Oomblik zero – waaroor was die rumoer

DINSDAG 23 MAART 2004

My oomblik zero was ’n kil wintersdag in laat Julie 1995. Ek het die dag begin langs ’n snelweg buite Port Elizabeth, rekende ek behoort “binne die volgende uur” ’n lift te kry Kaap toe. Agt ure later het ek nog steeds gewag, dié keer op ’n bankie oorkant die stadsbiblioteek, met ’n buskaartjie wat ek gekoop het met my laaste aanspraak tot aardse rykdom. Toekoms was ’n konsep waaroor ek skaars twee woorde saam kon vleg – en die werklikheid het geknaag aan my agterent soos ’n dol straatbrak …

WOENSDAG 24 MAART 2004

Waaroor was die rumoer?

Ek voel die vreemde begeerte om myself te vra hoekom ek so driftig was om terug te gaan Suid-Afrika toe teen die begin van Februarie. Hier is die vier hoofredes:

1. Ek het ’n probleem gehad daarmee om myself te onderwerp aan toetse om te bewys ek is gesond genoeg om in hierdie land te bly.

2. Ek het geweet om langer in Taiwan te bly sou beteken dat ek weer nuwe klasse moes begin, en derhalwe weer van vooraf moes begin funksioneer in ’n omgewing waar ek as ’n naamlose buitelander (oftewel dan “Mr. Brown”) myself moes onderwerp aan ’n arbeidsverhouding waar ék die een sou wees wat my arbeid verkoop, en derhalwe moes optree volgens ’n bepaalde vooraf opgestelde idee van die “foreign teacher”.

3. Ek het besef dat ek net-net genoeg geld in die bank gehad het om binne enkele weke huis toe te kon gaan.

4. Geloofwaardigheid (en moontlik selfrespek). Ek het geweet as ek moes besluit om nie die plan deur te voer nie (soos die geval was aan die einde), sou ek as hoofkarakter in my storie weereens moes toegee, “Ek het toe besluit om tog aan te bly,” eerder as “Rewolusie! Die Skrywer Gaan Huis toe!” Ek het desperaat nodig gehad om iets in blydskap uit te roep, eerder as om iets anders in skaamte te fluister …

Dis soos wat ’n mens behoort te verwag: Die lewe is ’n wilde merrie – sy spring bont, en jy moet sorg dat jy in die saal bly.

______________________

Antieke idee – gees van idees

MAANDAG 15 MAART 2004

’n Herontdekking van ’n antieke idee: Plato se filosofie van “idees” wat universeel en tydloos is, die “oorspronklike realiteit” en die “empiriese werklikheid” as manifestasie van die oorspronklike “vorm” of idee. “Ek, nou” is dus ’n manifestasie van die oorspronklike realiteit/vorm/patroon/idee naamlik “mens”.

* * *

Ons is aan die begin net idees in mekaar se koppe. Eers later word ons meer konkrete manifestasies van wie ons werklik is.

SATERDAG 20 MAART 2004

Die gees van idees

To grapple with someone’s ideas is to engage with the spirit of that person.

Can it be said that to exist without proof is still to exist?

To have existed, without proof in the present for past existence, is still to have existed.

“Proof of existence”, in the sense of something that had been created by the one that existed, is an object in itself yet related to the creator of the proof – proving the past existence of something or someone, but also having an existence of its own.

It can therefore be said that Plato’s works are proof of his past existence, but the “Works of Plato” are also objects that exist independently of its creator … in practice if not in theory. (Ek kan “Plato” se idees lees sonder om bewus te wees van “Plato-as-skepper-van-idees” of om ooit die mens “Plato” te geken het.)

Nietemin, om betrokke te wees met iemand se idees, is om te kommunikeer met die “gees” van daai persoon.

______________________

Sestig woorde – slange – beskawing en barbare

DONDERDAG 11 MAART 2004

Sestig woorde

’n Groot huis en ’n groot kar is nie my styl nie. ’n Drie slaapkamer huis in ’n stillerige voorstad of ’n groterige dorp, en ’n lewe toegewy aan familie, liefdadigheid, studie en kreatiewe werke (spesifiek die Geskrewe Woord). Dit is wie en wat ek is; waar, en hoe ek wil leef; en wat ek met my lewe wil doen.

(Sestig woorde – ’n dekade om dit uit te sorteer onder al die moontlikhede)

SATERDAG 13 MAART 2004

Slange vervel

Om te ontwikkel – te evolve – beteken om soos ’n slang te vervel (reeds gesê, ek weet).

Wat dit in die praktyk beteken, is dat opinies verander; so ook oortuigings, aspekte van identiteit, haarstyl, kleredrag.

Soms gebeur dit ook dat disfunksionele verhoudings agtergelaat word, verhoudings wat nie meer is wat dit aan die begin was nie, en wat nie meer die waarde het wat dit op ’n vroeër stadium van jou lewe gehad het nie. Dit is soms ’n noodwendige gevolg van persoonlike ontwikkeling, en moet as sodanig aanvaar word deur die persoon wat ernstig is daaroor om nie sy eie ontwikkeling as ’n mens te inhibeer nie, en wat in eerlikheid verhoudings wil aanknoop en handhaaf.

MAANDAG 15 MAART 2004

Oor beskawing, en barbare

Sommige mense argumenteer dat mens moet doen wat jy moet doen om jou eie lewe die moeite werd te maak. In die praktyk kom dit neer op botsende belange, destruktiewe wedywering, en soms wedersyds vernietigende oog-vir-oog aksie-en-reaksie. Konstruktiewe wyses waarop duisende, selfs miljoene individue in een geografiese area die hoogste beginsel – om eie lewe die moeite werd te maak – hanteer, word “beskawing” genoem.

[Die wêreld, of wêrelde, wat as “beskawing” kwalifiseer in die algemene begrip van geskiedenis en samelewings, was gebou en word steeds gebou op “ooreenkomste”. In menige gevalle kom hierdie sogenaamde ooreenkomste daarop neer dat een persoon ’n ander uitbuit ter wille van eersgenoemde se oorlewing; ’n uitbuiting wat soms lei tot die vernietiging – direk of indirek – van die uitgebuite persoon se lewe. Oordeel kan ook gevel word teen groepe, gemeenskappe, maatskappye, en politieke en religieuse instellings wat mense uitbuit ter wille van die oorlewing van ’n magtiger minderheid.]

________________

Oor persoonlike lêers

DINSDAG 2 MAART 2004

Ons almal het “files” oor mekaar. My file oor “Yolanda Y” sal byvoorbeeld sê sy’s dit en dat, sus en so, tree so op in hierdie en daardie situasie. “Sy’t hierdie sterkpunte, en hierdie swakhede. Pasop vir dit of dat …”

Ons almal verwag dat die mense wat ons ken en wat ons vriende noem (en oor wie ons derhalwe “files” het) die persone sal wéés wat ons dink hulle is om ons vertroue in hulle te fasiliteer.

Soms neig ons “file” weergawes van mense egter na simplistiese karikature, met sekere aspekte van die persoon beklemtoon vir die eenvoudige rede dat dit ons beter pas as wat die geval is met ander aspekte.

Waak daarteen – niemand hou daarvan om tot ’n karikatuur gereduseer te word nie.

Dit is wel so dat ons soms hierdie proses van vereenvoudiging van onsself onbewustelik aanmoedig. As ’n persoon onseker is oor sy of haar identiteit, is dit gewoonlik gerusstellend as mense sê, “Jy sê mos altyd (X, Y of Z),” of “Jy raak mos altyd kwaad as iemand so iets doen,” of selfs, “Ek het geweet jy gaan dit sê (want jy sê dit altyd).”

Vir my irriteer dit as mense ’n eenvoudige karikatuur van my skets. Ek weet ek doen dit soms van myself (moontlik om wie ek is meer draaglik te maak vir my geselskap?), so ek kan dus nie altyd mense kwalik neem as hulle saamspeel nie. Die waarheid is egter dat ek die reg voorbehou om anders te voel as gister, anders op te tree as eergister, en ander belangstellings te hê, of te fokus op ander dinge as wat ander se “files” oor my dikteer.

Natuurlik moet daar ’n graad van ooreenkoms wees tussen wie jy vandag is, wat jy sê, wat jy doen en hoe jy optree, en wat gister die geval was. Maar hierdie dinge is ook vloeibaar, en verander met tyd.

’n Meer ideale situasie sal wees een waar ons ons “files” oor mekaar oophou, met breë kantlyne vir nuwe inligting en geestesoog foto’s wat tred hou met die tyd. Die alternatief is dat ons “vriende” is met karikature wat hoofsaaklik ons eie handewerk is, en wat ons met die verloop van tyd mag vind nie meer “betroubaar” is nie, omdat hulle “skielik” nie meer sus of so lyk, of dit en dat sê of op bepaalde wyses optree of reageer in hierdie of daardie situasie nie.

______________________

KOM-DIK Dokument 001

WOENSDAG 25 FEBRUARIE 2004

Besigheid waaraan ek nie meer as vyftien ure per week wil spandeer nie. Ek kan sestig ure per week aan besigheid spandeer, en ek kan sestig keer meer geld maak as wat die geval sal wees as ek net een uur per week daaraan spandeer. Hoe meer ek skryf, hoe meer skryf ek. Hoe meer ek skryf, hoe beter skryf ek; hoe beter ek skryf, hoe nader is ek aan wie ek werklik wil wees. Plus, hoe meer ek skryf, hoe meer idees kry ek. Dus, hoe minder tyd ek aan besigheid hoef te spandeer, hoe beter.

[…]

Ek is moeg daarvoor dat ek altyd kreatiwiteit en persoonlike oortuigings aan die een kant in gelid stel, en aan die ander kant die uiterste noodsaaklikheid aan ’n inkomste. Ek is moeg daarvoor om hierdie twee kante teen mekaar af te speel asof dit een of ander agtiende-eeuse veldslag is, met ek wat met my koppie tee en my valletjies kostuum op die heuwel staan, my wit sakdoekie laat val, en dan sien hoe die twee kante mekaar bevlieg.

Hier is die harde werklikheid: Ek is die een wat elke keer verloor.

Hierdie sogenaamde kommersiële diktatorskap is noodsaaklik, maar dit kom tog voor asof dit ’n klassieke manifestasie is van die konflik wat ek aanblaas tussen kreatiwiteit – spesifiek skryfwerk – en besigheid.

Waarop dit neerkom, en waarop dit sal neerkom vir die volgende 97 dae, is dat wanneer ek agter die rekenaar kom sit, ek nie op my Skryfwerk 2004 folder sal kliek nie, maar op ’n besigheidsverwante dokument. Oproepe sal gemaak word, en aksies sal geneem word wat uiteindelik op die resultaat sal uitloop van geld in my sak en in my bankrekening.

[…]

Wat is dan die probleem? Of miskien moet ek ’n meer spesifieke vraag vra: Wat presies is die doel van hierdie sogenaamde kommersiële diktatorskap? Die doel is, in die eerste plek, om ten minste 100 000 Nuwe Taiwan dollar bymekaar te kry sodat ek my lewe kan voortsit in Suid-Afrika.

[…]

Ek beweeg so stadig soos ’n kontinentale ysblok op pad na die Noordpool. Daar is dinge wat my motiveer, anders het ek nie nou hier gesit en tik nie, maar daar’s geen vuur nie. Ek is soos ’n kommunistiese regering vyftig jaar na die rewolusie.

Ek is net geïnteresseerd daarin om so spanningloos as moontlik deur elke dag te kom, en ek sou vir weke aaneen in my woonstel gebly het as dit nie was vir die volgende redes nie: 1) my sigarette raak op; 2) ek koop nooit die tipe kruideniersware wat my in staat sal stel om vir myself kos te maak nie, so ek moet elke dag uitgaan vir aandete; 3) ek móét elke dag behalwe Woensdag en Sondag ten minste een keer uitgaan om klas te gee; 4) soms raak ek lus vir koffie in die dorp, en dan sal ek iemand oortuig om my geselskap te hou terwyl ek myself vet slurp aan die een romerige koffie na die ander; 5) my bokse ontbytpap loop elke tien dae of so leeg, wat my dan noodsaak om na die Carrefour te ry vir nuwe voorraad; en 6) ek gaan fliek ten minste een keer elke twee weke.

Wat doen ek as ek in my woonstel is? Hoe lyk my gemiddelde dag? Ek begin altyd met ontbyt (die hoofrede hoekom ek opstaan in die oggend), drink ’n koppie koffie (die tweede rede hoekom ek opstaan), en rook my eerste sigaret vir die dag (die derde rede). Afhangende van waarmee ek op die rekenaar besig was voor ek gaan slaap het, sal ek óf die rekenaar aansit terwyl die water kook, óf wag tot na ontbyt. Wanneer ek myself dan gemaklik maak agter die rekenaar, is my roetine ewe voorspelbaar. Eers sal ek ’n CD kies. Dan sal ek die skyf in my Aiwa Discman sit, die Dynamic Super Linear Bass knoppie een keer druk (nie twee keer nie), en as die CD gelees is, die Play knoppie druk. Dan sal ek kliek op die Freecell icon en een of twee games speel voor ek op die Skryfwerk 2004 folder kliek. Oomblikke later sal ek DIE SKRYWER wees, met Abba of Juluka of ZZ Top wat in my ore blêr. Na omtrent 45 minute sal ek opstaan en vir my tee gaan maak, wat ’n voorvereiste is vir my tweede sigaret van die dag. (Ek is baie gesteld op my gesondheid; ek drink altyd iets tydens my smoke breaks, gewoonlik tee of water.)

So sal my dag aankarring tot ek honger raak. Miskien sal ek dan kafee toe stap vir ’n boks dumplings of iets met rys en hoender, of na die supermark waar die meisie hoenderdye braai in die aande, en vir my kitsnoedels en ’n blikkie tuna koop. Na ek my ete genuttig het, sal ek voortgaan met my projek tot ek weer honger raak, of tot ek moet gaan stort om gereed te maak vir ’n verskyning as “English Teacher” gedurende die vroeë aand-ure.

Na my terugkeer van die aandklasse – gewoonlik so na agt – sal ek eers weer ’n koppie tee drink en ’n sigaret rook, dié keer in die kombuis. (Hoewel dit mag blyk dat ek hiermee impliseer dat dit slegs my derde sigaret van die dag sal wees, sal ek inderdaad omtrent al deur ’n halwe pakkie gewerk het. Ek het net gedink dit sal miskien vervelig wees om te beskryf wanneer, wáár en hóé ek elke sigaret rook.)

As ek vir ’n paar ure uithuisig was, het ek heel waarskynlik my rekenaar afgeskakel, wat beteken dat ek na my tee en sigaret in die kombuis weer die rekenaar sal aanskakel. Ek sal dan my oorfone in die Diskman steek, ’n ander kompakskyf kies uit my versameling, weer die Dynamic Super Linear Bass knoppie een keer druk, en weer Play na die skyf gelees is. Dan sal ek weer op die Freecell icon kliek, moontlik dan die F4-sleutel om te kyk hoeveel games ek al agtereenvolgens gewen het, en dan F2 vir New Game.

Na twee of drie rondtes sal ek weer die Skryfwerk 2004 folder oopmaak, en dubbelkliek op die dokument waarmee ek besig was voor ek moes uitgaan. Na ’n uur of so sal ek opstaan en weer ’n smoke break vat.

Nou, my sigaretpouses mag dalk vir die gewone leser voorkom as ’n onnodige mors van tyd en gesondheid. Laat my dan toe om u te vat deur ’n tipiese amper kwartier waarna ek so liefderyk verwys as ’n “smoke break”.

Bedags rook ek gewoonlik by die antieke kassie in my sitkamer, teen die muur oorkant die vensters. Vandaar sou ek kon uitkyk by die vensters as dit nie was vir die gordyn wat ek altyd toemaak gedurende die dag nie (ek trek dit wel oop wanneer ek gaan slaap). Ek kan ook vanwaar ek staan die kalender sien wat agter die voordeur hang. (Op die kalender is tans ’n paar dae afgemerk, onder andere 23 Februarie, die eerste dag van die Kommersiële Diktatorskap, en Vrydag 4 Junie, die dag wat ek beplan om Taiwan te verlaat, met sakke vol Monopoly geld wat ek op Donderdag 3 Junie gaan steel by die naaste supermark.)

Na ek vlugtig in die halfskemer na al die bekende ornamente en muurbehangsels gekyk het, sal ek ’n sigaret uit die pakkie haal, en ten spyte van die feit dat daar ’n hele houer vol aanstekers voor my staan, eers rondsoek vir my lighter. Daar sal ek dan staan, my tee drink, en rook intrek en uitblaas vir tien tot vyftien minute. (Ek rook duur, bruin sigarette wat langer rook as kommersiële witbuise.)

Soos ek daar staan met my tee en my sigaret, sal ek dink aan my lewe. Ek sal onder andere dink aan die betekenis van my bestaan en of ek geroepe is om een of ander doel te dien, of ek sal maniere bedink hoe ek genoeg geld kan maak om “huis” toe te kan gaan. Natuurlik wissel die gedagtes met elke smoke break, en om tred te hou, lê my notaboek altyd oop op die kassie.

Ook op die kassie staan ’n houer met penne, waarvan ten minste een of twee kan skryf. Hierdie penne is egter meestal van ornamentele waarde. Die pen waarmee ek my daaglikse notas maak, is die enigste een wat op daai stadium waarde het. (Ek het Maandagaand tydens ’n klas ontdek dat ’n leerling besig was om te speel met die blou pen wat ek gekoop het in Suid-Afrika tydens my vakansie verlede Julie. Die pen was leeg geskryf, so ek het dit twee weke gelede geskenk aan die penhouer in die klaskamer. Toe ek sien hoe die leerling die pen verniel was ek onmiddelik ontsteld, en hoewel ek nie so ver sou gegaan het om die kind ’n klap te gee nie, het ek opreg jammer gevoel vir die pen. Ek was bewus van die feit dat dit nie normaal was nie, maar dit het gevoel asof ek die pen verraai het. Ek het dit oorweeg om die pen weer huis toe te vat, maar besluit toe om dit eerder in die skoolkombuis se asdrom te neuk.)

Dit behoort dus duidelik te wees dat om te rook en tee te drink kardinale faktore is in die ontwikkeling van idees, en om vir kort periodes te fokus op sekere probleme in my lewe sonder die steurnis van ’n sleutelbord onder my vingers.

Wel, die Abba CD is klaar, my gat is seer gesit, en ek is dors en lus vir ’n sigaret. Ek is tevrede met wat ek gedoen het die afgelope sestig minute: Ek het manjifiek daarin geslaag om ’n opstel van die Kommersiële Diktator te kaap vir ’n paar gedagtes van my eie. As ek so aanhou, kan die toekoms net rooskleurig wees.

Ek sal wel die tabel met planne en die idees wat my ryk gaan maak in Suid-Afrika, moet sny wanneer ek hierdie stuk verwerk vir ’n literêre projek …

______________________