Die vraag bly steeds …

WOENSDAG 18 JUNIE 2003

Ek wil teruggaan Suid-Afrika toe. As dit binne die volgende ses maande is, kwaai. As dit eers oor drie jaar is, dan aanvaar ek dit so. Dit is egter belangrik om te weet waarheen jy op pad is. En om dít te weet, en om te weet hoekom jy dáár wil wees, is dit belangrik om te weet waar jy vandaan kom.

Ek ken die antwoorde op hierdie vrae. Ek weet dit nou baie beter as ses, en drie, en twee maande gelede. Ek weet dus waarheen ek op pad is, waar ek wil wees – nie net in terme van geografiese plek nie, maar ook in terme van die Groot Hiërargie, en hoekom ek spesifiek dáár wil wees.

Ek het egter een vraag: Wat doen ’n mens as jy alleen is?

Meeste mense wil omring wees deur familie en vriende, en naby aan die persoon wees met wie hulle ’n intieme verhouding het. So is dit ook met my. Maar wat doen jy as jy jouself in ’n situasie bevind waar jou naaste familie duisende kilometers ver is, jy jouself toenemend vervreem het van mense wat jy op ’n stadium vriende genoem het, en niemand jou by die huis inwag om saam met jou tee te drink en die dag se gebeure te bespreek nie? Miskien is hierdie situasie die resultaat van omstandighede buite jou beheer, of miskien is jyself ten volle verantwoordelik daarvoor. (Indien laasgenoemde die geval is, is dit nie te sê dis nie om goeie redes nie.) Die vraag bly steeds: Wat doen ’n mens as dit net jy is, en jy wil nie hê dit moet uiteindelik jou geestesgesondheid of moraal onherstelbaar vermink nie?

______________________