Verskynings, persente wat ’n agenda dien, en enkele ander gedagtes

[Die idee om te verskyn aan ’n sekere jong vrou soos ek myself sien het my genoop om op te kom met ’n plan om van my geskrewe materiaal te sirkuleer aan enkele mense op ’n geleentheid waar ek geweet het sy teenwoordig sal wees. Die geleentheid wat hierdie doel die beste sou dien, was die Kersete by ’n vriendin se huis.

Ek het teen hierdie tyd geweet dat die betrokke dame reeds vroeg op Kersoggend by die gasvrou se woonstel sal wees om te help met voorbereidings. Ek het aangebied om hulle deur die loop van die oggend te voorsien van vars gemorskos.

Die bose plan wat ek reeds die vorige week bedink het, was om saam met die Kentucky Fried Chicken en heerlike Portugese eiertertjies aan elkeen van die dames ’n netjiese pakkie gebinde papiere in die hande te stop as “iets om te lees as julle verveeld raak”. Ek sou dan geduldig wag op ’n reaksie – wetende dat dit negatief kon wees. (Ek het vermoed dat ek ’n geselsie sou kon aanknoop oor die materiaal teen die Nuwejaarspaartie ’n week later.)

Die aanvanklike plan was om uittreksels uit al drie volumes van “Die Persoonlike Agenda” saam te stel. Hierdie proses is begin op Woensdag 15 Desember, met hersiening en verbeterings wat teen koorsagtige spoed aangebring is.

Teen Vrydag 24 Desember het ek egter my arms in die rigting van die plafon gegooi, en om 01:45 in my notaboek noteer: Kompromie – verskyn as die skrywer van … uittreksels uit die SLOTHOOFSTUK.

En so het dit gekom dat drie vrouens op Kersoggend 2004 elkeen ’n Kentucky Zinger, ’n vars tertjie, en ’n vars gedrukte kopie van “Uittreksels uit die SLOTHOOFSTUK” (met inhoudsopgawes van die drie volumes) as proviand vir die dag ontvang het.

Die hersieningsproses het, soos gewoonlik, tot nuwe insigte gelei.]

DONDERDAG 23 DESEMBER 2004

17:44

Ek lees weer deur ou materiaal. Twee dinge is baie duidelik:

1. Ek was die ellendigste die afgelope meer as tien jaar op tye wat ek nie geskryf het nie, en die gelukkigste op tye wat ek wel geskryf het.

2. Tye wat ek moes verskyn in sosiale gedaante, was tye van intense selfondersoek en onsekerheid oor wie en wat ek is, en as wie en wat ek verskyn aan die gemeenskap.

20:47

Jy kan nie verskyn as ’n skrywer as jy nie ’n boek in jou hand het, of op ’n openbare boekrak nie. Boek op die rekenaar? Nie goed genoeg nie. Uitgedrukte manuskrip op jou lessenaar? Nie goed genoeg nie …

______________________