EERSTE STUK
[Hierdie EERSTE STUK bevat fragmente uit Die Begin Van Alle Stukke Wat Later Sou Kom. Dit was oorspronklik geskryf op die agterkant van pakke gefotostateerde akademiese materiaal en dateer uit die herfs van 1994.]
———————
OOR DIE LEWE/TESTAMENT
Hierdie gaan nie ‘n sistematiese stuk wees nie. Ek gaan net begin met ‘n paar idees wat rondmaal in my kop. [...]
[Dit] is veronderstel om my testament te wees, maar nie die soort wat gemik is op ‘n gehoor na ‘n mens se afsterwe nie (in elk geval nie in die konvensionele sin van die woord nie). Wat ek hierin gaan nalaat is nie aardse besittings nie, dis woorde. My woorde, my gedagtes.
Jy sal jouself onmiddelik afvra wat my laat dink mense sou belangstel in my gedagtes. Die antwoord maak nie regtig saak nie. Al lees niemand anders dit ooit nie, sal dit ook nie ‘n verskil maak nie. Miskien is dit ‘n manier om vir myself te bewys dat ek lewe. Hierdie stuk sal ‘n bewys wees dat ek werklik is, dat ek nie net ‘n illusie is nie – amper iets soos Descartes wat gesê het, “Ek weet ek is, want ek dink.”
Ek weet ek bestaan wanneer ek skryf. Dit wat ek skryf is gewoonlik groter as ek. Dit word ‘n simbool van my, en dien ook as ‘n eksterne bewys van my bestaan. Ek kan later na my skryfwerk terugkeer en weet ek het werklik hierdie spesifieke oomblikke geleef.
Dit wat ek skryf is deel van my, maar dit het ook ‘n lewe van sy eie. Woorde leef. Papier is soos klei. Dit wag op iemand om dit te vorm, om daarvan ‘n kunswerk te maak. Wat die kunstenaar skep, dien jare na sy afsterwe steeds as bewys van sy eertydse bestaan. So is dit met enige stuk werk wat ‘n mens skep. So is dit met hierdie stuk wat ek nou skryf. Solank as wat hierdie stukke papier behoue bly, sal ‘n deel van my bly voortleef, want dit wat hier staan, is EK. Ek is in die woorde wat ek gebruik, in die manier wat ek my sinne konstrueer, in my gedagtes wat manifesteer in die teks. Dit herinner amper aan die idee dat God lewe van Hom laat afstraal het soos ‘n fontein, en waar die strale val, is daar lewe. So is alles wat lewe dan deel van God, omdat God die oorsprong is. So is alles wat ek skryf deel van my, omdat ek die oorsprong daarvan is.
[...]
Eers ‘n belangrike nota. Jy moet jouself verstaan as jy ‘n skrywer wil wees. Jy moet ten minste ‘n vae begrip hê hoe jy funksioneer, en wat jy regtig wil hê met enige iets wat jy doen. [...]
[Hierdie] nie ‘n kortverhaal of ‘n roman, of enige iets tussen die twee nie. Tog moet dit ‘n vorm hê wat dit leesbaar sal maak vir die nasate en ander belangstellendes. Ek het vroeër gesê dis ‘n testament. Ek dink ek gaan bly by hierdie genre. ‘n Testament is tog ‘n amptelike dokument wat veronderstel is om bewaar te word, en as die skrywer van die testament dood is moet dit gelees word aan almal wat saakmaak. Ek hou verseker daarvan.
So, dis nou amptelik. Hierdie is my testament en dit sal voorgelees word wanneer daar klaar van my fisiese oorblyfsels ontslae geraak is. Ek sal naby aan hierdie stuk leef vir ‘n onbepaalde tyd. Dis iets waarmee ek in verhouding kan staan, wat afhanklik is van my om te ontwikkel en te groei.
[...]
Ek wil weet waaroor die lewe gaan. Wat behels dit as mense praat van die rat-race? Wat beteken verkeersreëls en regerings en georganiseerde sport en media, en om skool en universiteit toe te gaan? Wat is die voordele daarvan om “in te pas” in die konvensionele gang van sake? Wat is die nadele daarvan? Verskaf dit werklik satisfaksie om in te pas? Gee dit aan ‘n mens ‘n gevoel dat daar sin in die lewe is? [...]
Wat soek mense regtig in die lewe? Is dit nie maar net om OK te voel oor alles om jou nie? Om vir jouself te kan sê, “Alles in ag genome, al die goed en sleg in die wêreld en in my eie lewe, voel ek OK, en ek dink die wêreld is actually ‘n oraait plek.” Is dit nie waaroor alles gaan nie? Om te probeer inpas by die orde wat die samelewing op jou voorstoep plaas soos ‘n oggendkoerant, en wat jy moet optel en jou eie maak (en op jou eie manier verantwoordelik is daarvoor dat dit ook by die ander voordeure afgelewer word).
Word religieuse en politieke instellings nie maar net geëer om ‘n mens in staat te stel om aan die einde van die dag in jou stoel te kan neersak en te kan sê, “Ek is OK” nie? Al is dit nie regtig die geval nie, maar solank jy net glo jy is, werk dit naastenby uit! Dan ís die suburban-kleinburgery-bestaan mos ‘n waardige opsie vir almal wat skeppers en onderhouers daarvan is, of hoe?
Maar wat van die massas wat nié dink die lewe is OK nie? Wat van “emotional breakdown caused by fear, loneliness and spiritual impoverishment”?
Is mense in suburbia regtig gelukkig? En hoe groot is die verskil tussen dié wat wragtig welgeluksalig in hulle stoele terugsak en dink die lewe is OK, en dié wat hulle gatte afprobeer net om hulleself te glo as ook húlle dit sê, maar wat nie daarin slaag om hulleself te oortuig nie?
[...]
Ons soek voortdurend na iets waaroor ons seker kan wees. Soms vind jy dit in ‘n intieme verhouding met ‘n ander persoon. Soms vind ‘n mens dit in die godsdienstige sisteem wat jy kies om aan te hang, in jou geloof in die God wat jy aanbid. Ek vind my sekerheid in drie dinge: GEBOORTE, LEWE, en DOOD. Die mens word gebore. Die mens leef. Die mens sterf. Dis onwrikbare bakens van die mens se bestaan.
[...]
Hoeveel waarheid lê opgesluit in die idee dat daar nie iets soos ‘n volmaakte lewe is nie? Dat dit wat jy het miskien die beste is wat jy gaan kry. Dat daar nie ‘n volmaakte lewe is wat nagestreef moet word nie. Dat daar met ander woorde nie ‘n teiken is wat gemis kan word nie. Is dit ‘n vals aanname dat jou lewe beter en beter gaan word hoe nader jy aan ‘n veronderstelde “volmaakte” teiken kom? Beweeg die lewe in sirkels in plaas van in ‘n naastenby reguit lyn? Het God ‘n “plan” waarvolgens lewe op aarde ontwikkel?
Hoe sou ‘n volmaakte lewe lyk? Genoeg kos om te eet, ‘n huis om in te bly wat nie van jou weggevat sal word nie, liefde en aanvaarding, erkenning van ander mense, ‘n gevoel dat jy besig is om jou eie potensiaal te verwesenlik, ‘n aktiewe estetiese belangstelling in jou omgewing, en om alles te kroon, vrede met almal wat jou lewensruimte deel en met wat ookal buite die sintuie bestaan? Word ons almal geleer van so ‘n ideale lewe wat ons moet nastreef, en dat volmaakte geluk die resultaat sal wees indien ons hierdie lewe kan bewerkstellig?
Kan die lewe wat meeste mense leef voorgestel word tussen twee pole, naamlik volmaakte geluk en totale wanhoop en ellendigheid? En die mens moet probeer om soveel as moontlik van die een ekstreem weg te vlug in blinde najaging van die ander ekstreem?
Leef ons in ‘n samelewing waar ons te veel doelwit-georiënteerd is? Waar “effektiwiteit” beklemtoon word ten koste van om mense toe te rus om emosioneel te oorleef in ‘n soms bitterlik onregverdige wêreld… Is dit eties regverdigbaar om mense te druk om die heeltyd die “regte” keuses te maak, veral om “reg” te kies met godsdiens – sodat jy nie dalk vir die res van jou siel se onsterflike bestaan in ‘n poel vuur verteer gaan word nie? Is dit regverdigbaar?
[...]
Wat is die sin van orde? Hoekom wil ‘n mens jou lewe orden? Hoekom moet jou lessenaar reggepak wees, jou klere op die regte plek in die kas, jou bed opgemaak? Hoekom wil ‘n mens weet wat om te verwag, voorbereid wees, en die regte reaksies op die regte tye gee? Hoekom klassifiseer ‘n mens? Hoekom orden jy, pak jy reg, praat jy dinge uit, rangskik jy aksies in orde van belangrikheid? Hoekom handhaaf jy beginsels? Hoekom skryf ‘n mens onsamehangende stukke om jou lewe uit te figure? Het dit te make met sekuriteit? Om te weet – of te glo – jy behoort op een of ander manier aan die groter orde van dinge? Maak dit deel uit van jou soeke na identiteit en die handhawing daarvan in verhouding met alles en almal om jou?
[...]
Nog iets vir die rekord. Ek dink nie ek is ‘n skrywer nie. Ek dink nie ek gaan ooit bekendheid verwerf buite my kring van vriende en naaste familielede nie. Ek dink nie “my idees” is oorspronklik, of enigsins die moeite werd om te lees nie. Ek dink net dit sal baie eensaam wees om dood te gaan sonder om ‘n paar woorde te los wat agterna deur enkele geliefdes gelees kan word. My motivering is dus dieselfde as iemand wat ‘n selfmoordnota los as hy homself met ‘n laken aan die dak opgehang het – om myself te verduidelik.
[...]
My ma raak ontsteld as ek oor die dood praat. Sy dink ek spot met die dood. Dit is natuurlik nie waar nie. Soos ek reeds gesê het is die dood net vir my die natuurlike einde van iets wat ook ‘n begin gehad het. Hoewel ek ‘n ingewikkelde opinie het van “lewe na die dood” beteken dood op die mees elementêre vlak dat iemand se fisiese bestaan geeïndig het. Dit beteken jy hoor nie meer die persoon lag of praat nie. Jy proe nie meer koffie wat die persoon gemaak het nie, en eet nie meer die kos wat die persoon partykeer gekook het nie. Die persoon reageer nie meer op spesifieke gebeure nie, en neem nie meer deel aan gesprekke nie. Die persoon raak nie meer saam met jou opgewonde oor iets nie. Die persoon kies nie meer jou kant in ‘n onregverdige situasie nie. Die persoon is nie meer daar om by te gaan kla of te gaan raadvra nie. En dit is hartseer. Dit is baie hartseer. Daar is seker niks so hartseer soos as iemand doodgaan vir wie jy lief was nie. Maar selfs die hartseer, nes die dood, is deel van die sirkel van lewe.
Jy begin as ‘n gevoel tussen twee mense, en jy eindig as ‘n herinnering in mense se gedagtes. Jou lewe begin lank voor jy fisies ontstaan, en jy sterf nooit ten volle as jy fisies ophou om te bestaan nie – jy vervaag net in mense se geheue. Jou fisiese geboorte en fisiese dood is albei oorheersende momente in jou lewe. Net soveel blydskap en geluk soos wat die een bring, soveel hartseer en weemoed bring die ander. Die feit dat dit natuurlike momente van die lewe is, vat niks van die emosie weg wat gepaard gaan met hierdie gebeure nie. So, al is dit hoe hartseer, bly dit ‘n natuurlike gebeurtenis in die lewe van die mens om te sterf. En al is dit ‘n natuurlike gebeurtenis in die bestaan van die mens om te sterf, sal dit altyd gepaard gaan met hartseer en rou. Dis al wat daar te sê is. Dood bly onwrikbaar staan. (Maar hoekom moet ‘n mens se lewe begin met blydskap, en eindig met hartseer?)
[...]
Ek het op die 6e April besluit ek gaan ‘n skrywer word. Op daai betrokke stadium het ek gedink, “Ek is moeg vir al hierdie insecurity!” Ek het nie ‘n sent op my naam nie. My losies vir die maand is nog nie betaal nie, en dis reeds die 15e. Ek leef op Impala mieliepap met bruinsuiker en ou poeiermelk in die oggend. Vir middagete eet ek die oorskiet van die ontbyt. Vir aandete daag ek sonder uitsondering by my ouers se armsalige flat op, dan trotseer hulle die broodlyn en sit iets voor soos Impala mieliepap met wors en brood. Of frikadelle en aartappels. Ons sluk dit gewoonlik af met die slegste sigorei-mengsel op die mark. Ek wens ek was ‘n miljoenêr. Ek sou vir my ouers ‘n huis gekoop het, en vir myself ‘n borrelbad. Ek sou geleef het op caramel milkshakes en cream doughnuts, en heeldag TV gekyk het.
Dit is wat gelei het tot my besluit op die 6e April om ‘n skrywer te word. Ek was besig om nog ‘n kortverhaalbundel van André Letoit te verslind, en ek reken toe dat ek die lewe heeltemal te ernstig vat. Ek moes my insecurities produktief aanwend en ‘n skrywer word. Skrywers, so het ek gemeen, leef onseker lewens. Juis dít kwalifiseer ‘n skrywer om een te word! Natuurlik kry jy professionele skrywers wat opleiding gekry het in die skryfkuns. Maar die tipe skrywer wat ék wil word, is die insecure tipe.
[...]
‘n Askeet. ‘n Monnik. ‘n Monnik sonder geloof. Soek ek ‘n klipfort om in te bly wat ‘n oorblyfsel is van ‘n glorielose oorlog van die verre verlede? Moet die gras plek-plek groei deur die klipvloer? Moet my fort ‘n houtdeur hê wat met ‘n dwarsbalk gesluit word? En moet dit net een vertrek hê, met ‘n kaggel? Moet die skietgate toegemaak word met luike? En moet ek orals kerse hê om lig te maak teen die donker? Moet ek ‘n swaar houtbed hê wat naby die kaggel staan, of sommer ‘n mat met beddegoed op?
Daar sal definitief ‘n swaar houttafel wees wat gesag afdwing in die middel van die vertrek. Daar sal ‘n ou deurgetrapte mat voor die kaggel wees, en rakke vol boeke teen die mure. Ek sal ‘n hond hê wat by my voete sal lê terwyl ek werk, en wat saam met my sal gaan stap in die koel aandwind. Ek sal my hare en my baard laat groei, en ‘n bruin jurk en sandale dra. Ek sal baie lees en baie skryf. Ek sal skilder en mosaïekwerke maak. En ek sal beelde kerf uit hout.
Ek sal gelukkig wees en nie mense mis nie.
My grense is so vaag dat ek dit oorsteek sonder om werklik bewus te wees daarvan. Maar wanneer ek ná my venture on the outside wil terugkeer, besef ek daar’s niks om na terug te keer nie – net ‘n vaag gedefinieerde wêreld met min of geen vaste bakens.
Daar word gesê die mens is basies ‘n dier. Die verskil is nie net dat die mens geleer het hoe om instrumente te gebruik en vuur te maak nie, maar ook dat die mens paaie en geboue en motors en fabrieke en banke en skole en universiteite en hawens en parlemente en sportstadia en tronke en hospitale gebou het. As deel van ‘n geslag wat gebore is in ‘n tyd wanneer al hierdie dinge reeds gevestigde bakens van menslike beskawing is, en waar daar van jou verwag word om te konformeer aan die eise van hierdie samelewing, help dit nie veel om te wens jy kon in eenvoud leef soos jou broers en susters in die natuur nie.
Ons samelewing is te groot, en te onpersoonlik. Ons, en dié voor ons het ‘n monster geskep wat lank reeds buite beheer geraak het, wat ‘n lewe van sy eie gekry het. En as jy nie voor die monster neerbuig nie, word jy verslind en eenkant uitgespoeg.
Ek sal sterf as ek nie skryf nie. Daar is net twee dinge wat die lewe vir my draaglik maak – om uitdrukking te gee aan hoe ek die lewe ervaar, en om lief te hê.
Ons leef op ‘n planeet waarvan daar miljoene is. Ons staan geen kans teen die kosmiese magte nie. Ons het lankal ons oorspronklike wêreld verlaat waar ons soos diere net moes sorg vir kos en skuilplek en net gehoop het op gemeenskap met ander soos ons. En ons is almal aan die einde bestem om te sterf, om soos diere en plante te vergaan. So presies waaroor gaan hierdie komplekse moderne samelewing waarbinne ons gebore is, en wat ons gedoem is om in stand te hou?
