‘n EDEL VOORNEME
(Saterdag, 20 September 2003)
Ek het besluit dat ek nou genoeg geskryf het oor “die lewe”. Dis tyd om aan te beweeg. Ek het genoeg vrae gevra, en genoeg antwoord-fragmente bymekaar gemaak. Ek is nou al vir lank genoeg vasgevang op my eie kognitiewe dansvloer waar ek ‘n diepsinnige tango probeer dans het met Filosofie, ‘n ketterse samba probeer het met godsdienstige doktrines, ‘n wals gewaag het met tweedejaar-Sielkunde, ‘n intieme smartdans met Geskiedenis, ‘n lekker loslyf met Aardrykskunde, en teen die verwagtinge van my hoërskool Biologie onderwyser, ook ‘n paar goedbedoelde, dog lomp volksdansies met Dierekunde.
Die tyd is ryp vir ander temas, en ander genres as my gunsteling, maar teen dié tyd geykte “stuk” oor “die lewe”. Ek is van voorneme om van nou af oor ander dinge te skryf, soos internasionale geldmarkte, die geskiedenis van porselein, wie eerste daaraan gedink het om te sê “hallo” en hoekom op aarde ek nog nie verstaan hoe ‘n rekenaar werk nie.
Die eerste van my nuwe temas sal egter handel oor die fauna en flora van Taiwan…
___________
