Ou spoke, of slapende honde

DINSDAG 20 OKTOBER 2015

Gister bring ’n ou gedagte in nuwe klere: My Vier Mislukkings:

1. [Beter Chinese taalvaardigheid]

2. [Meer geld]

3. [Permanente verblyfreg in Taiwan]

4. [Bestuurslisensie in Taiwan]

Die gedagte het my so lank besig gehou dat ek nooit uitgekom het by die teenoorstaande lys nie: My Drie Suksesse:

1. Skryfwerk – presies die tipe materiaal wat ek in 1994 gehoop het ek sou produseer, maar wat ek gevrees het nié geskryf sal word nie as gevolg van die druk van ’n “normale” volwasse lewe.

2. Ek het myself ordentlik genoeg gedra en was net mooi snaaks en slim genoeg om ’n pragtige, lewenslustige vrou te oorreed om my ’n kans te gee.

3. Ek lees baie – nie soveel befaamde romans soos mens altyd dink jy moet nie, maar oor wat aangaan in die wêreld, en oor geskiedenis, en oor die menslike kondisie.

SONDAG 25 OKTOBER 2015

23:28

Wie is ek? Waar hoort ek? Waar is my plek in die wêreld? Wat is die doel van my bestaan? Wat moet ek met my lewe doen?

Ek vind dit vreemd dat ek nie meer juis dink oor hierdie dinge nie. Asof dit maar net op ’n stadium van ’n mens se lewe vir jou belangrik is.

Sal dit nie interessant wees om weer die ou spoke te gaan opsoek nie? Of is dit slapende honde?

23:42

Dink ek nie meer oor daai vrae nie omdat ek die antwoorde ontdek het, of uitgewerk het? Of dink ek nie meer daaroor nie omdat ek nie meer omgee nie? Indien laasgenoemde, is dit omdat ek meer sinies geraak het die afgelope tien jaar? Hoekom het ek meer sinies geraak? Was ek naïef tien jaar gelede? Of eerder, waaraan het ek nog geglo soos ’n kind tien jaar gelede?

’n Paar dae gelede op pad kafee toe vra ek myself ’n groot guns: Moet asseblief nie ’n bitter ou man word nie.

MAANDAG 26 OKTOBER 2015

13:15

Mens moet lewe aan jouself verkoop. Hoekom? Anders verkoop ’n ander deel van jou persoon dalk dood-aan-eie-hand aan die Besluitnemer en Uitvoerder van Gedrag.

Om jou eie dood te verhaas kan immers op verskeie maniere bewerkstellig word: deur te veel te rook, deur te veel te drink, deur ’n koeël deur jou eie kop te stuur, deur jouself te ontneem van suurstof, deur te veel te eet, selfs deur te lewe met wat lyk na passie en oorgawe, soos om op ’n maniese bul se rug te spring en hom te ry tot hy jou afgooi en jou hart deurboor. “Hy was so lief vir die lewe,” sal mense sê. “Hy’t geen vrees gehad nie,” sal ander byvoeg.

13:30

Is dit goed of sleg dat daar niemand is wat my kan oortuig dat wat ek sover gedoen het met my volwasse lewe die moeite werd was nie?

WOENSDAG 4 NOVEMBER 2015

’n Gedagte maal nou al vir ’n paar dae lank in my kop: Die vraag “Wie is jy?” (in die breë sin van die woord) behoort beantwoord te word met nog ’n vraag: “Wie wil weet?”

______________________