‘n GEDAGTE BROEI IN MY KOP, DEEL TWEE
(Maandag, 8 Desember 2003)
‘n Gedagte het in my kop begin broei êrens in die eerste deel van Oktober. Sterk is die versoeking om te sê dat ek sedertdien aan niks anders gedink het as aan hierdie eier wat knus in sy nes lê en wag het nie. Die waarheid is egter dat hierdie idee een van daai is wat in fases uitbroei – ek is nou eers weer, in die eerste deel van Desember, gereed om die ander ent van die eier te tik in die hoop dat die volle waarheid uiteindelik skreeuend uit sy dop sal kruip.
My vraag was laas, hou ek steeds in my agterkop dieselfde sjabloon wat betref my toekoms? Ek het tot ‘n groot mate neergevel wat ek wou sê, en ek loop die risiko dat ek net dieselfde politiek weer gaan uitbraak, om dit weer ‘n keer op te dis as iets nuuts wat ek nog wil “bysê”.
Ek meen nou al vir ‘n geruime tyd dat ek hierdie onpubliseerbare versameling stukke gaan afhandel, al my kontant in ‘n plastieksak gaan toedraai, en terug sal gaan Suid-Afrika toe. Daar aangekom sal ek dit en dat doen, naamkaartjies laat druk wat sê wie ek is, hoekom ek op daai dorp my sole wil deurloop, en hoe ek reken ek by die gemeenskap inpas – in terme wat my dorpsgenote sal verstaan. Ek sal binne enkele weke ‘n plaaslike burger wees wat herken, en vriendelik gegroet sal word elke Saterdagmiddag as ek balle by die gholfbaan gaan optel om te verkoop vir brood en twak.
Lank voordat ek sal begin verlang na Taiwanese vrouens en diepgebraaide seekat, sal ek aansit vir aandete by ‘n vooraanstaande linksgesinde op die dorp se dogter. Kort daarna sal sy te bly wees dat iemand soos ek met háár sal wil trou, siende dat sy nét vyf operas op die klavier kan speel, gereeld haar humeur verloor vir sosiale onreg, haar ma altyd gesê het sy’s heeltemal te slim om ooit ‘n goeie man te kry, en sy ‘n veels te goeie sin vir humor het om ooit ernstig opgeneem te word deur enige regdenkde digter of skatryk ingenieur.
En so sal my lewe voortgaan volgens die konvensionele model. Die skoonfamilie sal soms verplig voel om verskoning te maak oor my sogenaamde “verlore jare”, toe ek “weggeraak in die Verre Ooste om te skryf”. Ek sal egter wees waar meeste burgers van die Middelkosmos eens gedroom het hulle sal opeindig – getroud, huis, werk, kinders, grassnyer…
Ek weet ek maak myself skuldig aan stereotipes. Ek weet lewe in die middelstratum van die samelewing is geen Voortrekkerkamp of Sondagskoolpiekniek nie. Ek weet alle mense, middel of nie, wil graag ‘n behoorlike dak oor hulle koppe hê. Ek weet almal probeer hulle bes om genoeg geld elke maand bymekaar te skraap om siel binne vel en been te hou. En ek verstaan om jou eie kind in jou hande vas te hou verander jou beskouing van sake op wyses wat jy nooit sou kon raai nie.
Steeds wonder ek: IS DIE DROOM VAN ‘N MIDDELKLASBESTAAN NOODWENDIG VIR ELKE VOLWASSE PERSOON BESKORE? Wat – om die noodwendige opvolgvraag te vra – is die alternatiewe modelle van ‘n suksesvolle, gelukkige, vervullende volwasse bestaan? Een probleem om hierdie vraag te beantwoord is definisie van ‘n middelklasbestaan. Daar’s ook faktore wat ‘n antwoord verskillend maak vir verskillende mense – maatskaplike realiteit, kulturele verwagtinge, en sienings van wat ‘n suksesvolle volwassene is, speel alles ‘n rol.
Siende dat hierdie nie ‘n akademiese werk is nie, en omdat ek nie in die posisie is om oor enige iemand anders se lewe te skryf nie, slaan die byl dus weer teen my eie voordeur vas. Wat sou dus die alternatief wees vir my, of dan ten minste vir iemand in my posisie? Ek is 32 jaar oud, besit geen eiendom nie, en ek besit nie ‘n motorkar nie. Die paar stukke meubels wat ek my eie noem, staan ‘n woonstel in Noordoos-Asië vol. Ek het die ekwivalent van ‘n paar duisend rand in die bank, glo nie in kredietkaarte nie, het geen dokumentasie van ‘n vaste salaris om ‘n bankbestuurder mee te beïndruk vir ‘n huislening nie, en ek het ‘n hardkoppige streek wat maak dat ek wil skryf wat ék wil skryf ongeag of dit publiseerbaar is of nie, selfs as ek eintlik aksies moet neem om meer geld te verdien. Wat is my opsies dus, as ek nie kwalifiseer vir die standaard ideaal van ‘n middelklas-gesinsman nie, en die samelewingskriteria van ‘n “volwassene” swaai vryelik bo-kant my kop verby?
[NOTA: Die “samelewing” waarvan ek praat verwys in die konteks van hierdie stuk spesifiek na meer konserwatiewe, middelklas, “family values” gemeenskappe. Dit sluit in my eie ouers, my susters, en vriende wie ek om verskeie redes as belangrik ag.]
(Dinsdag, 9 Desember 2003)
Om te trou en kinders te kry is meer as net ‘n leefstylkeuse – dit is, en was heel moontlik nog altyd, oor kultuur- en tydsgrense heen, die primêre vereistes om te kwalifiseer as ‘n volwaardig volwasse lid van die gemeenskap.
Natuurlik betwyfel niemand jou vermoë om keuses te maak, en verantwoordelikheid te neem vir jou eie aksies as jy ouer as 21 is nie, en soveel te meer as jy reeds die Groot Drie geslaan het. Dis egter een van daai gevalle waar mense sal sê “Ja, jy is nou oud genoeg om saam te gesels, maar…,” en dan nie altyd hulle sin kan voltooi nie.
‘n Vriendin vra onlangs vir my – sonder dat sy bewus was daarvan dat dit ook een van mý huidige troetelkwessies is, wanneer ek reken ‘n mens se ouers jou sien as ‘n volwassene, as volwaardig een van “ons”. Mý vraag is, wanneer sien nie net jou ouers nie, maar die breë gemeenskap jou as ‘n volwasse een van hulle? ‘n Voorlopige antwoord was reeds aangebied – trou-en-kinders (en as jy kwalifiseer vir ‘n lening, kan huiskoop bygevoeg word).
Wat ons terugbring by my vraag van gisteraand: Gestel trou-en-kinders is óf nie jou keuse nie, óf jou nie beskore nie, wat dan? Gaan jy tot jy tagtig is behandel word as ‘n tweede-klas-volwassene? Gaan volwassenes wat kwalifiseer om as sulks beskou te word volgens die genoemde kriteria geïrriteerd raak as jy ‘n mening wil lewer oor “volwasse sake” soos kinders en die opvoedingsproses, omdat “jy nie weet nie, want… jy weet net nie”? (Terloops, die drie dinge – huiskoop, trou, en kinders-kry, word gereeld in een asem genoem as mylpale wat ‘n mens kwalifiseer as ‘n volwassene. Maar selfs al besit jy nie eiendom nie, al is jy geskei of al was jy nooit eens getroud nie, wat werklik saak maak is of jy die verantwoordelikheid ken van om jou eie kind groot te maak. Dit, meer as enige iets anders, is die Goue Ongeskrewe Vereiste.)
Ek glo, in beginsel, dat daar uitsonderings op die reël moet wees; waar iemand wat nooit sy of haar eie kinders geproduseer en/of grootgemaak het nie, wel gerespekteer word as ‘n volwaardige volwassene. Die beste voorbeelde waaraan ek kan dink is die Katolieke Pous en die meerderheid Katolieke priesters. Hierdie groep word inteendeel gerespekteer omdat hulle die vreugde (en verantwoordelikheid) van eie kinders uit vrye wil prysgegee het, sodat hulle die Kerk, en hulle geloofsgemeenskap kan dien soos hulle dogma dit uiteensit. Selfde met die Dalai Lama en Tibettaanse Boeddhistiese monnike. Mens kan amper sê dat voltydse lede van hierdie religieuse en ander soortgelyke gemeenskappe spesiale “vrywaringsbriewe” het om nie aan die konvensionele kwalifikasies vir volwaardige volwassenheid te voldoen nie.
Wat van ander volwassenes wat buite die konvensionele kriteria val? Waar pas die volwassenes in wat hulleself in inrigtings bevind, of wat op straat slaap en as “boemelaars” geklassifiseer word? Niemand verwag werklik van volwassenes in sielkundige inrigtings om op te tree, of te funksioneer as volwassenes nie (en van hulle word moontlik opgesluit in die vrees dat hulle wel kinders sal verwek); en boemelaars word in elk geval nooit geag as goed genoeg vir enige iets anders as miskien ‘n muntstuk en ‘n kort prekie in die parkeerterrein nie. Pas hulle in as volwasse lede van die gemeenskap? Hulle word nie heeltemal as kinders behandel nie, en in sommige gevalle word daar van hulle verwag om verantwoordelikheid vir hulle aksies te neem, so… sal ons dit vir die oomblik daar laat om hulle “semi-volwassenes” te noem?
Om terug te kom by my situasie: ek is nie kranksinnig nie; ek is ook (nog) nie ‘n boemelaar nie; ‘n priester is ek ook nie, en ek dink nie daar is enige twyfel of ek die Pous is nie. Omdat ek dus nie ‘n kranksinnige priester-boemelaar is wat homself “Pous” noem nie, val ek nie in die semi-volwasse groep nie en kwalifiseer ek nog minder vir ‘n Katolieke vrywaringsbrief. Omdat ek ook nie kinders het nie, bevind ek myself derhalwe in die groep van ongetroude, enkellopende, werkende volwassenes wat nie volgens vele se standaarde as VOLWAARDIGE VOLWASSE LEDE VAN DIE GEMEENSKAP kwalifiseer nie.
Pla dit my? Dit irriteer my meer as wat dit my pla. Ek beskou myself as ‘n volwaardige volwassene, maar as die vereistes van kinders en (moontlik) eiendom geld, gaan ek altemit nie as ‘n volwaardige volwassene behandel word deur mense wat wel voldoen aan hierdie vereistes nie.
Ek kan die hele debat omgooi na die ander kant toe en sê dat daar baie sogenaamde volwaardige volwassenes is wat “Ouer” kan skryf op hulle identiteitskaartjies, maar wat ek as onvolwasse sal beskou volgens my eie kriteria van volwasse opinies en gedrag.
Hierdie mense sal dalk aandagtig luister wanneer ek opinies lewer oor sekere aangeleenthede waaroor hulle nog nie opinies van hulle eie uitgesorteer het nie, maar as die gesprek verander na ouerskap en die gepaardgaande verantwoordelikhede, sal hulle dalk van my verwag om my opinies eerder op hok te hou, want “hoe kan jy weet van hierdie dinge?”
Behoort daar nie iets te wees soos ‘n kredietstelsel nie? Behoort mens nie krediet te kry vir uitgesorteerde opinies oor “volwasse” sake wat relevant is vir alle volwassenes nie; krediet wat sal opmaak vir die gebrek aan krediet wat ander se beloning is vir intieme eerstehandse kennis van ouerskap, al het hulle dalk nog nie soveel uitgesorteerde opinies nie? Die antwoord is heel waarskynlik negatief. Ouer-volwassenes het die breë gemeenskap aan hulle kant. Goed en wel as jy die betekenis van die lewe, en kwessies soos identiteit en die rol van plek in die mens se lewe uitgesorteer het in “volwasse” woorde; wat saak maak, is of jy kinders het of nie.
Hoe sal dit my opinie verander as ek wel eendag my eie kind in my arms toevou? Ek sal graag wil antwoord dat dit nie my opinie sal verander nie. Dit sal my nog steeds irriteer as iemand van mening is dat ek nóú kan deelneem aan die gesprek as dit oor kinders gaan, “want jy’s mos nou self ‘n ouer”. ‘n Persoon is ‘n volwaardige volwassene omdat hy ‘n volwasse ouderdom bereik het, omdat hy weet hoe om te funksioneer as ‘n volwassene, en omdat hy verantwoordelikheid neem vir sy eie aksies in die gemeenskap in wie se midde hy homself bevind. Ek het nie kinders van my eie nodig om as ‘n volwassene gedefinieer te word nie, en ek het nie kinders van my eie nodig om ‘n opinie oor die onderwerp van kinders grootmaak te lug nie.
(Terloops, ís daar mense wat, bewustelik of onbewustelik, gemotiveer word om kinders te kry sodat hulle uiteindelik kan kwalifiseer as “werklike” volwassenes in hulle gemeenskap? Ek glo daar is.)
Hierdie stuk het ‘n paar draaie geloop waarop ek nie oorspronklik gereken het nie. (Ek beplan in elk geval nie eintlik my stukke nie; ek skryf hoofsaaklik hardop, dink dan ‘n titel uit en noem die eindresultaat “‘n stuk”). Ek dink ek wou aanvanklik geweet het of ek net die een opsie het vir die toekoms, naamlik om terug te gaan Suid-Afrika toe, geld te verdien, huis te koop, te trou en kinders te kry.
Ek wou op een of ander kol nog alternatiewe noem, soos die ou wat twintig jaar lank in ‘n woonstel in Hong Kong woon, vlot Chinees kan praat, baie reis, elke jaar hope literêre materiaal produseer (beide publiseerbaar en onpubliseerbaar), en geken sal word as die “eksentrieke oom van die Ooste” deur sy susters se kinders.
Ek glo egter die kwessie van hoe volwaardige volwassenheid gedefinieer word, was die noodwendige resultaat van die oorspronklike gedagte wat gebroei het in my kop.
[EKSTRA NOTA:]
Die probleem in hierdie stuk was dat mense wat kwalifiseer volgens sekere kriteria, behandel word as “volwaardige volwassenes”. As jy oud genoeg is om by verstek te kwalifiseer maar jy voldoen nie aan hierdie sogenaamde “benchmarks of adulthood” nie, word jy steeds aanvaar as ‘n mede-volwassene, maar jy word gereeld op subtiele wyses herinner daaraan dat jy nie aan ‘n paar kardinale vereistes voldoen nie.
Ek het egter veel later aan iets anders gedink. Vind mense nie in soveel gevalle enige iets om hulleself in ‘n beter lig te stel nie? As die ander volwassene nie kwalifiseer volgens die tradisionele “benchmarks” nie, dan vind hulle dit daarin. Dan sal dit hierdie saak wees waarop hulle sal hamer tot vervelens toe. As hulle dit nie daarin vind nie, dan sal dit wees oor die ander persoon se werk, of hulle kinders wat te veel lawaai maak, of “hulle verbasende swak smaak in huisdekor in ag genome dat hulle soveel geld het”.
Uiteindelik is dit seker ook naïef om te verwag dat jy dieselfde reaksie sal kry van ander volwassenes om die tafel as die gesprek gaan oor eiendom, as die ander volwassenes eiendom besit en jy nie. Of dat jou mening noodwendig dieselfde gewig sal dra as die gesprek gaan oor die opvoeding van kinders, as jy nie enige kinders het nie. Dieselfde vir ‘n gesprek oor huweliksprobleme as jy nog nooit getroud was nie.
Tog, sommige volwassenes sal altyd standaarde koester wat hulle eie lewens in ‘n beter lig stel. En die volwassene wat glo in sy eie waarde, sal dit makliker vind om sommige van hierdie standaarde toepaslike gewig te gee.
___________
