Strofes, Joernale, Stukkies Papier En ‘n Vlietende Gedagte Oor Niks
“Om te skryf is die doel van my lewe. Om te skryf is ook die middel tot hierdie doel. Hoe meer ek skryf, hoe meer wil ek skryf. Dis al wat belangrik is.”
***
Die rol van die gedig is (vir my), soos die joernaal, om te amuseer, om te laat wonder, om insig en begrip te bevorder oor die lewe, maar spesifiek my eie lewe.
Die gedig, soos die joernaal, is ‘n verwysingspunt. Dit vertel hoe ek gekom het waar ek is vandag, en hoe dit gebeur het dat ek is wát ek is, op hierdie spesifieke tydstip van my lewe. Maak dit werklik saak waar ek is, of wat ek doen? Solank ek ‘n pen en ‘n stuk papier het, kan ek uitdrukking gee aan wie ek is, op ‘n bepaalde tyd, in ‘n bepaalde konteks, en derhalwe weet dat ek lewe. Dan weet ek ook dat elke dag ‘n voortsetting is van één lewe, en dat hierdie lewe alles bevat wat ooit opgeteken is – in joernale, op stukkies papier, en op rekenaar-printouts. Ek weet ook dat hierdie lewe insluit alles wat was, maar ongeformuleerd en onopgeteken gebly het.
Al die strofes en stories oor liefde, geloof en hoop, en oor teleurstellings, twyfel en wanhoop, lei uiteindelik tot die belangrikste van alle kennis: die kennis van WIE EK IS.
***
Nihilisme was ‘n beweging in die regte rigting, maar dit neig om te ver te gaan. Hoekom lees of hoor ‘n mens nooit van gelukkige nihiliste nie? As jy alles rasionaliseer en geen geloof behou in wat jy nie kan sien nie, gaan niks jou ooit gelukkig maak nie. Watse tipe lewe is dit? Miskien een wat naby aan ‘n rasionele waarheid is, maar so what?
[Goed bedoelde kritiek wat later soos ou grondboontjiebotter aan my eie verhemelte sou vassit.]
~ Uit die Groen Notaboek
