My huidige lewe

VRYDAG 19 SEPTEMBER 2003

Ek kan nie slaap nie, en ek wil nie wakker wees nie. Ek wil gesond wees en vir ewig leef, maar ek wil nie ophou rook nie. Ek wil genoeg geld hê om te kan doen wat ek weet moontlik is, maar dis nie my huidige realiteit nie. Ek is vasgevang in ’n lewe waarin ek my bes doen, terwyl ek gebuk gaan onder die oortuiging dat dinge nie besig is om uit te werk soos ek dit graag wil hê nie.

Ten spyte van my huidige toestand bewe die vingers nie wat hierdie woorde tik nie, en geen bloed drup uit my polse nie. Die materiaal wat ek produseer is ’n eksterne bewys dat ek lewe, en juis dít motiveer my om te skryf. Dit wat ek produseer is dokumente wat verklaar hoe ek leef op enige tyd gedurende my aardse bestaan, wat getuig hoe ek voel en hoe my spesifieke ervaring van die werklikheid daarna uitsien.

(Dit, net so terloops, is hoekom ek nie te veel omgee of my literatuur ooit borgskap sal ontvang van ’n gevestigde kommersiële uitgewer nie. Wat beteken dit in elk geval om “gepubliseer” te word? Dit beteken iemand wat nege-uur in die oggend by die kantoor aankom, almal vriendelik groet, agter ’n lessenaar inskuif en ’n knoppie op die telefoon druk wat koffie sal laat arriveer binne twee minute, my “manuskrip” gelees het, en van mening is dat my woorde ’n profyt sal kan maak vir die maatskappy wat elke maand die salaristjek voorsien sodat hierdie persoon kruideniersware kan koop, en wat aan die einde van die jaar ’n trip see toe moontlik sal maak. Ek kan nie anders nie as om te dink aan wat die dramaturg vir die teatereienares gesê het in die film Illuminata, “Who are you to decide on the legitimacy of my work?”)

Ek probeer al vir jare aan ’n skare van nul oortuig dat ek nie deel is van hierdie wêreld nie; dat ek net hier is on assignment. Dit voel soms asof ek van ’n ander tyd of plek in die kosmos af kom. Ek – met die naam wat in my paspoort staan, en met al die nommers wat my wettiglik deel maak van Beskaafde Samelewing – is veronderstel om sekere dinge uit te vind, om sekere vrae te beantwoord. En aan die einde van alles gaan ek terugrapporteer aan dié wat my gestuur het, en hulle gaan sê: “Goeie werk. Hier’s jou volgende opdrag.”

Ek probeer hierdie dinge nou al vir jare verduidelik aan mense wat vir my sê: “So jy skryf, né? Hoekom probeer jy nie van jou goed publiseer nie?” Of, “Jy moet ’n bietjie kortverhale of ’n paar artikels skryf.” Hoe moet ek aan hierdie mense verduidelik dat kosmiese verslae nie vir die algemene leserspubliek bedoel is om te lees op pad werk toe, of in die aande as daar niks op TV is nie?

Enigste probleem is, hierdie kosmiese opdrag het met ’n paar haakplekke gekom (miskien het ek nie die fynskrif gelees nie). Om die opdrag behoorlik te kan uitvoer, moes ek ’n aardse lewensvorm aanneem – spesie Homo Sapiens om spesifiek te wees. En soos ander Homo Sapiens kan getuig, beteken dit dat ek rondloop met ’n hiërargie van problematiese behoeftes elke dag van hierdie ellendige aardse bestaan. Ek moet byvoorbeeld eet, en jy kan nie elke dag dieselfde goed eet nie want dan sê mense jy’s vervelig (en dit maak saak … lang storie). Jy kan ook nie elke dag diepgebraaide seekat met vanilla melkskommels afsluk nie, want dan gaan jou are uiteindelik so verdik van al die cholesterol dat jy vrek gaan neerslaan een aand op pad na die seekat plek toe. ’n Mens voel ook hierdie irrasionele drang om amper op ’n daaglikse basis “tyd te spandeer” met ander mense. Laasgenoemde behoefte kan op tye uiters irriterend raak, want meeste mense verstaan nie my hoogs delikate opdrag op hierdie stukkie van die kosmos nie.

Benewens die behoefte om tyd te spandeer in gemeenskap met ander bestaan daar ook die drang, wat erger raak soos die mens ’n sekere ouderdom bereik, om voort te plant met een van gewoonlik die teenoorgestelde geslag. Om kinders te verwek is egter net die oënskynlike doel van hierdie aktiwiteit, want die voortplantery gaan gewoonlik gepaard met intense plesier. Dit is hierdie plesieraspek wat meeste mense mal dryf tot hulle te oud raak en nie meer lus is vir sulke speletjies nie.

Om een van gewoonlik die teenoorstaande geslag te oortuig om oënskynlik voort te plant wissel in moeilikheidsgraad van die maklikste ding op aarde tot feitlik onmoontlik. En om bevrediging van hierdie drang regtig ingewikkeld te maak, is daar faktore soos moraliteit, gevoelens, verwagtinge, teleurstellings, en die kans dat oënskynlik-voortplant-maar-eintlik-net-vir-die-plesier-daarvan kan lei tot die biologiese resultaat wat die eintlike ontwerp was vir die aktiwiteit. En dan’s mens weer terug by moraliteit, verwagtinge, die “regte ding” doen, en konvensies soos die huwelik.

Daar’s wel maniere hoe ’n mens, vir kort periodes op ’n slag, hierdie ongelooflik komplekse spel tussen drange (waarvan die seksuele maar een is) en bevrediging kan vergeet. ’n Hele verskeidenheid chemiese middels is beskikbaar by mense wat gewoonlik eenkant staan op straathoeke, of in lokale waar mense hulle tyd verwyl om die lewe meer draaglik te maak. Alkohol word ook reeds vir millennia ingespan vir spesifiek hierdie doel. Die probleem – en teen hierdie tyd behoort dit duidelik te wees dat daar feitlik altyd ’n probleem sal wees – is dat hierdie sogenaamde verdowingsmiddels net in klein dosisse geneem kan word. Word hierdie middels nie in matigheid genuttig nie, lei dit tot morsige gevolge soos verslawing, en ’n lang lys van hoogs onaangename aktiwiteite wat mens dan moet onderneem om die verskerpte drang te bly bevredig. En was die aanvanklike idee nie om bietjie weg te kom van onvervulde behoeftes nie?

So hier sit ek: Ek kan nie slaap nie, en ek wil nie wakker wees nie.

Ek wens soms – en ek weet nie of mens dit mag sê nie – dat ek kan klaarkry met my kosmiese opdrag. Dat ek een oggend kan wakker word en óf terug kan wees waar ek vandaan kom, óf net ’n gewone mens kan wees.

As laasgenoemde die geval is, sal ek heel moontlik kies om ’n kantoorwerker te wees …

Ek sal nie regtig ’n belangrike posisie wil beklee in hierdie kantoor nie – in hierdie verbeeldingsvlug van my lewe as ’n gewone man. En daar moet definitief ten minste ’n paar mense wees wat ek “Baas” kan noem. Ek sal nie graag die een wil wees wat elke dag koffie maak vir almal nie, maar ek sal graag die heeltyd koffie wil drink. En ek sal ’n lessenaar wil hê, met papiere op, en miskien ’n paar stempels.

As die horlosie teen die muur vyf-uur slaan, wil ek al gereed staan. Ek sal die vensters toeskuif, die lig afskakel, die deur toetrek, en “Totsiens! Sien julle môre!” roep vir almal wat nog rondstaan met koffiebekers in hulle hande. Dan sal ek grappies maak met my kollegas in die hysbak, by die kafee op die hoek ’n koerant koop, en by die busstop gaan wag vir die vyf-vyftien.

Na ’n twintig minute busrit sal ek arriveer by “ons huis”. Ek sal die draadhekkie oopskuif, en die sementpaadjie volg na die voorstoep.

Teen die tyd wat die gaasdeur agter my toeklap, sal twee kinders reeds aan my broekspype trek, elkeen oortuig van hulle reg om eerste vir my hulle stories te vertel. Dan sal ’n aantreklike vrou uit die eetkamer kom, die tydskrif in haar hand neersit op ’n tafeltjie naby die voordeur, en my omhels vir ’n paar oomblikke.

Ons sal almal ons hande gaan was, en aansit vir aandete. Ek sal ’n mooi tafelgebed resiteer, en dan sal ons weglê aan borde vol rys, aartappels en vleis. Na aandete sal ek en my vrou die skottelgoed was, en ek sal haar vertel wat dié en daai vandag by die kantoor gesê of gedoen het.

Dan sal my vrou vir my die roosknoppies in die tuin gaan wys – want dit sal lente wees, en die skemerlig sal net-net voldoende wees om die blomme te kan waardeer, en die bure se gesigte te kan sien as ons mekaar groet. Nadat ons die kinders gehelp het met hulle huiswerk, sal ons almal ’n bietjie TV kyk.

So teen nege-uur of tien-uur sal ons “Goeienag” sê. Ek sal die kinders elkeen omhels, en hulle liefderyk op hul voorkoppe soen. Dan sal ek seker maak hulle klim reg in hul knus beddens in. Ek sal die beddegoed oor hul borsies trek, elkeen weer ’n piksoentjie gee, en gelukkig en tevrede na die hoofslaapkamer stap.

’n Kwartier later sal ek in die bed langs my vrou lê. Dan sal ek haar sagte, warm hand in myne neem, en saggies vir haar fluister, “Ek moet jou tog eendag vertel van my vorige lewe …”

______________________