Toekomsvisie, moontlikheid een

SATERDAG 24 MEI 2003

Brand Smit woon in Blousteenweg nommer 273. Hy’s getroud met Elsa Kleynhans (nou Junie was dit sewe jaar). Hulle het twee kinders: Martie is vyf en ’n half, en Ben is drie. Brand werk by ’n plaaslike koerant as sub-redakteur. Hulle het die huis in Blousteen gekoop drie jaar gelede by ’n werkskontak van Elsa se broer (net voor klein Ben se geboorte). Dis ’n aangename huis, met ’n kleinerige voortuin en ’n boom in die agterplaas. Brand sê altyd hy’t die huis gekoop omdat daar nie te veel gras is om te sny nie. Dan voeg Elsa elke keer by, “en die studeerkamer”.

Die gesin was verlede Desember Sodwana toe, en Brand het gesweer nooit weer nie. Die kinders het siek geword van die drinkwater, en hy en Elsa het daarna nie ’n nag se rus gehad vir ’n volle week nie. Brand het aanvanklik gesê hulle bly by die huis hierdie Desember, maar hy en Elsa het weer daaroor gepraat. Hulle beplan nou om ’n draai te gaan maak by familie van Elsa in die Weskus.

Brand praat so nou en dan oor sy jare in die Ooste; Elsa luister maar altyd geduldig. Soms, soos nou Aprilmaand, kom daar iemand kuier waarmee hy bevriend was in Taiwan. Hulle gesels dan tot laat in die nag oor dié en daai, oor tifone, besoedeling, epidemies, Engelse klasse, en Chinees.

Brand onthou nog ’n paar Chinese woorde, en hy sê altyd as hy weer Taiwan of China toe moet gaan, hy weer die taal sal kan optel. In die badkamer (die een langs die spaarkamer) hang ’n rol bamboespapier met groot Chinese karakters op. As ’n gas die badkamer gebruik het, hoop Brand altyd hulle vra hom wat die woorde beteken. Hy gaan dan gewoonlik aan daaroor tot Elsa hom herinner dat nie almal ewe geïnteresseerd is in Oosterse tale nie.

Brand het verlede jaar veertig geword, en as ’n geskenk aan homself ’n boek oor Confucius gekoop. Die boek lê in die sitkamer langs die stoel waar hy altyd sit, maar hy’t nog net die eerste paar bladsye gelees.

Hy skryf nog, maar meeste van die tyd is dit net goed vir die koerant. Hy’t eenkeer ’n artikel geskryf vir ’n nasionale tydskrif, en was baie opgewonde oor wat hy gereken het moontlik ’n nuwe bron van gereelde inkomste kan word. Dit was drie jaar gelede.

Brand is lief vir sy vrou, en hy’s toegewyd aan sy kinders. Hy hoop Martie gaan iets soos ’n argitek of ’n veearts word. Hoewel dit nog bietjie vroeg is om te sê, reken hy klein Ben mag dit dalk in hom hê om ’n skrywer te word. Hy vertel dit vir almal wat wil hoor, en lyk elke keer verleë as Elsa vir hom sê, “Laat die kind toe om sy eie mens te word.” Al wat hy dan sê voor hy oor iets anders begin praat, is dat hy dit in die seun se oë kan sien. ’n Skrywer, of miskien ’n sielkundige.

______________________