Hoekom ek enige ambisies om my eie besigheid te begin, genadeloos moet vergruis

SONDAG 16 NOVEMBER 2014

Ek moet eintlik enige ambisies wat ek het om ’n besigheid te begin, genadeloos vergruis.

Hoekom?

Dis vir my eie beswil.

’n Besigheid is soos ’n huwelik, of eerder, soos om ’n kind te hê. Jy moet die heeltyd dink aan jou besigheid. Jy moet beskikbaar wees sewe dae per week.

Jy moet ook die heeltyd werk daaraan om jou besigheid te laat groei. En elke nou en dan moet jy dink hoe jy ’n groter porsie van die koek kan wegvat van die kompetisie.

Ek dink soms ek kan ’n besigheid begin, en dan net ’n goeie bestuurder aanstel.

’n Goeie bestuurder is belangrik vir enige besigheid, daar’s geen twyfel daaraan nie. Maar ’n bestuurder voer uit wat jy as eienaar besluit. Die eienaar moet beleid bepaal. Die eienaar moet besluit in watter rigting die besigheid gaan. Die eienaar is die een wat visie moet hê, anders stagneer die besigheid.

Die eienaar het uiteindelik ’n goeie span nodig om sy visie uit te voer, maar nie een van sy waardevolle werknemers kan sy werk namens hom doen nie. As hy nie aan die hoof staan van sy eie projek nie, gaan dit op die rotse loop, en dan gaan die waardevolle spanlede, saam met die bestuurder, in elk geval een vir een dros.

Die vraag wat ek dus aan myself stel, is of ek toegewyd kan wees aan my eie besigheid. Nie net aan die begin nie, wanneer alles nuut en opwindend is, maar ses maande later, en vyf jaar later.

As ’n mens vind dat jy inderdaad nie jouself ten volle kan toewy aan ’n besigheid nie – en met besigheid bedoel ek ’n kommersiële onderneming wat oor ’n uitgebreide periode van tyd ’n produk of diens verkoop aan ’n mark, heel waarskynlik met die samewerking, teen vergoeding, van ander mense – moet jy nie jou eie tyd, die tyd van jou teikenmark, en die tyd van mense wat vír, of sáám met jou werk, verder mors nie.

Tensy jy miljoene geërf het, ryk getrou het, of die lotto gewen het, het jy nodig om geld na jou kant toe te kanaliseer om ’n bestaan te kan maak. Jy kan die kans waag om jou tyd aan ander mense, aan maatskappye, of aan instansies te verkoop. Of jy kan jou eie besigheid begin.

As jy egter nié jou tyd aan die hoogste bieër wil verkoop nie, en jy vind dat jy, soos ek, nie jouself behoort te begewe in die huwelik of voogdyskap van jou eie besigheid nie, is jy genoodsaak om iets anders te vind. En vir in geval jy wonder: dis nooit maklik nie, maar dit is nou makliker as ooit tevore.

______________________