SELF-ONDERHOUD
Die een ou vra die ander ou, “Wat wil jy met jou lewe doen?”
Die ander ou antwoord, “Ek wil skryf.”
Waarop die eerste ou vra, “Wel, wat het jy nodig om meeste van jou tyd aan skryfwerk te kan spandeer?”
Antwoord die ander ou: “‘n Woonstel, ‘n goeie rekenaar, en werk wat my sal dwing om so nou en dan vars lug te kry, en wat my van genoeg geld sal voorsien om al my uitgawes te dek, maar wat ook nie te veel van my tyd sal opneem nie. Sê so drie of vier ure per dag.”
“Wanneer, en waar meen jy om hierdie lewe jou eie te maak?”
“Ek het gedink oor twee of drie jaar as ek al my skuld afbetaal het, en ek myself kan vestig op ‘n plek soos Stellenbosch, of Paarl, of langs die see.”
“Twee of drie jaar?”
“Ja, ek reken dit sal my genoeg tyd gee.”
“Beskryf jou huidige situasie vir my.”
“Ek het ‘n woonstel in ‘n stad in die suide van Taiwan. Die omgewing het karakter – die tipe atmosfeer wat ‘n mens kan inspireer om te skryf. Ek is redelik gemaklik hier. Ek het ‘n TV en ‘n videomasjien, ‘n rekenaar, ‘n goeie radio, baie musiek, boeke en so aan.”
“En jou werkskedule?”
“Dis flexible. Ek hoef eintlik net omtrent tien ure per week te werk vir my legal employer, maar ek gee heelwat ekstra klasse by ander skole. So gewoonlik is ek besig van omtrent nege uur in die oggend tot soms tien uur in die aand.”
“Hoeveel ure per dag moet jy werk om jou verpligtinge na te kom, en jou basiese uitgawes te dek?”
“Ek sou sê so drie of vier ure per dag. Dan verdien ek nog steeds so agt, nege duisend rand per maand.”
“En wat sou jy sê stimuleer jou kreatiwiteit?”
“Verveling. Die tye wat ek nog die meeste geskryf het, en ek sou sê moontlik die beste goed geskryf het, was tye wat ek verveeld was; wanneer ek nie net ure gehad het om stories uit te dink nie, maar dae en weke van doen net wat ek wil. Dit was ongelukkig ook tye wat ek niks geld gehad het nie. Niks. Ek kon nie eers behoorlike sigarette bekostig nie.”
“So, jy’t die woonstel, die rekenaar, die klein luxuries wat die lewe gemakliker maak, en jy’t die tipe werk wat jou heelwat vrye tyd kan gee as jy die risiko wil neem om minder geld te verdien, maar wat jou steeds genoeg van ‘n inkomste sal gee om jou skuld elke maand te betaal en goed te leef. Wat verhoed jou dus om nóú die lewe te lei wat jy hoop miskien oor twee of drie jaar ‘n werklikheid sal word?”
“Wel, die feit dat ek skuld het, en dit eers wil afbetaal. En dan om genoeg geld te hê om myself te kan vestig êrens.”
“So, die feit dat jy skuld het maak dat jy jou droom lewe, iets wat vir meeste mense buite hulle bereik is selfs al hét hulle geweet wat dit is, uitstel vir twee of drie jaar?”
“Ja, dis waarop dit neerkom.”
Die vraagsteller het genoeg gehoor. “Jy weet soos wat klink dit vir my?” begin hy dan met sy slotrede. “Dit klink soos iemand wat ‘n verskoning soek sodat hy nie nou ‘n quantum leap hoef te vat om vandag reeds die lewe te begin wat hy van droom nie.
“Hoekom sal so ‘n mens verskoning soek om nie reeds vandag stappe te neem om sy ideale lewe te aktiveer nie, selfs al is dit so duidelik binne sy bereik? Omdat hy bang is. Hy’s bang hy misluk. Hy’s bang hy vind uit dat hy nie rêrig ‘n skrywer kan wees nie. Hy’s bang dat hy dalk aan homself moet erken dat hy ‘n fake is, ‘n pretender by die hekke van die Gemeenskap van Skrywers en Denkende Mense. Hy’s bang om aan hierdie hekke te ruk, net om te sien hoe sy pogings teruggegooi word in sy gesig as te onbeduidend vir ernstige oorweging. Dat hy gevra sal word om liewers op ‘n ander plek ‘n tuiste te loop soek. Om nie voor te gee om te wees wat hy nooit kan wees nie.
“Hy is bang hy vind dalk uit dat hy niks meer as net ‘n gewone ou is nie. Dat hy eventually met sy stert tussen sy bene sy pad sal moet vind na ‘the real world’ toe, waar hy ‘n ‘regte werk’ sal moet kry ‘soos almal’. Hy is bang as hy actually die sprong moet vat en homself moet toewy tot die lewe van ‘n voltydse skrywer, hy dalk sal vind dat sy geloof in sy vermoëns as ‘n woord-smid, ‘n digter, ‘n skrywer, altyd net ‘n illusie was.
“Hy’s bang hy besef dalk dat alles wat hy nog altyd gehoop het hy is, en wat hy kan doen en vermag in die lewe, bokant sy vuurmaakplek is. Dat hy homself oorskat het. En as hy misluk in hierdie groot ideaal, dan sal hy moet erken dat hy sonder sy illusies soveel minder is as wat hy altyd gehoop het die geval sou wees. So nou stel hy dit uit. ‘Môre,’ sê hy. ‘Oor twee of drie jaar as my skuld afbetaal is,’ sê hy.
“Maar wat van as hy risiko’s neem – soos om minder klas te gee en meer ure elke dag as ‘n skrywer te spandeer, en hy vind uit dat daar tog substansie is, dat sy hoop nie op illusies gebou was nie? Wat van as hy vind dat hy nie net die uitlewing van hierdie ambisie as genotvol en vervullend ervaar nie, maar dat ook die finansiële risiko’s wat hy nou sal moet neem, op die langtermyn finansiële belonings mag bring? Sal hy nie dan die dag herdenk wat ook hy uiteindelik gesê het ‘môre is te laat vir my’ nie?
“Wat het so ‘n man… wat het jý om te verloor anders as enige illusies wat jy dalk mag hê? En het jy nie baie meer om te wen as jy hierdie risiko neem nie?
“Ek kan sê die lewe is kosbaar, en soms korter as wat ‘n mens verwag. Dat ‘n mens geleenthede, soos die situasie waarin jy nou is, moet aangryp; dat jy jonk is, en as jy dalk illusies oor jouself het om te verloor, dat jy net ‘n beter mens sal wees sonder dit.
“Maar ek wil jou nie motiveer met sulke idees nie. Ek sou jou wel wou oorreed om nie twee of drie jaar te wag voordat jy die lyn verskuif tussen droom en werklikheid nie. Om reeds nou al uit te vind dat jy moontlik reg was al die tyd: dat jy kán wees wat jy altyd gehoop en geglo het jy kan word. Ek sal jou inderdaad graag wil oorreed om die kans te waag en te vind dat jou geloof in jouself geregverdig is. Dat daar geen illusies is nie; dat jou droom werklik is.”
(6 Februarie 2000)
