Krapmerke van volwassenheid

DINSDAG 18 NOVEMBER 2003

Die sogenaamde “benchmarks of adulthood” is trou en huiskoop. Volgens hierdie standaard is ek nog ’n kind, vasgevang in die lyf van ’n volwasse man. Sekerlik sal ek een of ander tyd die “benchmarks” tref. Die vraag is, sal ek dan meer soos ’n volwassene voel as wat nou die geval is?

Dis vreemd hoe ek amper daarna uitsien om groot te wees, om uiteindelik, na jare as ’n kind-man vasgevang in my eie vreemde wêreld, te kwalifiseer as ’n volwaardige volwassene in die oë van die gemeenskap. Sal ek ’n motorkar hê? Ek sal sekerlik ’n huis hê. Miskien sal ek selfs elke dag moet skeer! Ek sal ook gras moet sny. Ek sal natuurlik – uit die aard van die saak, want dis ’n vereiste – getroud wees.

My “vrou” sal my voorstel aan mense as haar “man”. Ons sal op Saterdagoggende gaan inkopies doen, ek in ’n ou T-hemp en heel moontlik ongeskeerd (siende dat dit naweek is). My “vrou” sal gevriesde groente en vars vrugte in die waentjie gooi, en die gevriesde pizzas en vars doughnuts uithaal wat ek ingegooi het. Miskien sal ons kerk toe gaan elke Sondag – ek natuurlik skoongeskeer, met ’n netjiese pak klere aan.

Op Sondagmiddae sal ons by vriende kuier, soos ordentlike volwassenes tee drink uit koppies met bypassende pierings, en gesels oor wat die vorige week gebeur het by die “werk”. Na die geselsies sal ons weer in ons motorkar klim. My “vrou” sal die bestanddele van ’n resep met die ander vrou bevestig, en dan sal ek een of twee keer liggies op die toeter druk soos ons wegry, met ’n enkel arm waaiend uit die venster.

Ai. Hoe lekker klink dit nie om groot te wees nie. Ek wonder net, sal dit orraait wees as ek net elke derde dag skeer? En is daar ’n kans dat ons kan onderhandel oor die grassnyery?

______________________