ander bronne van inkomste op die Internet?”

Teen 27 Januarie het ek ’n nuwe dokument saamgestel, met teks alfabeties gesorteer onder riglyne vir ongepubliseerde skrywers, en dié keer meer eenvoudig getiteld: eBooks.

So het ek vir die afgelope twee weke my dae begin en geëindig met gedagtes van groot somme wins wat ek sal kan maak met die internasionale verkope van my eie materiaal. Gisteroggend staan ek toe op met die gedagte – nee wag, ek het Dinsdagaand al aan die slaap geraak daarmee – van “stel jouself voor ek verkoop sommer iets soos 37 000 kopieë van die hele projek (ek hou van “3”, en ek hou van “7”, en duisende is baie, so die nommer het sin gemaak). Siende dat ek oor minder as twee maande op vakansie gaan, vermaak ek myself toe ook – dit was so teen middagete gister – met die idee van hoe lekker dit sou uitwerk as ek sommer ’n bietjie ekstra sakgeld kon maak met so ’n projekkie voor die vakansie. Rekende dat ek nie my momentum moet verloor met die navorsing oor alternatiewe bronne van inkomste nie, kliek ek toe die vet “E” op my taakbalk, en na ek ’n bietjie gedink het oor wat presies ek wou navors, tik ek toe in, “marketing ebooks online”.

Wat net ’n breuk sou wees van die vertalingswerk so teen middagete, word toe ’n amper koorsagtige sessie agter die rekenaar wat geduur het tot kort na middernag. Een kliek het gelei tot die volgende, wat gelei het tot die volgende, wat gelei het … tot meer as een kloppende hoofpyn. “Die moontlikhede!” is waarop dosyne gedagtes en self-gesprekke neergekom het. Ek het elke nou en dan notaboek toe gedraf om kriptiese aantekeninge te maak oor “nuwe verwikkelinge”, en oor hoe om sin te maak van die implikasies, sou dit ooit manifesteer in werklike rande en sente, en Amerikaanse dollars, en Nuwe Taiwan dollars in my plaaslike bankrekening. Teen die einde van die dag was ek ingeteken op meer as ’n paar nuusbriewe, en ek het ’n rekening oopgemaak by [’n betalingstelsel wat intussen stof gebyt het], en ’n Premium Account by PayPal. Geld kon nou inrol – in teorie, ten minste.

“You know they are everywhere. You see them on job sites, on message boards, and even offline! It’s a work from home scam I’m talking about. Scams are EVERYWHERE and they get the best of us,” sê Pamela La Gioia van mommysplace.net. Twee dae later het die stof gaan lê, na ek letterlik dosyne werwe en moontlik ’n hele paar “scams” onder al rooier wordende oë gehad het.

Aanvanklike opgewondenheid – en genoeg opwinding om my ’n hoofpyn te gee! – het teen dié tyd plek gemaak vir ’n meer nugtere beskouing van die moontlikhede.

Sover as wat ek kon uitvind bestaan daar basies drie tipes geleenthede om geld te maak op die Internet: 1) die tipe waar die verkoopspersoon praat van “systems” en “programs”, en honderd-duisende dollars wat elke maand verdien word – op wyses wat jy kan bemeester as jy $97 betaal vir die nodige materiaal; 2) die tipe waar jy twee of drie ure se werk elke dag insit, die werk is nie verskriklik opwindend nie, jy moet professioneel omgaan met wat inderdaad ’n werk is, en waarmee jy, as jy gedissiplineerd is en elke dag jou twee of drie ure insit, moontlik soveel as twee of drie duisend dollar per maand kan verdien; en 3) die oorspronklike idee wat my op die spoor van al hierdie moontlikhede gesit het: e-boeke – en nie net my edel literêre tipe nie, maar kort, sogenaamde “info-booklets” met handige inligting waarvoor blykbaar duisende mense bereid is om te betaal.

Een vraag wat vele sekerlik sal vra voordat hulle sal terugsit asof hulle my borrel gebars het: As hierdie geleenthede werklik sulke goeie idees is, hoekom bedank miljoene mense dan nie by die maatskappye en skole en besighede waar hulle werk om miljoene te maak op die Internet nie?

______________________

Niemand langs jou nie, niemand voor jou nie, en tog gesels jy

SONDAG 5 FEBRUARIE 2006

18:40

’n Teologiese implikasie van ewolusie: as kreature, insluitende die mens, ontwikkel om hul kanse op oorlewing te verbeter, is dit dan nie waar dat ons ons eie skeppers is nie? Een voorbeeld: Volgens my Concise Encyclopedia: “Merychippus [’n uitgestorwe proto-perd wat endemies was aan Noord-Amerika tydens die Mioseen tydperk, 23 tot 5 miljoen jaar gelede] […] developed longer limbs to escape from predators.”

Terloops, daar is 4000 verskillende spesies eenvoudige enkelsel organismes soos bakterieë; 50 000 komplekse enkelsel organismes soos amebes; 100 000 spesies fungi, soos sampioene; 400 000 spesies plante; en 2 miljoen spesies diere.

DINSDAG 7 FEBRUARIE 2006

14:25

Waaroor gaan my skryfwerk? Op die oog af blyk dit niks meer te wees nie as vrae wat een man vra oor sy eie lewe om dit meer betekenis en waarde te gee – met antwoorde wat blyk slegs op hom van toepassing te wees. Ek glo egter as almal – of dan ten minste meer mense as wat tans die geval is – dieselfde, of soortgelyke vrae moet vra oor hul eie lewens, die wêreld ’n beter plek sal wees. Ek glo dat daar minder lyding sal wees, en dat mense meer vervullende, en meer produktiewe lewens sal leef.

[14/10/15: Moeilik om te bepaal hoeveel mense hulleself die tipe vrae vra waarna ek verwys. Dit help ook nie veel as jy jouself die vrae vra en jy kom vorendag met antwoorde wat vir jou sin maak, maar wat uiteindelik meer lyding vir ander mense veroorsaak nie.]

16:50

Ek het gewonder hoekom ek in Julie 2004 soveel meer oortuig was as nou van myself, my rol, my waarde en my plek in die wêreld. Ek reken die rede is definisie van sukses. Ek het teen Julie 2004 sukses gedefinieer as die vermoë om ’n sekere lewe te kan leef, en sekere werk te kan doen. Ek was in 2004 in staat om daai lewe te leef, en die werk te doen wat ek wou doen.

Vir die afgelope jaar of so is sukses (om verstaanbare redes) weer gemeet aan finansiële standaarde. “Wanneer my projekte afgehandel is …” en “Wanneer ek uiteindelik meer geld het …” het geykte frases geword. Dan kom ’n tyd wat my gestel ’n bietjie af is en ek word geforseer om die feite in die gesig te staar: 34, skryf baie, publiseer fokkol; ʼn hele paar EFL projekte, nog net ’n paar kopieë verkoop van een boek; droom van ander plekke, nuwe meubels, meer geld … en karring maar aan.

Dalk ietwat onregverdig, maar ten minste weet ek waar dit vandaan kom.

Miskien is hierdie dan ’n goeie tyd om te vra: Hoe definieer ek sukses op 7 Februarie 2006?

Sukses, vir my, sal wees om ’n lewe te kan bewerkstellig waar ek my tyd elke dag kan spandeer soos ek goedvind. Ongelukkig is finansiële sukses ’n onontbeerlike bestanddeel daarvan.

DONDERDAG 9 FEBRUARIE 2006

09:51

Skrikwekkende nuwe moontlikhede – miskien moet ek in aanraking kom met ou gevoelens van warm son en armoede en skaamte om dinge in perspektief te plaas.

Nog iets: die wortel van vele kwaad is nie geld nie, maar onsekerheid oor wie jy is, jou eiewaarde, en jou plek in die wyer wêreld.

18:28

Sewejaar-oue Judy van “talking to the eraser” faam stap laat vanmiddag oor na my lessenaar en asof sy dringend ʼn boodskap moet oordra wat ek nodig het om te weet, sê sy: “Zìyán zìyǔ”.

Ek het nie onmiddellik gevang wat sy probeer sê nie. Sy verduidelik dit toe in Mandaryns wat ek kon verstaan, met handgebare om die idee te beklemtoon: “Niemand langs jou nie, niemand voor jou nie, en tog is jy besig om ʼn gesprek te voer.”

______________________