Om te word wat jou sal bring waar jy moet wees

WOENSDAG 29 DESEMBER 2004

Feit is, ek funksioneer nou beter as ’n mens as wat vier jaar gelede die geval was. Ek is meer bewus van die Reëls van die Spel, en ek het geleer hoe om volgens die reëls te speel sonder om myself te verloën. Ek is meer oortuig van my relatiewe waarde in die Breë Gemeenskap, en dan spesifiek ook in die Gemeenskap van Partikulêre Taal en Kultuur waaraan ek verbind is met die spreekwoordelike naelstring. Ek is meer oortuig van wie ek is, en ook van wie ek wil wees. Ek verstaan meer van waar ek vandaan kom, asook wat die waarde daarvan is vir die beantwoording van vrae oor wie ek is en waarheen ek op pad is. Ek verstaan ook die redes en motiverings vir hierdie spesifieke toekomsvisie. Ek is derhalwe meer oortuig van my plek in die Groter Wêreld, en meer oortuig van my eie self as ek in ’n plaaslike kroeg of eetplek instap, of arriveer by ’n braai. Laastens, omdat ek nou ’n bietjie Chinees kan lees en praat, kan ek beter funksioneer in die partikulêre omgewing waar ek elke dag woon en werk as wat die geval was ’n paar jaar gelede.

Dit is uiteindelik so prakties soos die verskil tussen ’n fietswiel wat probleme gee, en een wat werk soos hy veronderstel is om te werk. Enige een wat al ooit fiets gery het, sal die verskil kan waardeer tussen ’n wiel met gebreekte speke, ’n deurgeloopte buiteband en ’n lekkende binneband, en ’n wiel met nuwe speke, ’n nuwe, goeie kwaliteit buiteband, en ’n splinternuwe binneband. Die een is doodgewoon beter. Die een is eenvoudig meer geskik om jou te bring waar jy moet wees.

______________________