WAT MENSE DOEN
Die Dinge Wat Mense Doen Vir Geld, En Dan Die Dinge Wat Mense Doen Vir Ander Redes
Ons het almal geld nodig, maar die maniere hoe ons verkies om ‘n bietjie kapitaal bymekaar te skraap, verskil. Sommige mense maak goed en verkoop dit aan ander; ander dra by tot die vervaardiging van artikels wat deur ander mense verkoop word; sommiges koop dinge en verkoop dit teen ‘n wins; bou of ontwerp huise en ander geboue; ontwerp of bou bruê, damme, paaie en ander infrastruktuur; versier ander mense se huise; knip hare; maak huise en ander geboue skoon; reis na die ruimte; leer ander mense dinge wat hulle nie weet nie; bestudeer allerhande onderwerpe en word dan betaal vir hulle studies; vlieg vliegtuie tussen stede en lande; seil skepe en bote oor die oseane; verkoop produkte namens ander mense of besighede; regeer oor miljoene mense; verskaf administratiewe dienste aan besighede, instellings, of aan die regering; soek en arresteer kriminele; verdedig kriminele en soms onskuldiges in howe; verskaf ander regsdienste aan mense; dien as geregsdienaars in howe en maak besluite aangaande die skuld of onskuld van mense; hou wag oor kriminele in tronke; steel ander mense se besittings en verkoop dit dan vir kontant; vermoor sekere mense teen ‘n fooi; lei of dien in ‘n weermag of enige ander eenheid ter verdediging van ‘n nasie of gebied; dien as huursoldate in oorloë; luister na ander mense as hulle praat oor hulle probleme en probeer dan advies gee; dien as gidse op toere; skryf, en verkoop dan hulle skryfwerk; vertaal stories of ander materiaal wat ander mense geskryf het; skep oudio-visuele weergawes van stories vir ander se vermaak; bespeel musiekinstrumente of sing vir die vermaak van ander; komponeer musiek of skryf liedjies en verkoop dan hulle werk; reguleer die verkeer; jaag karre, motorfietse, trokke, bote of enige ander masjien-aangedrewe voertuie of vaartuie in kompetisie met ander mense; beoefen ander sportsoorte op ‘n professionele vlak in kompetisie met ander atlete; bereken die inkomste en uitgawes van individue of besighede om die owerhede tevrede te stel dat die mense eerlike besigheid doen; adviseer ander mense oor hoe om geld te maak; ontvang geld van individue of besighede namens die regering; ontvang geld van individue of besighede namens kriminele organisasies; vermaak ander mense deur grappe of stories te vertel, of deur in sirkusse op te tree, of deur karakters te vertolk in films of toneelstukke; herstel dinge wat gebreek is; berei kos en drinkgoed voor vir ander mense om te geniet; bedien kos en drinkgoed aan ander mense; verseker die gladde bestuur van ‘n besigheid of instelling namens ander mense of die regering; bemark ander mense, produkte of besighede; verskaf seksuele dienste aan mense; dans kaal of halfkaal vir die plesier van (meestal) geklede mense; verskaf ‘n wye reeks dienste aan ander mense of besighede in die naam van ander besighede of die regering; lewer pos af; neem foto’s en verkoop dit; ontwikkel foto’s vir ander mense; verskaf inligting deur middel van massa-kommunikasie-media; verskaf inligting op geheime wyses; ondersoek ander mense of gebeure en rapporteer hulle bevindings teen ‘n fooi; verskaf gesondheidsdienste aan mense; verskaf vertroosting aan dié wat dit nodig het; verf huise of ander geboue; ontwerp tuine of ander landskappe, of hou tuine of ander landskappe in goeie kondisie; ontwerp materiaal wat mense se aandag sal trek vir kommersiële of ander doeleindes; verkoop hulle organe, sperm, of veilige hoeveelhede bloed; ondergaan mediese toetse teen vergoeding; versorg of beskerm fauna en/of flaura; tree op as bemiddelaars tussen partye met botsende agendas; bied hulle gespesialiseerde dienste of kennis aan mense op ‘n vryskutbasis; onderhandel vir die vrylating van gyselaars; neem mense gyselaar of ontvoer mense en laat hulle dan weer vry vir groot hoeveelhede geld; ontwerp produkte wat deur ander vervaardig sal word; kultiveer groente of vrugte, of teel lewende hawe om dit op markte te verkoop; blus vure; verskaf gesondheidsdienste aan diere; maak jag op diere of vang vis of ander see-organismes en verkoop wat hulle doodgemaak of gevang het; tree op as afrigters van atlete ter voorbereiding van kompetisie, of van diere ter voorbereiding van vermaaklike aksies vir die genot van ander mense; neem rommel uit woonbuurte na afgebakende areas; kultiveer blomme en/of bome en verkoop dit dan; vervals dokumente of ander waardevolle artikels; tree op as tolke tussen sprekers van verskillende tale; restoreer huise of ander geboue, of ou motorkarre of meubels, en verkoop wat hulle gerestoreer het; vervoer siek of beseerde mense na hospitale of klinieke; versorg siekes of bejaardes; versorg kleuters of jong kinders vir kort periodes; bestuur huishoudings vir ander mense; vervoer goedere en/of mense per trok of trein van een plek na ‘n ander; verskaf arbeid aan boere; bou, teer, of hou paaie in stand; en sommige mense selekteer materiaal wat deur ander mense geskryf is sodat dit uiteindelik gepubliseer en verkoop kan word teen ‘n wins.
Behalwe vir al bogenoemde aktiwiteite spandeer mense ook tyd aan ander dinge, maar vir ander redes as finansiële kompensasie. Hulle versamel seëls; plant bome of blomme; sny die gras; verf hulle huise; komponeer musiek; of skryf joernale, dagboeke, briewe, en ander privaat stukke literatuur wat nie bedoel is vir kommersiële publikasie nie. Mense lees ook boeke, koerante of ander literatuur; kyk flieks; doen sport; ry rond in hulle karre of op hulle fietse of motorfietse; seil bote; vlieg vliegtuie; gaan op daguitstappies; kopuleer met ‘n tweede party; kyk TV; maak die huis skoon; neem foto’s; versorg geliefdes; spandeer tyd en geld aan liefdadigheidsake; help mense in nood; maak dinge reg wat gebreek is; restoureer ‘n huis, ou meubels, of ‘n ou motorkar vir persoonlike gebruik; speel video- of rekenaarspeletjies; swem; gaan op pieknieks; doen fisiese oefening; maak modelvliegtuigies, -bote of -karre; doen houtwerk; sit legkaarte aanmekaar; leer om ander tale te praat; bespeel musiekinstrumente; sing liedjies (alleen of saam met ander mense); hou troeteldiere aan; versier huise; kook kos; besoek vriende of familie; steel kos of ander artikels vir persoonlike gebruik; maak mense dood; veroorsaak liggaamlike en/of geestelike skade aan ander; gebruik onwettige middels; drink gevaarlike hoeveelhede alkohol; dans, alleen of met ander mense; luister musiek; doen shopping; gaan uit saam met vriende; woon musiekkonserte of ander kunsvertonings by; maak klere; maak tuisvideo’s; trou en kry kinders; ry resies met ander mense in karre of op fietse of motorfietse; speel kaart of bordspeletjies; spandeer ure op die Internet; reis na ander lande; besoek museums, kunsgallerye of ander besienswaardighede; woon godsdienstige samekomste by; rook sigarette of gebruik ander tabakprodukte; luister na wat ander te sê het oor hulle probleme; bespreek hulle eie probleme met ander mense; voer argumente, kry stry of debatteer interessante punte; stort of vat ‘n bad; slaap of vat middagslapies; trek aan, skeer, borsel tande, of doen ander dinge ter wille van persoonlike higiëne; luister na die radio; gaan stap; doen window shopping; vertel grappe; maak materiële besittings bymekaar; spog oor hulleself; raak betrokke in kroeggevegte; woon sportbyeenkomste by; knoop buite-egtelike verhoudings aan; koop persente vir ander mense; hou verjaarsdagpartytjies; vier Kersfees en/of ander godsdiens-verwante feesdae; organiseer en neem deel aan massa-optogte en betogings; vandaliseer geboue en/of ander infrastruktuur; martel diere of ander mense; gaan strand toe en lê in die son om die kleur van hulle velle te verander; vang vis; raak mal en eindig op in malhuise; doen poppespel; versprei siektes; raak verlief op ander mense; agtervolg ander mense; bestudeer menslike gedrag van ‘n afstand af; leer hulle kinders maniere; vertel leuens; speel in skool- of gemeenskapstonele; verdedig hulle eiendom en medemens van ander wat hulle skade wil aandoen; was hulle karre; was wasgoed; was skottelgoed; bid of mediteer; aanbid ander mense, afgode, of ‘n religieuse entiteit; vee stof en vuilheid uit hulle huise; tel gemors op; maak spinnekoppe en ander insekte in hulle huise dood; berei drankies of ander drinkgoed voor vir hulleself en/of vriende en familie; steek geboue of ander goed aan die brand; kamp uit; maak kinders of ander mense skrik; staar na die sonopkoms of sonsondergang; staar na die wolke en reken hulle sien vorms; dink oor die betekenis van die lewe; dink oor die moontlike doel vir hulle bestaan; maak telefoonoproepe na vriende of familie (miskien om uit te vind of hulle weet wat die betekenis van die lewe is); vang skoenlappers; gaan dieretuin toe om na ander diere te staar; dink dinge uit wat hulle lewens meer gerieflik kan maak; bedek hulle gesigte met poeiers of ander grimering; soen ander mense; omhels en hou hande vas; maak gekke van hulleself tot die vermaak van ander; leer Oosterse gevegskuns; verafsku hulleself; kritiseer ander; versamel foto’s van hulleself en van vriende en familie en rangskik dit in foto-albums; vertel stories oor hulle eie lewens, die lewens van ander, of oor gebeure en insidente waarvan hulle weet of wat hulle eerstehands ervaar het; fantaseer oor mense met wie hulle nie huidiglik intieme verhoudings het nie; dagdroom oor wat hulle sal doen as hulle die Britse Lotery wen; herrangskik hulle meubels; dikteer testamente aan prokureurs; spandeer tyd in tehuise vir bejaardes; speel brug elke Donderdag; speel kegelbal; blaai deur boeke in boekwinkels; leen boeke uit biblioteke; skilder of teken prente; stel wat-om-te-doen-lyste op; bekommer hulleself oor die toekoms; herstoffeer stoele en rusbanke; sing in die stort; skei; gaan tronk toe; hardloop weg van die huis af; vat die verkeerde afdraai en kyk nooit terug nie; loods sosiale of politieke rewolusies en gooi soms die huidige stand van sake omver; en sommige mense bly in die bed die hele dag in vrees vir alles wat op hulle wag buite hulle voordeure.
En dan is daar dié wat dit selfs regkry… om niks te doen nie.
