Notas – geluk – gevolgtrekkings

DINSDAG 6 JULIE 2004

Kies, en glo

Die doelwit is nie om nié in staat te wees tot euwel nie, maar om nie euwel te doen nie.

Dit beteken om jouself in die oë te kyk en te erken, “Ek ís in staat daartoe om sleg te wees, en sleg te doen,” en dan te kiés om nie sleg te wees nie, en nie sleg te doen nie.

Hierdie keuse, soos meeste weet, is nie altyd maklik nie, maar selfs dít moet dien as motivering, eerder as twyfel in jouself.

Gló dat jy goed kan wees. Gló dat jy goed kan doen. Wéés dit dan, en dóén wat goed is.

Ek, en myself: “Ek praat met myself.” ’n Misleidend eenvoudige stelling? Wie’s die “ek” in daai sin, en wie’s die “self”?

WOENSDAG 7 JULIE 2004

Geluk is ’n sintuiglike aangeleentheid

Om gelukkig te wees, is in die eerste plek ’n sintuiglike aangeleentheid.

Dink vir ’n oomblik daaroor: Waarna kyk jy op die oomblik? Wat ruik jy? Wat proe jy? Wat hoor jy? Waaraan raak jy?

Net so belangrik, en dalk belangriker: Waarna kyk jy nie? Wat ruik jy nie? Wat proe jy nie? Wat hoor jy nie? Waaraan raak jy nie?

En dan, as geluk tot ’n groot mate afhanklik is van hoe jy jou onmiddellike omgewing ervaar: Waarna wíl jy kyk? Wat wíl jy ruik? Wat wíl jy proe? Wat wíl jy hoor? Waaraan wíl jy raak?

Gevolgtrekkings op VRYDAG 9 JULIE 2004

1. Wat op ’n stadium gelyk het na wyse keuses wat aanvanklik gelei het tot positiewe resultate, mag in sommige gevalle met die verloop van tyd uiters negatiewe gevolge produseer.

2. Soms moet ’n mens voorgee wat jy nie is nie, om meer positiewe resultate te bewerkstellig.

3. Die verligte, wyse persoon behoort in staat te wees om die spel beter te speel as die onkundige; hy behoort ook in staat te wees om beter beheer oor sy emosies uit te oefen.

4. Die vraag kan gevra word: Wil jy die spel speel?

______________________