OU HELDE STAAN EN VAL (EN POSTERS WORD OMGERUIL)
[Hierdie essay handel, hoofsaaklik, oor twee ideologieë – Klassieke Liberalisme en Sosialisme, en hoe dit die vorming van my identiteit beïnvloed het. Aan die einde wonder ek, soos dit my gebruik geraak het gedurende hierdie tyd, wat dit saak maak.]
———————
Inleiding
Ek kyk nie meer TV nie. Ek sou graag wou sê dis omdat ek dink dis ‘n mors van tyd, en dat ek daai uur of drie beter kan benut deur FreeCell op die rekenaar te speel. Maar wat werklik gebeur het was dat ek nie vooruit betaal het vir my cable TV toe ek in Julie Suid-Afrika toe was nie, en die dame wat altyd die geld kom haal het, het dit toe laat afsny. Die rede hoekom ek dit nog nie weer laat aktiveer het nie is wel polities gemotiveer. Ek het meer CNN gekyk as enige ander kanaal, en ek kon dit nie meer verduur om in die nare gesigte van George W. Bush of sy hoof oorlogsheer Donald Rumsfeld vas te kyk nie.
Wat ek deesdae doen om my ontbyt meer vermaaklik te maak, is om te lees. Ek het onlangs ‘n boek van L.S. Stavrianos teruggekry van ‘n vriendin wat dit vir twee jaar lank geleen het, en ek dog toe dit sal aangename leesmateriaal wees op ‘n nugter maag. Die boek se naam is, The World Since 1500 – A Global History, en het interessante hoofstukke oor onder andere die Renaissance, Protestantisme, die Ottomaanse Ryk en die ontdekking deur Westerse seevaarders van lande wat hulle nie geweet het bestaan nie. Daar is ook ‘n hoofstuk oor Europa se wetenskaplike, industriële en politieke rewolusies, en hoe dit die wêreld gevorm het wat ons vandag ons s’n noem.
Die Philosophes
‘n Goeie geskiedenisboek lei soms tot onverwagte insigte oor jou eie lewe, oor hoe dit gekom het dat jy leef soos jy leef, dink soos jy dink, en glo waarin jy glo. So was dit dan toe ek die oggend by die stuk kom oor die Verligting.
Saam met heerlike Australiese hawermout, Amerikaanse muesli, en twee ander ontbytpappe wat ek saam met eersgenoemde kombineer, het ek ingeneem dat die hoofkarakters in die Verligting die sogenoemde philosophes was. Hierdie groep, so’t ek geleer, moenie verwar word met formele filosowe nie. Die philosophes was nie diepsinnige of sistematiese denkers in enige veld nie. Hulle was hoofsaaklik literêre figure; populiste wat eerder uit die joernalistieke as akademiese rigtings gekom het.
Die twee belangrikste idees van hierdie groep was “Vooruitgang” en “Rede”. Hulle het geglo dat menslike lewe stadig maar seker sal verbeter met elke nuwe geslag, sodat elke geslag ‘n beter lewe sal hê as die een wat dit voorafgegaan het. Hoe kon hierdie voortdurende voortuitgang gehandhaaf word? Deurdat mense gebruik maak van hulle redenasievermoëns.
Hierdie advokate van vooruitgang was oor die algemeen gekant teen die bestaande orde. Hulle het toneelspele, romans, opstelle en weergawes van geskiedenis geskryf om hulle idees te populariseer, en om die noodsaaklikheid van verandering te illustreer.
Die philosophes was sterk beïnvloed deur Newton se Wet van Swaartekrag. Hulle het geglo, soos Newton gedemonstreer het, dat daar natuurlike wette is wat nie net die natuur reguleer nie, maar ook die menslike samelewing. Op grond van hierdie oortuiging het hulle rede toegepas op alle terreine, ten einde die natuurlike wette vas te stel wat alles bepaal het. So is alle mense, instellings, en tradisies onderwerp aan die toets van rasionaliteit.
Hierdie groep populiste het ‘n stel rewolusionêre beginsels ontwikkel waarvolgens hulle ‘n totale reorganisasie van die samelewing voorgestel het. Op die gebied van ekonomie was hulle leuse “laissez faire” – wat daarop neergekom het dat mense toegelaat moet word om die ekonomiese aktiwiteite te onderneem wat hulle goedvind. Adam Smith het byvoorbeeld in die boek An Inquiry Into the Nature and Causes of the Wealth of Nations in 1776 geargumenteer dat individue gemotiveer word deur selfbelang wanneer dit kom by ekonomiese aktiwiteite, en dat elke man sy eie belange beter ken en verstaan as enige amptenaar van die staat.
Op die gebied van godsdiens was hulle sterk gekant teen godsdienstige fanatisme en onverdraagsaamheid. Sommige het ateïste geword, en was van mening dat godsdiens net ‘n instrument is in die hande van die staat. Ander was meer agnosties in hulle oortuiging, en het gereken hulle kan die bestaan van God nie erken, óf ontken nie. Die meerderheid was egter deïste, wat die bestaan van God erken het, en dat Hy verantwoordelik was vir die skepping van die heelal. Hulle het egter aangedring daarop dat God na die skepping die wêreld toegelaat het om te funksioneer volgens bepaalde natuurlike wette, en dat Hy nie inmeng in die natuurlike gang van sake nie.
Die groot leuse op die gebied van politiek was die “Sosiale Kontrak”. Een van die meer bekende philosophes, Jean-Jacques Rousseau, het geglo dat hierdie kontrak ‘n ooreenkoms tussen gelyke is, en nie soos die Engelse filosoof John Locke wat geglo het dat “regering” ‘n politieke kontrak is tussen die regeerders en die regeerdes nie. Rousseau het in sy werk van 1762, The Social Contract, die regering beskryf as ‘n “kommissie”. Hy’t verder geglo dat rewolusie ‘n regverdigbare aksie is waardeur mense hulle regmatige mag weer kan opeis.
Hierdie idees oor ekonomie, godsdiens en politiek was in konflik met die tradisionele instellings en praktyke van die dag. Die philosophes het verder aan hulleself gedink as lede van die menslike ras, eerder as Fransmanne of Europeërs. Hulle fokus was op die vasstelling van sosiale beginsels wat universeel toegepas kon word, soos Newton se beginsels van die natuurlike wêreld.
Dit was my eerste groot ontbyt ondekking. Ek het my linkerhandpalm gestraf met my regtervuis en vir die buurman oorkant die stegie geskree, “Ek het altyd gewéét ek is iemand se kind!”
Die philosohes was populiste. Ek sien myself as nie soseer akademies ingestel nie, as gefokus op wat vir die gewone mens van praktiese waarde is. Die philosophes was gekant teen die tradisionele instellings en praktyke van hulle dag. Natuurlik! Ek is ‘n snotpikker teen pruikdraende hardebaarde soos Rousseau, maar ook ék maak piepgeluide teen die “tradisionele instellings en praktyke” van my tyd.
Selfs in terme van godsdiens drink ek eerder tee saam met ateïste, of speel eerder kegelbal met agnostici en deïste as saam met voorstedelike predikante – behalwe natuurlik vir die een of twee voorstedelike predikante wat ook eerder uithang saam met andersdenkendes.
Ek glo ook dat dit moontlik is dat elke geslag beter vooruitsigte kan hê as dié wat hulle voorafgaan, mits almal hulle koppe gebruik.
Al die idees wat ek so graag wil propageer kom dus van lank voor my tyd af. Dit het ek nog altyd vermoed, en ‘n bietjie van geweet, maar nou kan ek datums en name gee aan die fondasies van my eie oortuigings.
Dit was egter die ekonomiese beginsels van die Verligtes wat my ‘n voorsmaak moes gee van wat my ontbyt op ‘n ander oggend surerig sou laat proe.
‘n Nare Waarheid: Is Wie Ek Werklik Is, Wie Ek Dink Ek Nie Is Nie, En Is Wie Ek Dink Ek Is, In Direkte Teenstryd Met Wie Ek Werklik Is?
‘n Paar dae later – en ‘n paar dekades later in die geskiedenisboek – sit ek weer met ‘n bakkie ontbytmengsel en ‘n koppie swart koffie, gereed om nog ‘n dag in my lewe te begin met ‘n kort geskiedenislesing. Die eerste groot politieke rewolusies van die Westerse wêreld vir eers verby, kom ek toe by die drie groot ideologieë wat sou lei tot meer opstand en verandering – nasionalisme, liberalisme, en sosialisme.
Op hierdie punt is dit belangrik om te noem dat ek die afgelope paar jaar van opinie was dat ek ietwat van ‘n sosialis is. As dit net ‘n spel van mening was, sou ek my vlag opsteek vir die Bolsjewiste eerder as vir die Tsar in 1917, vir Mao en sy Rooi Leër eerder as die korrupte nasionaliste van Chiang Kai Sjek in 1949, vir Fidel Castro eerder as Batista in 1959, en beslis eerder vir Karl Marx en Frederich Engels as vir die uitbuiters van mans, vrouens en kinders in onder andere die fabrieke van negentiende-eeuse Engeland. (Die realiteit wat binne enkele jare mense se lewens sou versuur in Bolsjewistiese Rusland, Rooi China onder Mao, Kuba onder Castro en talle ander sogenaamde sosialistiese republieke is ‘n totaal ander storie.) Ek sien myself ook eerder as liberaal as konserwatief. Maar wat beteken hierdie etikette van identiteit in historiese konteks?
Om jouself “liberaal” te noem, verbind jy jouself – in beginsel, ten minste – tot die idee van emansipasie van die individu van beperkinge neergelê deur klas, maatskappy of regering. Goed, sover smaak my ontbyt so lekker soos enige dag, en my kop knik inskiklik soos ek weereens my eie gesig in die teks sien.
Die volgende sin het my egter laat gryp na my bitter, swart koffie: “[The rise of liberalism] was intimitely related to the rise of the middle class [and] it has remained essentially a middle-class movement in its theory and source of support.” (Eie italics)
“Wat beteken dit?” het ek paniekerig uitgeroep. “Is ek middelklas net omdat ek myself as liberaal eerder as konserwatief sien, en omdat ek glo in die emansipasie van die individu?”
Die res van my ontbyt, soos die geskiedenis van liberalisme, het toenemend droewig begin lyk soos ek verder gelees het.
Liberalisme in Engeland in die sewentiende eeu het middelklasbelange gedien. Die Amerikaanse konstitusie – ‘n liberale dokument volgens die maatstaf van die tyd – was noukeurig opgestel om die belange van die klas van eiendomsbesitters te beskerm en te bevorder. Selfs die Franse Rewolusie, wat meer radikaal was in liberale beginsels, was hoofsaaklik gefokus op die belange van die Franse middelklas!
***
Die liberalisme wat vorm aangeneem het tydens die Engelse, Amerikaanse en Franse Rewolusies was toegespits op gelyke burgerregte, en nie noodwendig gelyke politieke en sosiale regte nie. Maar liberalisme kon egter, soos ander historiese bewegings, nie altyd onveranderd bly nie. Die werkende massas – dié wie se hande en gesigte vuil was aan die einde van ‘n lang werksdag – het toenemend hulle stemme dik begin maak as gevolg van ‘n toename in geletterdheid, en ook as gevolg van vakbondorganisasie. Klassieke liberalisme moes na die verloop van ‘n eeu of wat plek maak vir ‘n ietwat meer demokratiese weergawe; een resultaat hiervan was dat meeste mans, ten minste, teen die einde van die negentiende eeu die reg gehad het om ‘n kruisie op ‘n stembrief te trek.
Ook die beginsel van laissez faire – ‘n sentrale idee van die Verligtes van die agtiende eeu wat die middelklas so goed gepas het in die negentiende – moes bietjie aangepas word. Die beleid van minimale inmenging van regeringskant in ekonomiese sake het nie lekker gestrook met die bitter realiteit van die daaglikse lewe van die werkersklas nie. Burgerregte en stemreg het nie (aanvanklik) veel verander aan die armoede en maatskaplike ellende wat veroorsaak is deur werkloosheid, siekte en ouderdom nie. Die werkers het derhalwe hulle stemreg en vakbondorganisasie begin gebruik om hulle saak vir sosiale hervormings te stel.
Hierdie proses het gelei tot ‘n nuwe stel idees naamlik “demokratiese liberalisme” – en leiers wat gepredik het dat die staat verantwoordelik is vir ál haar burgers. Die hervormings van hierdie tyd sou uiteindelik lei tot die welsynstaat van die kontemporêre tyd.
Ten spyte van die nuwe, meer humanistiese baadjie wat liberalisme sedert die laat negentiende eeu begin dra het, het dit nietemin sy glans begin verloor as die hoofman onder die ideologieë van die dag. Die belangrikste rede hiervoor was dat die advokate van die nuwe beweging nie daarin kon slaag om voldoende steun te wen onder die groeiende werkersklas nie.
Hoekom op aarde sou die mans en vrouens van die stof-en-roet-klas nie so ‘n mooi ideologie omhels, en verwelkom as die beste beleid wat hulle ooit sal kan kry in hulle armsalige lewens nie?
‘n Nuwe ideologie was reeds op hulle tonge soos warm sop wat ‘n honger man op ‘n wintersoggend laat hoop op beter dae – en selfs laat glo daarin! Werkers het toenemend hulle steun, en hulle stemme begin gee aan verskillende sosialistiese strominge, wat die liberaliste orals ingedruk het tussen die konserwatiewes aan die regterkant, en die sosialiste links.
***
Wat het dit alles met my te doen, waar ek nog ‘n oggend die laaste lepel pap afsluk met koffie wat te vinnig koud raak? As mens nie ‘n ideologiese probleem het met die middel stratum van die geïndustrialiseerde wêreld, en die tipe lewe wat gewoonlik daarmee geassosieer word nie, sal al hierdie geskiedenis net interessante akademiese waarde hê. Maar ek het gedurende die afgelope paar jaar sorgvuldig ‘n identiteit, en ‘n gepaardgaande persoonlike dogma saamgeflans wat dikteer dat ek grootliks gekant is teen die middelklas – of dan my eie eendimensionele portret daarvan. En op een of ander stadium sedert my universiteitsdae het ek verder tot die gevolgtrekking gekom dat my anti-middelklas sentiment noodwendig van my ‘n ondersteuner van sosialisme maak. Ek het myself derhalwe gesien aan die kant van die “werkersklas” – beide in terme van my eie agtergrond en my leefstyl, asook my persoonlike politiek.
Ek was egter altyd bewus van die teenstrydighede. Die “werkers” in my eie familie is hoofsaaklik geïnteresseerd in ‘n stabiele middelklaslewe, en hulle skuifel ongemaklik rond – op sitkamerstelle wat hulle maar te bly is hulle op krediet kon koop – as ek praat van “‘n jaar of twee in Taiwan”, en hoeveel geld hulle sal kan spaar as hulle ooit moes besluit om óók so iets te doen.
“Werklike” werkers gee meer om vir ‘n stabiele arbeidsituasie, en droom van miskien ‘n beter kar. Ek is bereid om gemak en heelwat plesiere van die lewe op te gee solank ek net vrye uitdrukking kan gee aan my werklikheidservaring, en niemand “Baas” hoef te noem nie. “Werklike” werkers – oftewel dan dié met wie ek persoonlike kontak het – aanvaar die wêreld waarvan hulle deel is, en aanvaar dit meestal soos dit is (wat nie te sê is dat hulle nie ook ryk en vry wil wees, en die “Baas” spot agter sy rug nie).
Die kern van die saak hier is my eie identiteit, en hoe ek glo ek inpas in die polichromatiese landskap van sosio-ekonomiese klasse asook politieke en ekonomiese ideologieë en gepaardgaande etikette, en hoe ‘n kombinasie van oortuigings dit moontlik maak om suksesvol te kan funksioneer in die moderne beskawing. (Hoekom voel ek dis nodig om myself daaraan te herinner dat hierdie mý literêre projek is, en dat ek as die hoofprotagonis die reg het om ‘n geskiedenisopstel te kaap om nog meer oor myself te sê?)
Die Hamer Splinter Die Spieël
Die afgelope paar jaar het ek dus toenemend aan myself gedink as “linksgesind”, “werkersklas” eerder as “middelklas”, met ‘n sterk affiniteit vir sosialistiese idees. Om meer duidelikheid te gee aan hoe ek myself sien het ek ook ‘n paar jaar gelede begin om met groot entoesiasme vir Noam Chomsky aan te haal wat gesê het, “Classical liberal tradition in the eighteenth century [stated that] at the root of human nature is the need for free creative work under one’s own control. That must be at the basis of any decent society.” [uit: Noam Chomsky, Secrets, Lies and Democracy]
Ek glo beslis aan die reg van die individu om sy eie saak te stel, om homself uit te druk soos wat hy dit goedvind (solank niemand anders te veel skade lei nie), en veral die beginsel wat amper so belangrik soos die eerste gebod is, naamlik die vervulling van die inherente behoefte aan kreatiewe werk onder eie beheer.
As ek dus deesdae na myself in die spieël kyk en ek vra na my eie naam-en-plek in die Groter Landskap, kan ek met trots resiteer, “Ek is ‘n klassieke liberalis, met ‘n sterk affiniteit jeens sosialistiese idees.” (En dan, siende dat ek voor die spieël is, sal ek sommer my armspiere so effens bult, om te sien of ek darem saam met ander lede van die werkersklas ‘n krat bo-op ‘n trok sal kan gooi.)
Groot was my skok dus – en selfs meer onaangenaam as die eerste skok oor die verhouding tussen klassieke liberalisme en die middelklas – toe ek vanoggend lees dat sosialisme die groot ANTITESE is van klassieke liberalisme! Hoe kan my een stel oortuigings die presiese teenoorstaande wees van my ander stel oortuigings?!
Volgens Meneer Stavrianos beklemtoon liberalisme die individu en sy of haar regte. Sosialisme, aan die ander kant, plaas die klem op die gemeenskap, en kollektiewe welsyn. Liberaliste sien die samelewing as die produk van natuurlike beginsels. Sosialiste glo dat mense deur die gebruik van rasionele denke en aksie hulle eie maatskaplike stelsel en gepaardgaande verhoudings kan bepaal. Hulle glo verder dat menslike natuur hoofsaaklik die produk is van die maatskaplike stelsel waarbinne mense gebore word, grootword, en leef en werk as volwassenes.
Volgens hierdie beginsels glo sosialiste dat die euwels van die wêreld geëlimineer kan word deur die vestiging van ‘n samelewing wat ontwerp is om kollektiewe welstand eerder as persoonlike wins te bevorder, en om samewerking onder die bevolking aan te moedig eerder as kompetisie.
Die klem van sosialisme lê dus by die groter gemeenskap – en omvattende beplanning van maatskaplike verandering, eerder as by die individu – en ‘n houding van om dinge op ‘n natuurlike wyse te laat ontwikkel.
Verbysterd, en stikkend aan my droë pap en koue koffie, het ek verder gelees oor Plato wat gereken het ‘n diktatorskap van filosowe kan die wêreld red, van Utopiese Sosialiste wat deeglike planne en beginsels uitgewerk het vir model gemeenskappe, en natuurlik oor Karl Marx wat verskil het van die Utopiërs deurdat hy die historiese ewolusie en funksionering van die bestaande kapitalistiese wêreld gebestudeer het, en uiteindelik gereken het dat kapitalisme te pletter geslaan sal word deur die hamer van die werkers in ‘n klassestryd wat ‘n Sosialistiese samelewing tot stand sou bring.
Die hamer het egter klaar my identiteit aan’t skerwe geslaan, en die sekel het reeds my fyn beplanning van hoe ek inpas in die wêreld aan’t flarde geruk. Is ek dan na alles, na al hierdie jare, na al die stukke wat ek geskryf het in spot en vrees vir die middelklas, na die deeglike legkaart wat ek gesny en gepas het om te kan verduidelik hoe ek inpas in die Groter Geheel, is ek na al hierdie eerlike pogings gedwing om te erken wat ek nog altyd gevrees het? Is ek MIDDELKLAS?
Epiloog
Ek lees nie meer my geskiedenisboek nie. Of, goed dan, ek lees dit nie meer getrou elke oggend met ontbyt nie. Ek sou graag wou sê dis omdat breedvoerige inligting oor ideologieë my twee keer laat dink het oor my veronderstelde plek in die samelewing, maar wat werklik gebeur het was dat ek die einde van ‘n hoofstuk bereik het, en ongeleesde koerante van meer as ‘n week het begin opstapel. Die rede hoekom ek hierdie epiloog skryf is wel akademies gemotiveer.
Wat maak die besonderhede in hierdie essay saak as die helfte van die wêreldbevolking nie eens rekenaars het om FreeCell op te speel nie? Maak dit regtig saak of ek ‘n poster van Karl Marx of Jean-Jacques Rousseau teen my muur het, as meer as die helfte van die wêreldbevolking nie vandag ‘n behoorlike bord kos gehad het om te eet nie?
Ek voel ‘n bietjie selfbewus oor my obsessie met identiteit en my plek in die wêreld, en oor my belangstelling in die ideologiese geskiedenis van “free work under one’s own control”. Is hierdie dinge belangrik vir enige iemand anders? Het hierdie sogenaamde literêre projek van my slegs vermaaklikheidswaarde omdat die gemiddelde leser van boeke nie net Trompie en Jane Austen kan lees elke dag nie? Weet almal waar hulle inpas in die Groter Samelewing? Sal iemand eendag stilstaan tussen vergaderings en business lunches om my gemoedelik aan die skouer te vat en te sê, “Ons almal dink oor hierdie dinge. Ons het net nie tyd om die heeltyd daaroor te tob nie”?
Hoekom maak dit vir my saak hoe en waar ek inpas in die Groter Geheel? Dit maak saak, omdat ‘n mens nie kan funksioneer as jy nie weet hoe en waar jy inpas nie. Alternatiewelik sal jy jouself moet beperk tot ‘n gereduseerde realiteit waar dinge meer sin maak, en jou rol en funksie beter gedefinieer is, of makliker definieerbaar is. My soektog na hoe en waar ek inpas maak dus saak, omdat ek nie weet hoe en waar ek inpas nie. Die redes hoekom ek nie weet nie, hou verband met die feit dat hierdie reeds bladsy 500-plus is van hierdie literêre projek, en nie bladsy een nie.
Mens sal graag wil sê, “Al ken jy moontlik nie die korrekte akademiese formulering van jou plek in die samelewing nie, ken jy tog sekerlik die verskil tussen jouself en ‘n armsalige wat krepeer in die agterbuurte van Kolkata, of in Lagos, of selfs Johannesburg, dan nie?”
Goed en wel. Maar wat presies is hierdie verskil? Ek eet meer, en meer gereeld. Ek slaap elke aand in ‘n warm bed. As ek siek is, kan ek doktor toe gaan. Ek het nie ‘n motorkar nie, maar ek het ‘n fiets. Ek besit ook nie die eiendom wat ek met my posters en my meubels en my fisieke teenwoordigheid vul nie, maar as ek nie in hierdie woonstel bly nie, is daar ander woonstelle waar ek ‘n deur agter my sal kan toetrek in die aande.
Dit is wel ook so dat ek nie hierdie woorde skryf in die land waar ek die natuurlike reg het om te woon nie. Ek woon in hierdie land omdat ek ‘n profyt maak vir besighede wat Engelse klasse aan die ouers van hoofsaaklik laerskoolkinders verkoop. Ek het dus toestemming van die owerhede om hier te woon, solank ek voortgaan om te voldoen aan die vereiste wat hulle oorspronklik laat instem het tot my teenwoordigheid op hierdie eiland. As ek nie meer elke dag my voorgeskrewe arbeidsrol in hierdie plek wil vervul nie, moet ek padgee.
As ek dus terug is in die land waar ek wel ‘n geboortereg het om myself tuis te maak, sal die antwoord op die vraag na die verskil tussen my en ‘n boemelaar in enige stad in die wêreld aanvanklik dieselfde wees: ek eet elke dag, ek slaap redelik sag, ensovoorts. Hierdie is egter verskille wat ek net as vanselfsprekend sal aanvaar as ek goed gesuip is en nie verder as my bed in iemand se gastekamer dink nie.
“Maar jy hét tog kwalifikasies,” sal iemand weer ‘n mening waag. “Dit kan mos nie te moeilik wees vir jou om ‘n betrekking te kry in ‘n plek soos Johannesburg nie, of hoe?”
Natuurlik. Net jammer dat ek geëet het van die vrug van kreatiewe vryheid. Net jammer dat ek bewus is van agtiende-eeuse beginsels van klassieke liberalisme (dié waarmee ek myself wel kan versoen). Net jammer dat ek bewus is van die Industriële Rewolusie, en die fundamentele effek wat dit gehad het op kontemporêre arbeidsverhoudinge, en die waarde van die individu as ‘n rat in korporatiewe masjinerie.
As ek net kon vergeet van al hierdie dinge, en terwyl ek besig met die vergeet-aksie, sommer ook vergeet van eerstehandse ervarings van hoe ‘n middelklaslewe soms verkeerd kan loop, sou ek miskien van voor af kon begin het, sou ek ‘n baie meer beskeie lot kon aanvaar wat heel moontlik my voorland sou wees, sou ek moontlik selfs dankbaar gewees het vir die soort-van goeie lewe wat ek my eie sou kon noem in die aangesig van soveel mense wat stof eet en in rioolpype slaap.
Dit bring ons by ‘n goeie punt in hierdie opstel om ‘n laaste vraag te vra: Skuld ek dit aan die boemelaars, aan die straatkinders, en aan ander “minderbevoorregtes” van die wêreld om my eie gat in rat te kry en op te hou kla?
My antwoord: NEE.
***
Ongeag of die kwessies van hierdie stuk net van akademiese belang is, en of dit my in staat sal stel om beter besluite te maak en myself met meer oortuiging te kan voorstel aan die wêreld waarbinne ek rondbeweeg, glo ek dis tog nodig om al die verwarring ‘n bietjie op te los. Duisende woorde is in hierdie stuk rondgegooi, datums en name is opgestapel teen mekaar, en vele bakkies ontbytpap is met behulp van vele bekers koffie in my liggaam gestop, alles met oënskynlik een doelwit voor oë: om die vraag op te los van watter ideologiese etiket ek, die skrywer van hierdie materiaal, kan dra met geloofwaardigheid en oortuiging.
Ek het amper my aptyt verloor die oggend toe ek ontdek watse sentrale rol die klassieke liberaliste gespeel het in die verowering van die wêreld deur die middelklas – ‘n sosio-ekonomiese groepering vir wie ek al jare lank aan die weghardloop is (al slaan ek self die sweep agter my soos ek hardloop). Soveel van die klassieke liberale idees is dan presies dit waarmee ek myself aan die slaap sus in die aande! Hoe gemaak met so ‘n nare teenstrydigheid?
Aan die ander kant was die ewe onaangename ontdekking dat ek myself verkeerdelik geïdentifiseer het as ‘n “sosialis”. Ter regverdiging kan ek noem dat hierdie identifikasie heel moontlik gemotiveer was deur niks anders nie as die feit dat hulle die grootste en sterkste bende was wat ook gespu het in die rigting van die middel. Maar benewens hulle antagonisme teen die bourgeoisie glo sosialiste ook dat die enkeling sy eie drome en ambisies, sy individualiteit, vrye kreatiewe uiting van sy werklikheidservaring, en soms selfs sy lewe moet prysgee ter wille van die welsyn van die gemeenskap, en uiteindelik vir die welsyn van die staat.
Ek respekteer die intellektuele talente van mense soos Marx en Lenin, en ek glo dat hulle werklik die belange van die gewone man, vrou en kind in vuil agterstrate, sielmartelende fabrieke, en stowwerige gehuggies op die hart gedra het. Ek reken ook – hoewel baie lewens vernietig was in die proses – dat mens selfs agting kan hê vir die toewyding en die vasberadenheid waarmee die Bolsjewiste die grootste politieke eenheid in die wêreld herskep het volgens wat vele van hulle werklik geglo het ‘n stel idees was wat ‘n meer regverdige bestel vir die meerderheid van die bevolking tot gevolg sou hê.
Maar net soos ek nie die rol van klassieke liberalisme in die ontwikkeling van die kontemporêre middelklas kan ignoreer nie, so kan ek ook nie iets anders mompel tydens die Geloofsbelydenis van Kommuniste waar hulle resiteer dat “as die staat wil hê jy moet tien ure per dag in ‘n fabriek werk, jy dit moet doen omdat dit goed sal wees vir die welsyn van die gemeenskap” nie. (“Plus, jy’s in elk geval net ‘n niksseggende deeltjie van die groter geheel wat nie gemis gaan word as jy miskien in die middel van die nag verdwyn nie…”)
Ek glo egter nie dat ek dit aan enige Gemeenskap van Klassieke Liberaliste verskuldig is om ‘n Goeie Klassieke Liberalis te wees nie. So ook is ek dit nie aan Karl Marx of Vladimir Lenin, of enige kontemporêre Kommunis verskuldig om ‘n Goeie Sosialis te wees nie. Om in geloofwaardigheid hierdie etikette om my nek te kan hang, sou dit dalk noodsaaklik wees; indien ek nie die etikette vir identiteitsdoeleindes benodig nie, kan ek voortgaan om vir myself uit hierdie ideologieë (en uit die persoonlike bydraes van die leiers van die gepaardgaande bewegings) toe te eien wat ek goedvind.
Ek glo steeds, soos Jean-Jacques Rousseau en sy denkgenote, dat die wêreld voortgedryf word deur natuurlike beginsels, en as mense net hulle gesonde verstand wil gebruik, dat ‘n beter wêreld geskep kan word vir ons en ons nageslag. Verder glo ek aan die reg van die enkeling om vrye, kreatiewe uitdrukking te gee aan sy of haar persoonlike werklikheidservaring, ongeag of die gemeenskap of die staat daarvan hou of nie, maar solank dit nie ander se reg om dieselfde te doen in die wiele ry nie. My hoed sal ek ook steeds lig vir mense soos Marx en Lenin,
wat in erns en opregtheid hulle lewens toegewy het daaraan om ‘n visie van ‘n beter, meer regverdige wêreld aanvanklik op papier te formuleer, en daarna oorgegaan het tot aksie om so ‘n wêreld tot stand te bring – al was die resultaat van hulle pogings uiteindelik nie wat hulle gehoop het dit sou wees nie.
Watter “helde” gaan ek dus van nou af vereer as ek ‘n poster agter ‘n deur wil vasplak, om sodoende my identiteit beter te illustreer? Hier’s ‘n voorstel: ‘n steenkoolskets van myself, met ‘n welige baard, ‘n agtiende-eeuse Franse pruik met grys krulle, en bo-op die pruik ‘n kondukteurspet, circa Rusland, 1917.
___________
