Toekomsvisie, moontlikheid drie

DINSDAG 19 AUGUSTUS 2003

Brand Smit en sy vrou, Elsa Kleynhans, woon saam met hul twee jong kinders in Blousteensingel nommer 11. Martie, hulle oudste, is vyf en ’n half, en Ben is drie. Brand spandeer meeste van wat as die konvensionele werksdag beskou word aan sy literêre projekte. Hy werk tans aan ’n “first draft” oor die verband tussen Stryd en Kreatiwiteit, spesifiek in die konteks van die voorstedelike middelklas. Tussen sy werkskamer, die sitkamer en die kombuis is die waarskynlikheid groot dat jy ’n kopie sal kan raakvat van ten minste een van sy twee digbundels, asook die versameling opstelle en ander stukke hoofsaaklik oor sy tyd in Taiwan en Korea.

Brand se daaglikse roetine volg ’n bekende patroon. Hy staan gewoonlik op voor Elsa en die kinders, maak vir hulle ontbyt, vat die kinders kleuterskool toe, en laai dan vir Elsa by die laerskool af (waar sy ’n onderwyseres is). Dan sal hy miskien ’n draai maak by die biblioteek, en so van net na middagete se kant af is hy agter sy rekenaar.

Behalwe vir die skamele inkomste wat hy uit sy skryfwerk verdien, publiseer hy ook Engelse handboeke saam met ’n besigheidsvennoot in Taiwan. Dié onderneming verseker dat hy ten minste een keer per jaar Ooste toe gaan vir boekskoue en om besigheid te praat met plaaslike skole.

Verlede Desember was die gesin Kaap toe om by Elsa se familie te kuier, en Brand het gesweer nie weer nie. Elsa se broer is ’n plaaslike besigheidsman en gesiene lid van die gemeenskap. Hulle het, soos voorheen, nie langs dieselfde vuur gesit as die gesprek – soos amper altyd gebeur – gaan draai het by politiek en godsdiens nie. Brand het aanvanklik gesê hy dink hulle moet by die huis bly hierdie Desember, maar hy en Elsa het weer daaroor gepraat. Hulle beplan nou om dalk vir ’n week of so Mosambiek toe te gaan saam met Brand se jonger suster en haar man. Kersfees sal weer by Elsa se ouers in Bloemfontein wees, en Nuwe Jaar by sý ouers in Middelburg.

Brand praat gereeld oor die tyd wat hy in die Ooste gespandeer het. Elsa luister geduldig, al kan sy self al die stories teen hierdie tyd in presies dieselfde woorde vertel. Soms kom iemand kuier waarmee hy bevriend was in Taiwan. Hulle gesels dan tot laat in die nag oor tifone, besoedeling, epidemies, Engelse klasse en Chinees. Brand het na sy terugkeer uit Asië ingeskryf vir ’n korrespondensie kursus in Chinees by UNISA; hy vind dit ironies dat hy nou beter Chinees praat as toe hy in Taiwan gewoon het.

Toe Brand verlede jaar veertig geword het, het hy vir homself ’n grassnyer gekoop. Elsa het gelag toe hy die dag die voorstel maak, maar hy’t gereken die tyd het aangebreek om te kyk of hy nog een kan gebruik (tuindienste het tot op daai stadium die nodige instandhouding gedoen).

Brand is toegewyd aan sy vrou en hulle kinders. Hy hoop Martie gaan ’n argitek of ’n veearts word. Hoewel dit nog bietjie vroeg is om te sê, reken hy klein Ben mag dalk ook ontwikkel in ’n skrywer. Hy vertel dit vir almal wat wil hoor, en lyk elke keer verleë as Elsa vir hom sê, “laat die kind toe om sy eie mens te word”. Sy gewone reaksie – hy kan dit in die seun se oë sien. ’n Skrywer, of – wie weet? – dalk ’n dominee.

* * *

Stella Adler het gesê: “Life beats down and crushes the soul. Art reminds you that you have one.”

Brand Smit reken: “Die toekoms wag vir dié wat geduldig genoeg is om eers die betekenis van die lewe uit te werk.”

______________________