KOM-DIK-DOK 001
[Twee dae na die begin van die Nuwe Tyd, en siende dat daar niemand in my woonstel is met wie ek kan argumenteer nie, doen ek dit maar soos ek dit altyd doen – met myself, op papier.
Die stuk het, tegnies gesproke, geval deur ‘n kraak in die ooreenkoms met myself – ek was nie veronderstel om die rekenaar aan te wend vir “kreatiewe skryfwerk” nie; dokumente en projekte van ‘n suiwer kommersiële aard was aan die orde van die dag. Ek het aanvanklik gereken dat ek nie regtig die reël oortree nie want ek was immers besig met Nuwe Tyd-administrasie. ‘n Subtiele verskyning van die “skrywer” het egter die tweede deel van die teks effens verander.]
![]()
Besigheid waaraan ek nie meer as vyftien ure per week wil spandeer nie. Hoe meer ek skryf, hoe beter. Ek kan 60 ure per week op besigheid spandeer, en ek kan 60 keer meer geld verdien as wanneer ek een uur per week daaraan spandeer. Hoe meer ek skryf, hoe meer skryf ek. Hoe meer ek skryf, hoe beter skryf ek, en hoe beter ek skryf, hoe nader is ek aan wie ek werklik wil wees. Plus, hoe meer ek skryf, hoe meer idees kry ek, en hoe skerper raak my insig. Dus, hoe minder tyd ek aan besigheid hoef te spandeer, hoe beter…
Dis alles goed en wel, maar in hoeveel tale moet ek myself beswadder voor ek besef my pa is nie ryk nie, en selfs al was hierdie die middeleeue en ek het ‘n ryk patroon gehad wat my van ‘n inkomste voorsien het, sou ek dit nie wou gehad nie! So, ek sal slim moet wees, want ek sal genoeg geld (en hoe meer hoe beter?) moet verdien om te oorleef en my ambisies en hoop vir ‘n beter volgende dag te realiseer.
Daar is egter een ding wat ek geneig is om oor die hoof te sien – besigheid waaraan ek meer as 60 ure per week sal wíl spandeer selfs al kry ek nie noodwendig meer geld daarvoor nie.
Ek is moeg daarvoor dat ek altyd kreatiwiteit en persoonlike oortuigings aan die een kant in gelid stel, en aan die ander kant die uiterste noodsaaklikheid aan ‘n inkomste. Ek is moeg daarvoor om hierdie twee kante teen mekaar af te speel asof dit een of ander agtiende-eeuse veldslag is, met ek wat met my koppie tee en my adellike kostuum op die heuwel staan, my wit sakdoekie laat val, en dan sien hoe die twee kante mekaar bevlieg.
Hier is die harde werklikheid: EK verloor elke keer.
Hierdie sogenaamde “kommersiële diktatorskap” is wel nodig, maar dit kom tog voor asof dit ‘n klassieke manifestasie is van die konflik wat ek aanvuur tussen “kreatiwiteit” (spesifiek skryfwerk) en “besigheid”.
Waarop dit neerkom, en sal neerkom vir die oorblywende 97 dae is wanneer ek agter die rekenaar kom sit ek nie op my Skryfwerk 2004-folder sal kliek nie, maar op ‘n besigheidsverwante dokument. Dit kom daarop neer dat oproepe gemaak sal word, en dat aksies geneem sal word wat uiteindelik op die resultaat sal uitloop van geld in my sak en in my bankrekening.
Ek kry egter die idee dat ek iets mis, en/of iets verkeerd doen. Miskien sou ‘n derde party my binne een oogopslag kon wys daarop, maar in die afwesigheid van so ‘n wyse persoon moet ek hier sit en skryf om dit te probeer uitsorteer.
Ek het ‘n paar idees oor hoe om geld te verdien in Suid-Afrika. Hierdie idees is interessant, en handel oor dinge wat ek sal geniet. Voorbeelde: [gesny]. Ek glo hierdie dinge is goed genoeg om aan my ‘n langtermyninkomste te gee, en om my identifikasie aan die gemeenskap te help fasiliteer; dit sal ook aan my geleentheid bied om uitdrukking te gee aan my kreatiewe instinkte (en om te sê wat ek glo ek moet sê, of om iets na te laat wat miskien vir ander van waarde kan wees in die toekoms).
Wat is dan die probleem? Of miskien moet ek ‘n meer spesifieke vraag vra: Wat presies is die doel van hierdie “kommersiële diktatorskap”? Die doel is, in die heel eerste plek, om ten minste 100,000 Nuwe Taiwan dollar bymekaar te kry sodat ek my lewe kan voortsit in Suid-Afrika.
En ‘n voortsetting sal dit wees. Vir lank sê ek al dat ek dán ‘n lewe in Suid-Afrika sal begin, maar feit van die saak is dat ek dieselfde mens sal wees as nou, met dieselfde oortuigings en ideale, net in ‘n ander omgewing. Natuurlik speel laasgenoemde altyd ‘n rol in wat jy sê vir wie en wanneer en in watter taal, en natuurlik beïnvloed hierdie dinge hoe jy jouself definieer in ‘n spesifieke omgewing, maar die fondasie van ‘n buitengewone lewe is gelê die afgelope vyf jaar in Taiwan. Hierdie lewe sal voortgesit word in Suid-Afrika, met sekere maatreëls om dit te versterk en vir die langtermyn te verskans. En dit kan gedoen word sodra ek ten minste NT$100,000 in die sak het.
Die primêre doelwit van my aktiwiteite oor die volgende 97 dae is om ten minste reeds genoemde bedrag geld bymekaar te kry. Hoe ek geld in Suid-Afrika gaan verdien is ‘n vraag wat reeds tot ‘n groot mate beantwoord is, en met meer detail aangepas sal word wanneer ek daar is.
Die primêre doelwit van die KD is dus repatriasie-geld. Die eerste sekondêre doelwit is om maatreëls te tref om te verseker dat ek binne enkelhand-weke na my terugkeer kan begin om ‘n inkomste te genereer in Suid-Afrika. Die tweede sekondêre doelwit is om te werk aan idees vir langtermyninkomste.
Die volgende tabel kan dus opgetrek word:
[gesny]
Ek beweeg so stadig soos ‘n kontinent vol ys op pad na die Noordpool. Daar is wel dinge wat my motiveer, anders het ek nie nou hier gesit en tik nie, maar daar’s geen vuur nie. Ek is soos ‘n kommunistiese regering vyftig jaar na die rewolusie wat my voorgangers aan bewind gebring het.
Ek is net geïnteresseerd daarin om so spanningsloos as moontlik deur elke dag te kom, en ek sou vir weke aaneen in my woonstel gebly het as dit nie was vir die volgende redes nie: 1) my sigarette raak op; 2) ek koop nooit kruideniersware om vir myself kos te maak nie so ek moet elke dag uitgaan vir aandete; 3) ek móét elke dag behalwe Woensdag en Sondag ten minste een keer uitgaan om klas te gee; 4) soms raak ek lus vir koffie in die dorp, en dan sal ek iemand oortuig om my geselskap te hou terwyl ek myself vet slurp aan die een romerige koffie na die ander; 5) my bokse ontbytpap (die enigste kruideniersware wat ek wel koop) loop elke tien dae of so leeg, wat my dan noodsaak om na die Carrefour te ry; en 6) ek gaan fliek ten minste een keer elke twee weke.
Wat doen ek as ek in my woonstel is? Ek eet ontbyt (die hoofrede hoekom ek opstaan in die oggend), drink koffie (die tweede rede hoekom ek opstaan), en rook my eerste sigaret vir die dag (die derde rede). Afhangende van waarmee ek op die rekenaar besig was voor ek gaan slaap het, sal ek óf die rekenaar aansit terwyl die water kook, of wag tot na ontbyt. Dan sal ek gaan sit agter die rekenaar, ‘n CD kies, dit in my Aiwa Diskman sit, die Dynamic Super Linear Bass-knoppie een keer druk (nie twee keer nie), en as die CD gelees is, die Play-knoppie druk. Dan sal ek kliek op die Freecell-ikoon en een of twee games speel voor ek op die Skryfwerk 2004-folder kliek. Oomblikke later sal ek DIE SKRYWER wees, met Abba of Juluka of ZZ Top wat in my ore blêr. Na omtrent 45 minute sal ek opstaan en vir my tee gaan maak, wat ‘n voorvereiste is vir my tweede sigaret van die dag (ek is baie gesteld op my gesondheid; ek drink derhalwe altyd tee tydens my smoke breaks).
So sal my dag dan aankarring tot ek honger raak. Miskien sal ek dan kafee toe stap vir ‘n boks dumplings, of na die supermark (waar die meisie hoenderdye braai in die aande) en vir my ‘n bakkie kitsnoedels en ‘n blikkie tuna koop. Na ek my ete genuttig het sal ek voortgaan met my “projek” op die rekenaar tot ek weer honger raak, of tot ek moet gaan stort om gereed te maak vir my aandklas (of klasse).
Na my terugkeer van die aandklasse – gewoonlik so na agt – sal ek eers weer ‘n koppie tee drink, en dié keer ‘n sigaret in die kombuis rook. (Hoewel ek miskien hiermee impliseer dat dit slegs my derde sigaret van die dag sal wees, is dit inderdaad omtrent al my twaalfde. Ek het net gedink dit sal miskien vervelig wees om te beskryf wanneer, waar en hoe ek elke sigaret rook.)
As ek vir ‘n paar ure uithuisig was het ek heel moontlik my rekenaar afgeskakel, wat beteken dat ek na my tee en sigaret in die kombuis weer die rekenaar sal aanskakel. Ek sal dan my oorfone in die Diskman steek, ‘n ander kompakskyf kies, weer die Dynamic Super Linear Bass-knoppie een keer druk, en weer Play na die skyf gelees is. Dan sal ek weer op die Freecell-ikoon kliek, moontlik dan die F4-sleutel om te kyk hoeveel games ek al agtereenvolgens gewen het, en dan F2 vir New Game.
Na twee of drie rondtes sal ek weer die Skryfwerk 2004-folder oopmaak, en dubbelkliek op die dokument waarmee ek besig was voor ek moes uitgaan. Na ‘n uur of so sal ek weer opstaan en weer ‘n smoke break vat.
Nou, my sigaretpouses mag dalk vir die gewone leser voorkom as ‘n onnodige mors van tyd en gesondheid. Laat my dan toe om u te vat deur ‘n tipiese kwartier waarna ek so liefderyk verwys as ‘n “smoke break”.
Bedags rook ek gewoonlik by die antieke kassie teen die agterste muur van my sitkamer. Vandaar sou ek kon uitkyk by die sitkamervensters as dit nie was vir die gordyn wat ek altyd toemaak gedurende die dag nie (ek trek dit wel oop wanneer ek gaan slaap sodat vars lug die woonstel kan binnesypel). Ek kan ook die voordeur sien vanwaar ek staan, en die kalender wat agter die deur hang. (Op die kalender is tans ‘n paar dae afgemerk, onder andere 23 Februarie, die eerste dag van die Kommersiële Diktatorskap, en Vrydag, 4 Junie, die dag wat ek beplan om Taiwan te verlaat met sakke vol Monopoly geld wat ek op Donderdag, 3 Junie gaan steel by die naaste supermark.)
Na ek vlugtig in die halfskemer na al die bekende ornamente en muurbehangsels gekyk het, sal ek ‘n sigaret uit die pakkie haal, en ten spyte van die feit dat daar ‘n hele houer vol aanstekers langs my staan, eers rondsoek vir my lighter. So sal ek dan staan, my tee drink, en rook intrek en uitblaas vir omtrent tien tot vyftien minute (ek rook duur, bruin sigarette met die naam van Nat Sherman, wat langer rook as kommersiële witbuise).
Terwyl ek so staan en tee drink en rook intrek-en-uitblaas sal ek dink aan my lewe. Ek sal onder andere dink aan die betekenis van my bestaan, of ek geroepe is om een of ander doel te dien, en hoe ek genoeg geld gaan verdien om “huis” toe te kan gaan. Natuurlik wissel die gedagtes met elke smoke break, en om tred te hou lê my notaboek altyd oop op die kassie.
Ook op die kassie staan ‘n houer met penne en potlode, waarvan ten minste een of twee kan skryf. Hierdie penne is egter meestal van ornamentele waarde. Die pen waarmee ek my notas maak is die enigste een wat waarde het op ‘n gegewe tydstip van my lewe. (Ek het Maandagaand tydens ‘n klas ontdek dat ‘n student besig was om te speel met die blou pen wat ek gekoop het in Suid-Afrika tydens my vakansie verlede Julie. Die pen was leeggeskryf, so ek het dit twee weke gelede geskenk aan die penhouer in die klaskamer. Toe ek sien hoe die student die pen verniel was ek oombliklik onsteld, en hoewel ek nie so ver sou gegaan het om die kind ‘n klap te gee nie, het ek opreg jammer gevoel vir die pen. Ek was bewus van die feit dat dit nie normaal was nie, maar ek het gevoel asof ek die pen verraai het. Ek wou hom weer huis toe vat, maar besluit toe om dit eerder in die skoolkombuis se asdrom te neuk.)
Dit behoort dus duidelik te wees dat om te rook en tee te drink kardinale faktore is in die ontwikkeling van idees, en om vir kort periodes te fokus op sekere probleme in my lewe sonder die steurnis van ‘n sleutelbord onder my vingers.
Wel, die Abba-CD is klaar, my gat is seer gesit, en ek is dors en lus vir ‘n sigaret. Ek is tevrede met wat ek met my lewe gedoen het die afgelope uur, want ek het manjifiek daarin geslaag om ‘n opstel van die Kommersiële Diktator te kaap vir ‘n paar gedagtes van my eie.
Ek sal wel die tabel met spesifieke planne en die idees wat my ryk gaan maak in Suid-Afrika, moet sny wanneer ek hierdie stuk verwerk vir my literêre projek…
(Woensdag, 25 Februarie 2004)
___________
