‘n MEES BELANGRIKE LES
Mense respekteer mag. Mense. Respekteer. Mag.
MENSE! respekteer mag. En nie net finansiële mag nie, hulle respekteer ook die mag van vermoëns: die vermoë om ander na hulleself aan te trek; die vermoë om karre reg te maak; die vermoë om ‘n musikale instrument regtig goed te kan bespeel.
Vat byvoorbeeld ‘n baie talentvolle kitaarspeler wat ‘n klein groepie vriende vir ure lank kan vermaak met sy kitaarspel. Dit mag moontlik wees dat hierdie ou nie té veel belang stel in geld maak nie. Kom ons sê behalwe vir die werk wat hy doen gedurende die dag (wat niemand beïndruk nie), speel hy ook in kroeë ‘n paar nagte van die week. Hy maak genoeg geld om te betaal vir sy spartaanse woonplek en hy kan die mees essensiële kruideniersware bekostig (en elke nou en dan nuwe kitaarsnare). Hierdie ou sal nooit ryk wees nie. Die feit dat hy nie ryk wíl wees nie, is van kardinale belang; as hy ryk wil wees maar hy ís nie, is hy ‘n mislukking. Sy ambisie is om mense te vermaak met sy musiek, maak nie saak hoe klein of hoe groot die gehoor is nie. As dít sy ambisie is sal mense hom respekteer, omdat hy in die eerste plek slaag in sy primêre doelwit, en in die tweede plek omdat hy iets kan doen wat meeste mense nie kan doen nie. (Die respek wat sy kant toe kom sal natuurlik vermenigvuldig as hy goed kitaar kan speel, én hy’t baie geld.)
Dit is egter nie enige vermoë wat mense laat voel die respek wat hulle vir jou het is geregverdigd nie. Mense sal dit byvoorbeeld baie amusant vind as jy “Battle Hymn of the Republic” kan poep sonder ‘n enkele vals klank, maar of dit hulle respek vir jou sal bevorder, is ‘n ope vraag. As hierdie talent egter gekombineer kan word met ander vermaaklike vermoëns wat mense aantrek tot jou (as die noodwendige effek van die “Battle Hymn” verflou het), sal mense jou respekteer vir hierdie oorkoepelende vermoë.
Watse tipe vermoë dwing respek by mense af? Onder andere die vermoëns wat hulleself al vir ‘n geruime tyd begeer, maar wat hulle nog nie kon baasraak nie. Om dan te sien hoe hierdie einste vermoëns tot gevolg het dat mense ‘n spesifieke persoon respekteer, intensifiseer net hulle begeerte om die mag wat hierdie vermoëns gee vir hulleself op te eien. Een voorbeeld: ‘n persoon fantaseer dalk al vir jare daaroor om goed kitaar te kan speel, maar het sover nog nie geslaag in sy ambisie nie. Dan neem hy waar hoeveel respek en bewondering bogenoemde musikant kry elke keer as hy begin pluk aan die snare van sy kitaar. Hierdie waarneming verskerp dan sy eie jarelange begeerte om goed kitaar te kan speel, en in die ideale geval inspireer dit hom om die nodige stappe te neem om uiteindelik soortgelyke respek van mense te kry, en om ‘n soortgelyke rede. Dieselfde geld vir die vermoë om by ‘n restaurant te kan uitroep, “Sit weg daai beursies! Vanaand is op my!”
Respek bepaal jou plek in die gemeenskap. Om nie gerespekteer te word nie, beteken dat jy as ‘n nul op die spreekwoordelike kontrak behandel sal word. Aan die ander kant, om gerespekteer te word vir iets waarvoor jy gerespekteer wíl word, beteken dat mense met jou wil assosieer. Ook, wanneer mense sien dat ander met jou wil assosieer, behandel hulle jou gewoonlik met meer respek, wat weer jou bewussyn van sekuriteit en dat jy êrens behoort, verskerp.
Om nie gerespekteer te word nie intensifiseer jou bewussyn van isolasie en vervreemding. Hierdie bewussyn laat jou op sy beurt verskyn aan mense op wyses wat nie vleiend is vir jou persoon nie, wat mense derhalwe nog minder rede gee om jou te respekteer. Hierdie onvleiende verskynings het ook die ongewenste effek dat jy nóg minder sal voel dat jy êrens behoort, wat jou angs nóg meer intens sal maak, wat jou gevoel van selfwaarde nóg meer sal ondermyn. Dat die kringloop boos is, is nie te betwyfel nie.
Hierdie is ‘n insig wat nou al vir jare by my spook. Dit is een van die belangrikste lesse wat ek geleer het gedurende die afgelope meer as ‘n dekade van my volwasse bestaan.
(10 Februarie 2001)
