Om te ignoreer wat vanselfsprekend is

SATERDAG 27 SEPTEMBER 2003

Buite my voormalige wegkruipplek, terwyl ek die laaste paar plastieksakke vol vuil wasgoed aan my fiets hang, hoor ek ’n jong laitie van oorkant die stegie iets uitroep. Te besig om te reageer, klim ek op die fiets en ry wankelrig weg.

By die verkeerslig dink ek daaraan dat die jong seun my heel waarskynlik beledig het, omdat die klanke wat hy geuiter het baie soortgelyk was (behalwe vir een woord) aan die woorde in die Taiwannese dialek vir “vet, lui vrou”. Vir ’n oomblik was ek spyt dat ek nie iets toepaslik beledigend teruggeblaf het nie. Teen die tyd wat ek by die volgende verkeerslig gekom het, het ek egter my spyt laat vaar met die idee dat ek hom geïgnoreer het, wat ek beskou as ’n groter belediging.

“Hoekom so?” wonder ek toe.

Deur iemand te ignoreer, ontneem jy daai persoon van jou erkenning van sy of haar bestaan. En wie is so seker van hom- of haarself dat hulle nie net ’n bietjie ongemaklik voel as hulle tussen mense is wat nie hulle bestaan erken nie?

Jy kan argumenteer dat die mense tog moet sien dat jy ’n partikulêre spasie in hulle onmiddellike omgewing vul, of dat hulle móét weet jy bestaan, selfs al reageer hulle geensins op jou teenwoordigheid nie.

Hierdie gedagte dat iemand in teorie moet weet jy bestaan, is egter nie goed genoeg nie. Wie raak nie geïrriteerd, by tye kwaad, en soms selfs gewelddadig as jou teenwoordigheid, en daardeur jou bestaan, nie erken word nie?

Ons het almal gereelde bevestiging nodig van ander mense (selfs diere, soos ’n hond of ’n kat) dat ons bestaan. Dit hoef niks meer te wees nie as ’n glimlag, die knik van ’n kop, of ’n “verskoon my” as iemand per ongeluk aan jou stamp, al is dit sonder om oogkontak te maak.

Intieme kontak – en selfs beter, gereelde intieme kontak – is die ideale onderdrukker van die sluimerende angs (of onsekerheid?) oor ons bestaan. Sou dit die onderliggende motivering wees agter die begeerte (of instink) om ’n baba te pamperlang – om aan ’n klein mensie wat onlangs eers ’n afsonderlike fisiese entiteit geword het, die versekering te gee van sy of haar bestaan?

Om ’n Westerling te wees in sommige Oosterse lande gee natuurlik ook aan ’n mens meer sigbare erkenning van jou bestaan as wat die geval sou wees in jou eie land. Een voorbeeld is die ongeskikte laitie wat jou beledig in ’n taal wat hy dink jy nie verstaan nie, net omdat hy ’n ooggetuie was van jou poging, as hoogs sigbare buitestander, om jou fiets te balanseer met ’n halfdosyn plastieksakke aan die stuurstang. ’n Ander voorbeeld is die dogtertjie wat agter haar ma skuil in die supermark terwyl sy haar vingertjie na jou toe wys asof jy ’n veraf-neef is van die olifantman. Ook mense wat, lank na jy verby hulle gestap het, nog “Hallo!” in jou rigting skree asof jy beroemd is. Al hierdie insidente bevestig jou bestaan op daai spesifieke oomblik en op daai spesifieke plek, en op wyses wat nie noodwendig die goeie (of slegte) geluk is van die gewone Taiwannees (in my geval) met wie jy die straat of die supermarkgang deel nie.

Sou dit miskien ook die begeerte van sommige mense verduidelik om beroemd of selfs berug te wees – die begeerte dat soveel mense as moontlik hul koppe moet knik in erkenning dat hulle weet van jou bestaan?

Nog ’n vraag: Hoekom groet vreemdelinge mekaar?

Een van die redes is wedersydse erkenning van hulle bestaan.

Hoekom dus, sal iemand jou nié groet nie?

Een van die moontlike redes is dat die persoon jóú erkenning van sy/haar bestaan, op daai spesifieke oomblik, nie nodig het nie, of in sommige gevalle dalk nie as wenslik ag nie.

Redes hoekom iemand nie jou erkenning nodig het nie? Ander mense in die onmiddellike omgewing wat reeds hulle bestaan erken, soos vriende, of ’n kind wat aan die hand vasgehou word?

Dat hulle jou nie groet nie, hoef dus nie noodwendig as beledigend gesien te word nie; dis net dat hulle reeds het wat jy hulle sou gee, naamlik sigbare erkenning van hulle bestaan.

______________________