KRAPMERKE VAN VOLWASSENHEID
Die sogenaamde “benchmarks of adulthood” is trou en huiskoop. Volgens hierdie standaard is ek nog ‘n kind, vasgevang in die lyf van ‘n volwasse man. Whatever. Die punt wat ek hier wil maak is dat ek sekerlik een of ander tyd die sogenaamde “benchmarks” gaan tref, en die kans is dat ek dan meer soos ‘n volwassene gaan voel as wat nou die geval is.
Dis vreemd hoe ek amper daarna uitsien om groot te wees, om uiteindelik, na jare as ‘n kind-man vasgevang in die barre woesteny van isolasie, te kwalifiseer as ‘n volwaardige volwassene in die oë van die gemeenskap. Sal ek ‘n motorkar hê? Ek sal sekerlik ‘n huis hê. Miskien sal ek selfs elke dag moet skeer! Ek sal ook moet grassny. Ek sal natuurlik – uit die aard van die saak, want dis ‘n vereiste – getroud wees.
My “vrou” sal my voorstel aan mense as haar “man”. Ons sal op Saterdagoggende gaan inkopies doen, en my “vrou” sal kla omdat ek ‘n vuilerige T-hemp dra, en heel moontlik ongeskeerd sal wees (siende dat dit naweek is). Sy sal gevriesde groente en vars vrugte in die waentjie gooi, en die gevriesde pizza’s en vars doughnuts uithaal wat ek ingegooi het. Miskien sal ons kerk toe gaan elke Sondag – ek natuurlik skoongeskeerd, met ‘n netjiese pak klere aan.
Op Sondagmiddae sal ons by vriende kuier, soos ordentlike volwassenes tee uit koppies drink, en beleefde grappies maak oor die feit dat ek ‘n derde stuk tert wil hê. Na die geselsies sal ons weer in ons motorkar klim, my “vrou” sal met die ander “vrou” ‘n laaste resep uitruil, en dan sal ek een of twee keer liggies op die toeter druk soos ons wegry, met ‘n enkel arm waaiend uit die venster.
Ai. Hoe lekker klink dit nie om groot te wees nie. Ek wonder net, sal dit oraait wees as ek net elke derde dag skeer? En is daar ‘n kans dat ons kan onderhandel oor die grassnyery?
(18 November 2003)
___________
