NASKRIF II

Deur 19 - 05 - 2003

Die gedagte aan die woonstel wat skoongemaak moet word, en die uitstappie na daai supermark het my genoop om die redigeringsproses nog ‘n bietjie uit te rek. Ek soek toe weer deur folders op my rekenaar, en kom toe af op ‘n brief wat ek vir my ouers begin skryf het meer as twee jaar gelede. Die brief het na ‘n paar paragrawe vasgeval in die modder van persoonlike politiek, en ek wat basies met myself praat. So in plaas van afsluit, uitprint en pos, het ek dit net ge-save as “Brief aan Ouers” en voortgegaan met ander dinge.

My eerste gedagte oor dié opgrawing was om dit tussen die ander stukke in te druk wat uit daai spesifieke jaar dateer. Maar toe oorweeg ek ‘n paar dinge waaraan ek die afgelope twee weke gedink het (eerste twee weke van Mei 2003).

Ek reken toe, tyd stap aan, ‘n mens se opinies en persoonlikheid ontwikkel, en jy verander effens jou uitkyk op die lewe. En dan sit jy soms na jare nóg vas, tot jou verleentheid kan ‘n mens amper byvoeg, tussen die muur en die deur. Dis toe dat ek dink, kom ons gooi dit in aan die einde – om die storie terug te bring meer na die middel toe.

Ek roep dus nou op vir ‘n herverskyning, daai partikulêre inkarnasie van myself, Brand-van-die-Jaar-2000.

Uit Brief aan Ouers, 18 November 2000:

“[...] Ek het gister my 22-maand herdenking gehad van die dag wat ek in Taiwan aangekom het, wat belangrik is vir die eenvoudige rede dat ek in Korea was vir 22 maande en drie dae. Teen volgende week sal ek dus langer in Taiwan wees as wat ek in Korea was.

So gaan die tyd verby. Ek staan gereeld in my sitkamer en kyk om my rond, en as ek dink hoe hierdie einste sitkamer gelyk het toe ek hier aangekom het, kan ek nie anders as om te dink ek het oraait gedoen sover nie. Ek sien my netjiese klein rekenaar; ek sien al die CD’s en al die boeke. Ek sien ook die Spaanse kitaar wat ek vir R60 by die pawn shop gekoop het, en ek sien my blou elektriese kitaar, en die kleur-TV…

Ek gee nie op die oomblik soveel klasse as verlede jaar nie. Dit was ‘n sinnelose gejaag wat my nooit behoorlik tyd gegee het vir wat ek regtig wil doen nie. Dit mag klink of ek nie my vinger op die pols van die werklikheid het nie, maar ek het reeds genoeg van die wêreld leer ken om te weet dat ‘n mens moet doen wat jy goedvind, en waarvan jy hou, anders word jy oud en jy’t net die game gespeel wat dié wat kastig beter weet vir jou geleer het. Pa het altyd gesê ek kan nie net doen wat ék wil doen nie, ‘dis nie hoe dit werk nie’. Ek moet bieg dat ek nie veel respek het vir hoe dinge werk nie.

As ‘n mens net jou lewe leef volgens hoe dinge veronderstel is om te werk, word jy uitgebuit deur dié wat nie die reëls nakom nie. Ek het al ‘n bietjie insig gekry in die werkinge van hierdie wêreld, en ek het nie tyd vir mense wat oor my baas wil speel net omdat hulle meer geld het as ek, en daarom – ‘omdat dit is hoe dit werk’ – ek moet doen soos hulle sê nie. In elk geval het hierdie wêreld nie vorentoe beweeg omdat mense altyd die ‘sinvolle’ ding gedoen het nie.

Dit moet egter kategories gestel word dat ek nie heeltemal naïef is nie. Ek weet al te goed wat gebeur met mense wat die geld-storie nie ernstig opneem nie. Ek weet al te goed hoe die hiërargie van ons samelewing werk. My edel politiek sal my nêrens bring as ek nie geld het om dit te ondersteun nie. Dosyne geskiedenisboeke het ook vir my ‘n goeie idee gegee van hoe mense in posisies van mag kom, en hoe hulle daar bly. En ek het al genoeg eerstehandse ervaring opgedoen om te weet mense word om die bos gelei om sekere dinge te glo, sodat dié wat bo is, bo kan bly.

Genoeg politiek. Dis voldoende om te sê dat ek ander maniere ondersoek om geld te maak. Ek beplan nie om weer arm te wees nie. Maar ek beplan ook nie om ander se agendas te dien nie.

Hierdie hardkoppige onafhanklikheid kom natuurlik teen ‘n prys. As ek ‘n meer konvensionele pad gevolg het, sou ek moontlik teen dié tyd die konvensionele belonings gehad het van ‘n huis (waarvoor ek vir die res van my lewe aan die bank sou behoort), ‘n pragtige gesinsmotortjie (waarvoor ek at least vir ‘n dekade aan ‘n ander bank sou behoort), en ‘n lieflike vrou met wie ek my lewe kon deel. In teorie is dit altyd moontlik om ‘n gawe en aantreklike Taiwanese vrou te ontmoet, maar ek reken ‘n vrou wat my eie taal praat sal my seker beter verstaan – op meer as net die vanselfsprekende manier. Wat moet ‘n mens tog doen?

Dink ek daaraan om een of ander tyd terug te gaan Suid-Afrika toe? Ek kontempleer sporadies die moontlikheid. Ek kan dink aan baie redes hoekom dit goed sal wees. Die realiteit is egter dat ek in hierdie land, met wat in werklikheid ‘n deeltydse werk is, R10 000 per maand kan verdien, en selfs meer. In Suid-Afrika sal ek wáár, en vir hoe lank elke dag moet werk om die helfte daarvan in die hande te kry?

Daar is sekerlik moontlikhede waaraan ek nog nooit gedink het nie. Die probleem is om hierdie dinge te ontdek. As ‘n mens ‘n jaar in ‘n plek spandeer waar jy gereeld idees uitruil met ander mense, sal ‘n mens sekerlik aan ‘n paar moontlikhede kan begin werk . Maar hoe gemaak om terug te gaan, jouself aan die lewe te hou, nie jou momentum te verloor met die projekte waarmee jy besig is nie, én terselfdertyd maniere van geldmaak te ontdek wat jou en jou persoonlike agenda pas…”

Hierdie inskrywing dateer: 19 - 05 - 2003 om 23:46 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.