SKROEIENDE SOSATIE
[‘n Klein episode in die hoofstraat van Fengshan bied my die geleentheid om ‘n bietjie weg te breek van planne en persoonlike politiek.]
———————
Almal maak foute, al probeer ons hoe hard om mekaar tegemoet te kom. Onsteltenis was egter so erg soos mens kan verwag toe die vrou vanaand by die fried food-stalletjie nie verstaan toe ek vir haar in Chinees vra hoeveel kos die tofu-sosatie nie.
My Chinees is ver van vlot af, maar ek kommunikeer suksesvol elke dag met volwassenes en studente in uiteenlopende situasies. Ek kan oor dit-en-dat gesels met kollegas by die werk, ek kan nuwe skedules bespreek met ‘n skoolhoof, en maklik ‘n uur lank met sesjariges gesels en grappe maak (in Chinees, as ek eintlik betaal word om Engels te praat). “Hoeveel kos dit?” is ‘n frase wat mens gewoonlik onder die knieg het na die eerste week in Taiwan. Om dan na ‘n paar jaar nie verstaan te word nie wanneer jy ‘n frase gebruik wat ten minste jyself gedink het jy bemeester het, is onstellend vir die ernstige taalstudent.
My uitspraak van “hoeveel kos die tofu goed” was soos meeste van my Chinees sekerlik nie een honderd persent akkuraat nie. Maar watse ander inligting kan enige mens denkbaar by haar soek as hulle die stokkie met die tofu optel, en vraend in haar rigting sê, “blaf-blaf”? Om te sê “dit kos dertig” moes ‘n instinktiewe reaksie gewees het op enige klanke wat uit my mond gekom het! Maar in plaas van “dertig” verklaar sy toe dat sy my nie verstaan nie.
Rekende toe dat sy miskien nie enige klanke uit my mond verwag het nie, en terselfdertyd verskrik was omdat sy vir ‘n oomblik gemeen het sy moes Engels praat, herhaal ek dit toe weer. Stadiger. Weereens glimlag sy asof ek simpel is, en vra vir die ouer dame wat langs haar die kos in die olie gooi, “Antie, die vreemde ou het nog nooit gepraat nie, nou praat hy. Wat sê hy?”
Ek probeer toe weer. En weereens kan sy nie uitpluis dat ek heel moontlik nie vir haar vra na die geskiedenis van olierige kos in Noordoos-Asië nie, maar net na die prys van die vervlakste tofu-sosatie. Toe sy my dus vir die derde keer aankyk met ‘n goed-bedoelde maar dom glimlag, toe kook my olie genoeg om die sosatie daar en dan in die straat te verskroei.
Ek meen toe om ‘n muntstuk uit my sak te ruk, maar slaag toe net daarin om my sleutels in die bak hoenderpote te gooi.
Briesend en terselfdertyd verleë hou ek toe ‘n oomblik later wel ‘n muntstuk triomfantlik in die lug en skree, “Qian, qian! Duo shao qian?!”
Die ouer tannie draai toe vir ‘n oomblik weg van ‘n ander ou se bacon-en-vienna snack in die kokende olie, en vertaal my poging as “duo shao qian”, oftewel “hoeveel geld”.
“Dertig,” sê die jonger vrou toe met drie vingers in die lug.
Verleë krap ek toe my sleutels tussen die hoenderpote uit, en begin my groen plastiekbakkie vol tofu-sosaties te pak. En omdat ek toe in ‘n slegte bui was en dit nodig gehad het, ook ‘n paar happe seekat.
“Het jy nog nooit ‘n foreigner hoor Chinees praat nie?” kap ek toe in my beste hoog-Engels oor die bondels boontjies en blomkool.
Maar ‘n rooi gloed het reeds oor die vrou se wange begin dans, en ek los toe maar my drama. Miskien, reken ek toe, was sy net ingedagte, en toe ek skielik begin praat, het sy haar bes probeer om te verstaan wat sy moontlik gedink het was Engels.
Die laaste glimlag het egter aan haar behoort. Ek verkies my geoliede blomkool en tofu met net so ‘n snarsie rooi peper, en ek het anderpad gekyk toe sy die speserye vasvat…
(Saterdag, 30 Augustus 2003)
___________
