OM TE IGNOREER WAT VANSELFSPREKEND IS

Deur 27 - 09 - 2003

Buite my voormalige wegkruipplek, terwyl ek die laaste paar plastieksakke vol vuil wasgoed aan my fiets hang, hoor ek ‘n jong laaitie van oorkant die stegie iets uitroep. Te besig om te reageer, klim ek op die fiets en ry wankelrig weg.

By die verkeerslig dink ek daaraan dat die jong seun my heel moontlik beledig het, omdat die klanke wat hy geuiter het baie soortgelyk was (behalwe vir een woord) aan die woorde in die Taiwanese dialek vir “vet, lui vrou”. Vir ‘n oomblik was ek spyt dat ek nie iets toepaslik beledigend teruggeblaf het nie. Teen die tyd wat ek by die tweede verkeerslig gekom het, het ek my spyt laat vaar met die idee dat ek hom geïgnoreer het, wat ek beskou as ‘n groter belediging.

“Hoekom so?” wonder ek toe.

Deur iemand te ignoreer, ontneem jy daai persoon van jou erkenning van sy bestaan. En wie is immers so seker van homself dat hy nie net ‘n bietjie ongemaklik voel as hy tussen mense is wat nie sy bestaan erken nie? Jy kan argumenteer dat die mense tog móét sien dat jy ‘n partikulêre spasie in hulle onmiddelike omgewing vul, of dat hulle móét weet jy bestaan, selfs al reageer hulle geensins op jou teenwoordigheid nie.

Hierdie gedagte dat iemand in teorie moet weet jy bestaan, is egter nie goed genoeg nie. Wie raak nie geïrriteerd, by tye kwaad, en soms selfs geweldadig as sy teenwoordigheid, en daardeur sy bestaan, nie erken word nie? Ons het almal gereelde bevestiging nodig van ander mense (selfs diere, soos ‘n hond of ‘n kat) dat ons bestaan. Dit hoef niks meer te wees nie as ‘n glimlag, die knik van ‘n kop, ‘n “verskoon my” as iemand per ongeluk aan jou stamp sonder om eens oogkontak te maak.

Intieme kontak – en selfs beter, gereelde intieme kontak – is die ideale onderdrukker van die sluimerende angs (of onsekerheid?) oor ons bestaan. Sou dit die onderliggende motivering wees agter die begeerte (of instink) om ‘n baba te pamperlang – om aan ‘n klein mensie wat onlangs eers ‘n afsonderlike fisiese entiteit geword het, die versekering te gee van sy of haar bestaan?

Sal dit verder ‘n verregaande idee wees om te beweer dat om ‘n Westerling te wees in ‘n Oosterse land meer sigbare erkenning gee aan jou bestaan? Een voorbeeld is die ongeskikte laaitjie wat jou beledig in ‘n taal wat hy dink jy nie verstaan nie, net omdat hy ‘n ooggetuie was van jou as hoogs sigbare buitestaander se poging om jou fiets te balanseer met ‘n halfdosyn plastiesakke aan die stuurstang. ‘n Ander voorbeeld is die dogtertjie wat agter haar ma skuil in die supermark terwyl sy haar vingertjie na jou toe wys asof jy ‘n veraf-neef is van die olifantman. Ook mense wat, lank na jy verby hulle gestap het, nog “Hallo!” in jou rigting skree asof jy beroemd is. Al hierdie insidente, al is dit soms irriterend, bevestig jou teenwoordigheid en jou bestaan op daai spesifieke oomblik en op daai spesifieke plek, en op wyses wat nie die goeie (of slegte) geluk is van die gewone Taiwanees met wie jy die straat of die supermarkgang deel nie.

Sou dit miskien ook die begeerte van sommige mense verduidelik om beroemd, of selfs berug te wees, solank baie mense net hulle koppe knik in erkenning dat hulle weet van jou bestaan?

Dit is egter ook waar dat ekstreme erkenning van jou bestaan nie altyd wenslik is nie – ten minste op die langtermyn indien dan nie altyd op die korttermyn nie. Indien dit van so mate is dat dit jou veiligheid en/of bevrediging van ander behoeftes bedreig, is dit lank nie meer ‘n goeie ding nie.

Nietemin, alle diere het erkenning nodig dat hulle wél, soos hulle vermoed, bestaan. En die ideale erkenning van hierdie bestaan is wedersyds vervullende intieme kontak (seksueel en nie-seksueel) met ‘n ander dier van dieselfde spesie.

‘n EKSTRA GEDAGTE:

Hoekom groet vreemdelinge mekaar?

Een van die redes is wedersydse erkenning van hulle bestaan.

Hoekom dus, sal iemand jou nié groet nie?

Een van die moontlike redes is dat die persoon jóú erkenning van sy/haar bestaan, op daai spesifieke oomblik, nie nodig het nie (of in sommige gevalle dalk nie as wenslik ag nie).

Redes hoekom iemand nie jou erkenning nodig het nie? Ander mense in hulle onmiddellike omgewing wat reeds hulle bestaan erken, soos vriende, of ‘n kind wat aan die hand vasgehou word.

Dat hulle jou nie groet nie, hoef dus nie noodwendig as beledigend gesien te word nie (ongemanierd dalk, maar dis ‘n ander onderwerp); dis net dat hulle reeds het wat jy hulle sou gee, naamlik sigbare erkenning van hulle bestaan.

(Saterdag, 27 September 2003)

[U as leser moet kan waardeer dat ek baie gelukkig is met my beroep as Amateur Denker en Sekretaris van Insigte. Watter straatveër of ingenieur of administratiewe klerk sou nie eerder sy dae wou slyt nie deur vrae te kontempleer soos, hoekom groet vreemdelinge mekaar op straat en hoekom dit soms beter is om iemand te ignoreer?]

___________

Hierdie inskrywing dateer: 27 - 09 - 2003 om 18:35 en sorteer onder Boek Twee. [...]

Gesluit vir kommentaar.