Storie van twee reisigers

Vrydag 27 Maart 1998

Laat ek jou ’n storie vertel van twee reisigers. Die een ou kom by ’n kruispad. Hy kyk in elke rigting, stap na die kassies wat by die begin van elke pad staan en neem ’n brosjure van elk. Dan lees hy elkeen sorgvuldig deur. Na ’n tyd gaan sit hy eenkant op ’n rots en vra hardop vir homself: “Watter een van die paaie moet ek vat?” So hou hy aan met dink, en die tyd gaan verby.

Die seisoene kom en gaan, en steeds sit hierdie ou op sy rots by die kruispad. En hy dink. Elke nou en dan haal hy ’n notaboekie uit sy hempsak en maak ’n paar aantekeninge. Dan dink hy nog. Van tyd tot tyd staan hy op, stap vir ure lank in die rondte, stop elke nou en dan, maak weer ’n paar aantekeninge, en gaan sit weer.

So sien hy ander mense kom en gaan. Soms sien hy iemand indraai by ’n pad, net om ’n paar maande later te sien hoe dieselfde persoon weer uitstruikel met ’n paar kneusplekke, ’n wond of twee, en miskien ’n hemp of ’n baadjie wat ’n skeur weg het. Dan sal hierdie persoon ’n rukkie staan, sy asem terugkry, en by ’n ander pad indraai. Die ou op die rots sal net sy kop skud, en weet hy doen die regte ding om eers te dink oor dinge. Hy wil tog nie soos daai ou opeindig nie, sal hy altyd reken. Later sal hy weer al om die rots stap, in dié rigting kyk, in daai rigting kyk, notas maak, en weer gaan sit, gesig in die hande.

Toe, een helder herfsdag, verskyn daar ’n ander ou op die horison. Toe hy by die kruispad kom, gaan sit hy op sy hurke. Hy snuif vir ’n oomblik die lug, kyk in ’n oostelike rigting, dan noord, en dan wes. Dan staan hy op, gooi sy sak weer oor sy skouer, en draai by een van die paaie in.

Die man op die rots hou hierdie ou dop. Soos die man wegstap, klap die ou op die rots sy tong en skud sy kop. Hoe kan hierdie man dan sommer net so besluit, wonder die ou, terwyl hý al jare daar sit en peins oor watter pad hy moet vat? Na soveel voorlopige konklusies, soveel stories wat mense hom vertel het oor die verskillende paaie, kan hy nog steeds nie besluit watter pad die beste is nie!

Vererg spring die ou toe van sy rots af en roep agter die man aan. Die man, wat alreeds ’n ent weg is, gaan staan, en kyk om. Die sitter drafstap hom tegemoet.

“Wag ’n bietjie … ek het jou dopgehou van daai rots af,” sê hy toe hy by die ou aankom, “en ek het gesien hoe jy hier arriveer. Ek het gesien hoe jy die lug snuif, en sommer net ’n rigting instap. Ek sit al hier vir jare lank. Ek weet alles van al die paaie af. Ek het al baie mense gesien kom en gaan, en ék kan nog steeds nie met sekerheid sê watter pad die beste is vir my nie. Meeste mense huiwer ten minste ’n dag of twee voor hulle ’n pad kies. Maar jý? Jy snuif die lug en begin net te stap! Hoe kan jy so seker wees van jou keuse?!”

Die ou kyk na die sitter, sug dan, en sê: “Jy sit nou al vir jare op daai rots. Jy’t al die opsies oor en oor bedink, heel moontlik al boeke vol aantekeninge gemaak. Maar wat het jy van al die jare se sit en dink? ’n Rots, en dis nie eens jou eie nie!

“Soos jý weet ek daar’s struikelblokke in hierdie pad wat ek gekies het. Daar wag mooi dae … en daar wag heel waarskynlik onweersdae, omstandighede wat my sal laat twyfel of ek die regte pad gekies het. Elke pad het hierdie elemente van onsekerheid.

“Die idee,” gaan die ou voort, “is nie om die pad te kies met die minste struikelblokke nie. Die idee is om jouself toe te wy aan ’n pad ongeag die struikelblokke, ongeag die risiko’s, ongeag mooiweer of onweer. Om jouself toe te wy aan ’n pad tot jy die einde van daai pad bereik het.

“As jy jouself toewy aan ’n pad, aanvaar jou medereisigers jou. Dan weet jy: jy hoort op daai spesifieke pad, op daai spesifieke tyd.

“By elke kruispad sien ek mense soos jy, mense wat vir jare lank op ’n rots sit en met hulleself argumenteer oor watter pad die ‘regte’ een is. Daar is nie ’n absolute ‘regte pad’ nie! Wat daar is, is toewyding. En dít kan enige pad die regte pad vir jóú maak.”

Die sitter laat sak met die hoor van hierdie woorde sy kop, en staar peinsend voor hom in die stof. Toe hy weer opkyk, is die ander ou reeds oor die eerste heuwel.

* * *

’n Paar dae later kom ’n afgematte reisiger by die kruispad aan. Hy sien eenkant ’n rots, en stap soontoe. In die lig van die laatmiddagson vang sy oog ’n inskripsie: Die regte pad vir jóú, is die pad waaraan jy toegewyd is. En as jy toegewyd is aan ’n pad, is dit die regte pad vir jou.

______________________