WAT ONDER DIE VEL LÊ

Deur 15 - 08 - 2001

Ek kyk soms na mense, vriende van my om meer spesifiek te wees, en ‘n sekere beeld dring homself by my op. Die beeld is een van kinders – kom ons sê sewejariges – wat huis-huis speel, wat voorgee asof hulle volwassenes is.

Die addisionele metafoor wat ek dan kies om hierdie besondere insig verder te verduidelik, is een waar ‘n mens aan iets krap om te sien wat onder die oppervlak lê. In die geval van hierdie goeie mense wat ek my vriende noem, krap ek dan aan hulle, en onder die vel wys die kinders dan.

Dis belangrik om te noem dat hierdie mense geensins neig tot kinderagtige gedrag nie. Inteendeel, hulle is waardige volwassenes, in terme van hulle verhouding, die dinge waarin hulle geïnteresseerd is, hulle huishouding, en hulle finansiële verantwoordelikhede.

Steeds kan ek nie wegkom van die idee dat hulle net besig is om hulle ouers na te aap nie, al kwalifiseer hulle as “volwassenes” volgens die gemeenskap se standaarde. ‘n Voorbeeld van hierdie na-aping is wanneer so ‘n kind-volwassene daai eerste huis koop, en dit trots aan die ouers wys: “Kyk Pa, kyk Ma! Ek het ‘n huis gekoop!” En dan klap Pa en Ma trots hulle hande saam en sê, “Haai, kyk Pa (of Ma), boetie (of sussie) het ‘n huis gekoop!”

Ek voel gewoonlik ‘n bietjie skuldig as ek sulke siniese dinge dink oor my vriende, veral as dit is net nadat ek dankie gesê het vir die koppie koffie wat hulle, as gasvrye volwassenes, vir my gemaak het. Ek dog toe nou die dag, as ek sulke interessante insigte kry as ek “krap” aan ander mense, wat sal ek ontdek as ek ‘n bietjie krap aan my eie vel?

Sonder versuim kom ek toe vorendag met ‘n antwoord: ‘n mal ou man met ‘n weekoue grys rasperbaard, wat in sy pajamas voor ‘n stom TV sy kop sit en vryf terwyl hy angstig met homself argumenteer.

Nie heeltemal tevrede met hierdie kritiese selfinsig nie, gaan ek toe een stap verder – ek krap aan die ou man. Wat toe uit hóm sypel was ‘n bietjie nader aan die hart: ‘n senuweeagtige vyfjaaroue seuntjie wat laatmiddag op sy oom se plaas by die hek staan en wonder waar al die mense is, hoekom hulle hom alleen gelos het, en of hulle kwaad vir hom was omdat hy gelê en slaap het op die sitkamervloer. En was dit ‘n jakkals wat nou net daar in die verte gehuil het?

———————

“Chimps can codify their cultural behaviour – how to hunt, how to groom oneself and others – and pass that knowledge along to their young.”

~ Uit ‘n TV-program

***

“All that is human must retrograde
if it does not advance.”

~ Edward Gibbon (1737 – 1794) oor die agteruitgang en val van die Romeinse Ryk (aangehaal uit A World Lit Only By Fire, deur William Manchester)

Hierdie inskrywing dateer: 15 - 08 - 2001 om 23:49 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.