Wat onder die vel lê

SONDAG 2 MAART 2003

Ek kyk soms na mense, vriende van my om meer spesifiek te wees, en ’n sekere beeld dring homself by my op. Die beeld is een van kinders – kom ons sê sewejariges – wat huis-huis speel, wat voorgee asof hulle volwassenes is.

Dis soos om aan iets te krap om te sien wat onder die oppervlak lê. In die geval van hierdie goeie mense wat ek my vriende noem, krap ek dan aan hulle, en onder die vel wys die kinders dan.

Dis belangrik om te noem dat hierdie mense geensins neig tot kinderagtige gedrag nie. Inteendeel, hulle is waardige volwassenes, in terme van hulle verhouding, die dinge waarin hulle geïnteresseerd is, hulle huishouding, en hulle finansiële verantwoordelikhede.

Steeds kan ek nie wegkom van die idee dat hulle net besig is om hulle ouers na te aap nie. ’n Voorbeeld van hierdie na-aping is wanneer so ’n kind-volwassene daai eerste huis koop, en dit trots aan die ouers wys: “Kyk Pa, kyk Ma! Ek het ’n huis gekoop!” En dan klap Pa en Ma trots hulle hande saam en sê, “Haai, kyk! Boetie (of Sussie) het ’n huis gekoop!”

Ek voel gewoonlik ’n bietjie skuldig as ek sulke siniese dinge dink oor my vriende, veral as dit is net nadat ek dankie gesê het vir die koppie koffie wat hulle, as gasvrye volwassenes, vir my gemaak het. Ek dog toe nou die dag, as ek sulke interessante insigte kry as ek “krap” aan ander mense, wat sal ek ontdek as ek begin krap aan my eie vel?

Dit het nie lank gevat om met ’n antwoord vorendag te kom nie: ’n ou man met ’n weekoue grys rasper-baard, wat in sy pajamas voor ’n stom TV sy kop sit en vryf terwyl hy met homself argumenteer.

Nie heeltemal tevrede met hierdie kritiese self-insig nie, gaan ek toe een stap verder – ek krap aan die ou man. Wat toe uit hóm te voorskyn kom, was ’n bietjie nader aan die hart: ’n kind, niks meer as vyf jaar oud nie, wat laatmiddag by ’n plaashek staan en wonder waar al die mense is, hoekom hulle hom alleen gelos het, en of hulle kwaad vir hom is omdat hy gelê en slaap het op die sitkamervloer. En hoekom klink daai jakkals so naby?

———————

“Chimps can codify their cultural behaviour – how to hunt, how to groom oneself and others – and pass that knowledge along to their young.”

~ Uit ’n TV-program

* * *

“All that is human must retrograde if it does not advance.”

~ Edward Gibbon (1737 – 1794) oor die agteruitgang en val van die Romeinse Ryk (aangehaal uit A World Lit Only By Fire, deur William Manchester)

______________________