MAANDAG 3 MEI 2004
Deel een: Wil ek teruggaan Suid-Afrika toe, of …
Vra die regte vrae.
Kyk ek iets mis? Is daar dinge wat ek nie in ag neem nie? Ek skryf feitlik alles neer wat ek dink oor hierdie onderwerp, maar een ding wat ek al vir ’n geruime tyd oorweeg is nog nie genoteer nie: Is ek veronderstel om hier te wees? […]
Almal het hulle eie behoeftes, en almal skrop en pik rond op die Groter Werf tot hulle kan gaan sit, tot hulle kan toelaat dat die stof gaan lê. Hoekom is ek na 63 maande nog in Taiwan? Hoekom verdien ek nie meer geld sodat ek na net ses maande kan huis toe gaan nie?
[…]
Veroorsaak my vrese en swak reputasie as ’n funksionerende volwassene in Suid-Afrika ’n begeerte om in Taiwan aan te bly? Is vrese soms goed? Ek meen, mense trou deels omdat hulle bang is om alleen te wees, reg? Sommige mense maak nie gebruik van geleenthede om oorsee te woon en te werk nie omdat hulle bang is hulle sal verlore voel.
Die hele aangeleentheid van bly-in-Taiwan-of-gaan-huis-toe gaan gebuk onder te veel ander issues, te veel essays, te veel woorde, vorentoe-en-terug, vorentoe-en-terug. Dit gaan gebuk onder die vyf jaar wat ek nou al daaroor praat.
Ek wens ek kon myself as Regter van Planne diskwalifiseer, en eerder ’n Paneel van Wyses aanstel, ’n besluitnemingsforum wat nie geskaad is deur ’n geloofwaardigheidskrisis en “ek het reeds te veel dit of dat gesê” nie, wat nie gebukkend voortsukkel onder die karos druppend van vyf jaar se sweet en woorde nie.
[…]
Wat is my probleem? Ek wil teruggaan Suid-Afrika toe. Ek wil meer tyd met my familie spandeer as net die miserabele drie of vier weke van ’n vakansie. Aan die ander kant, behalwe vir die feit dat my familie nie hier is nie en ek derhalwe nie meer tyd kan spandeer met hulle nie, is my lewe in Taiwan ’n handgekerfde stoel wat die reële manifestasie is van hoe ek nog altyd wou geleef (of “gesit”) het.
Moet ek dit ignoreer, en so ook my vrese asof dit nie waardig is om aandag aan te gee nie?
Ek wil ’n opinie waag: Ek het nie die vaagste benul hoe dit sal voel om nie meer in Taiwan te woon nie. Nie die vaagste benul nie.
[…]
Gaan ek nog ’n dosyn bladsye vol skryf, of gaan ek by die donderse punt uitkom?!
Die punt: Settle in Taiwan. Vergeet van teruggaan Suid-Afrika toe. Besoek jou familie twee of drie keer per jaar tot jy ’n lewe kan bewerkstellig wat nog beter is as dit. (Maandag 3 Mei 2004 om 10:25)
“Sal dit nie die perfekte einde wees vir die hele repatriasie vraagstuk nie? Die skokkende, finale twist! The unexpected ending …” (Hierdie was die laaste sinne van ’n monoloog wat ek hardop die afgelope 45 minute in my sitkamer gevoer het.)
Die hoofkarakter verraai homself, en draai teen beloftes wat hy in bloed geskryf het!
Dis belaglik, maar dis presies my punt!
Oor die afgelope paar jare het die twee planne wat ek nou uiteindelik noem Settle In Taiwan en Permanent Terugkeer spesifieke byname gekry: Om permanent terug te keer het die “mooi” plan geword, die “korrekte” plan, die “radikale” idee – die plan wat, wanneer ek dit uiteindelik en beslis aankondig, ’n gejuig sal laat oprys uit die “skare”, wat die perfekte einde sal wees vir “my jarelange strewe, soos vervat in die Persoonlike Agenda …”
In kontras hiermee is die plan om te settle in Taiwan (“Ag tog,” sug die skare). Hierdie is die sissie plan, die plan wat die “hoofkarakter” sal kies as hy nie kans sien vir die mooier, meer romantiese, radikale plan nie. Dit is die plan van ’n verraaier, die plan van iemand wat toelaat dat sy vrese die oorhand kry.
Ek vra dus weer, is dit nie die perfekte einde nie?!
Kap die een faksie weer terug: “Wil jy dan nou, na alles, weer sê dis onmoontlik om ’n goeie lewe in jou eie land te hê, waarvan gemeenskap met jou familie maar een aspek is?”
Waarop die ander faksie reageer: “Wat is Taiwan, en wat was dit die afgelope vyf jaar? ’n Fabriek in die bose stad, en ek ’n arm werker van die platteland wat hier kom werk het vir ’n paar jaar om genoeg geld te verdien, sodat ek kan teruggaan na my tuisdorp toe … to live happily ever after? Of was hierdie besoedelde eiland my huis die afgelope halwe dekade, my plek in die wêreld waar ek ‘onbeslommerd kon droom/waar ek kon praat oor wie en wat ek werklik is/sonder om te twyfel/en sonder om te skroom’?” (Is dit ’n burgeroorlog as jy jou eie poësie as ’n wapen gebruik in ’n argument teen jouself?)
’n Paar dae gelede het ek vir die eerste keer op ’n wyse wat werklik gewig gedra het, gepraat van permanent teruggaan Suid-Afrika toe. In die gees van die tyd is dit seker redelik dat ek ’n ander swaar woord moes gebruik vir die teenoorgestelde – settle, in Taiwan.
Hoe voel ek daaroor? Hoe voel ek op 3 Mei 2004 oor die idee van om te settle in Taiwan?
Antwoord: Die helfte van my … die helfte van my kop, my hart, my longe, my maag, die helfte van al my organe en ledemate wil sê: “Kom ons doen dit. Laat die proses tot ruste kom. Ons is moeg vir al die onsekerheid, vir al die rondval tussen planne en idees.”
Wat beteken “settle in Taiwan”? Dit beteken presies dieselfde as “permanent teruggaan”. Dis beslis, vir nou. Albei mag oor vyf jaar verander, of oor twee jaar, of glad nie. Dit sal wel beteken dat ek ’n bietjie rus vir my siel kan kry.
Dan weer, wat sê die ander kant van my siel, my hart, my kop, en al my ander organe en ledemate? Dit sê ek kan leef sonder Steers knoffelsous, en die Spar se biltong en pekanneut terte, en tweedehandse boekwinkels en kerkbasaarstalletjies en Hospice shops met boeke onder R10. Dit sê ek kan leef sonder Monkey Gland burgers met ekstra knoffelsous en Black Label by die Spur. Maar ek mis my familie.
Ek hou van Taiwan. Ek hou van my woonstel hier. Ek hou van die buurt met die Chinese burgeroorlogveterane wat laatmiddag in die klein parkie onder die bome sit en kaartspeel. Ek hou van die feit dat ek in ’n stad woon, maar dat ek al vir twee jaar met net ’n fiets oor die weg kom. Ek hou van die feit dat ek R7 500 per maand verdien deur veertien Engelse klasse per week te gee. Ek hou van die feit dat Tokyo net drie ure se vlug weg is, en Hong Kong net ’n uur.
Ek kan verder sê dat die misdaadsyfer laer is hier as in Suid-Afrika, dat ek hier na middernag deur donker strate kan ry sonder om ’n beroerte te kry van vrees as ek langs ’n groep jong Taiwannese gangsters stop by die verkeerslig. Dit sal seker ongeloofwaardig klink as ek moet beweer dat dit nie ten minste een van my oorwegings sal wees om Taiwan te kies bo my geboorteland nie; feit is dat dit nie swaar genoeg weeg om die byl na die een, of die ander kant toe te laat val nie.
Ek hou van Taiwan. Ek is lief vir Suid-Afrika (wat dit ook al in werklike terme beteken). Maar my lewe hier het ’n kwaliteit wat my veel duurder sal kos in my eie land – drie slaapkamer woonstel in ’n veilige, werkersklasbuurt, tien minute se fietstrap van die dorp af, twintig minute se trap van die middestad af. Suid-Afrika se natuurskoon het nie sy gelyke op hierdie eiland nie (ten spyte van ’n paar scenic spots), maar die Taiwannese urban environment – waar ek 99% van my tyd spandeer – is ook van so ’n aard dat ’n inkomste van R20 000 per maand in Suid-Afrika nie sal kan kompenseer vir wat ek hier het nie.
Laasgenoemde is ’n debatteerbare punt. Waarvan praat ek? Restaurante, museums, kunsgalerye, vlooimarkte? Nee. Suid-Afrika het beter restaurante, meer museums, beter kunsgalerye, cooler vlooimarkte. Maar ek kan nou my huis verlaat, drie ure in elke rigting intrap, en orals is daar lewe – woonstelgeboue, huise, restaurante, klein noodle shops met goedkoop kos, kafees, kroeë, coffee shops, karaoke parlours, klein winkels, groter winkels, nog meer klein eetplekke, nou stegies met winkels wat handgemaakte tradisionele musiekinstrumente verkoop, nagmarkte as ek die nag intrap, oggendmarkte andersins waar mens vars groente en selfs varser viskoppe kan koop; nog eetplekke waar studente, kantoormense en konstruksiewerkers met stof op hulle gesigte ’n bord kos kan koop met rys, vleis en groente vir tussen R10 en R15; nog meer kafees, nog mense – buite, op die sypaadjies, in klein parke, buite goedkoop restaurante, langs plastiektafels met klein gasbraaiers laat in die nag. Ek kan vir ure aanhou ry, en hierdie is die tonele wat my sig gaan vul. Of ek kan na die volgende stad toe ry. Met my fiets. Is dit moontlik om dit te vergelyk met uitgestrekte Suid-Afrikaanse voorstede waar, as ’n kafee nog naby genoeg is om te voet te bereik om ’n brood te gaan koop, jy dit heel moontlik nie na tien in die aand kan doen nie omdat die kafee klaar toe gaan wees?
“As jy nie hou van middelklas suburbia nie, gaan bly in ’n township,” sal iemand dalk sê, “of gaan bly in ’n buurt waar jy wél na middernag met jou fiets kan ry na ’n plek waar mense om rooi plastiektafels voor ’n Woolworths warm noedels sit en slurp.”
Huh?!
Hoekom moet ek myself die heeltyd regverdig? Hoekom moet ék myself die heeltyd verduidelik? Ek wil nie in ’n township gaan bly nie – wat ek veronderstel ’n beter gevoel van gemeenskap het as ’n meer welgestelde buurt – omdat dit my nog meer sal laat uitstaan as om ’n Westerling te wees in ’n buurt vol Taiwannese. Ek wil nie in ’n meer welgestelde buurt gaan woon nie, want dis nie my styl nie, selfs al kan ek dit bekostig. En ek wil nie in Hillbrow gaan bly nie, want dis te onveilig.
Hierdie wêreld, hierdie omgewing, hierdie stad waar ek tans woonagtig is in die suide van Taiwan, dit is my ideale wêreld! Dit is die tipe wêreld waar ek wil bly! Hoekom moet ek dit regverdig? Hoekom moet ek dit verduidelik? Dit is so reg vir my soos wat Houghton is vir ’n ryk advokaat, so reg soos Soweto vir enige ou wat gemaklik is daar, so reg soos Hillbrow vir enige mens wat graag in Hillbrow wil woon!
Hoekom kom woon almal nie hier nie? Hoekom moet ek dit regverdig dat ek nie dáár wil bly nie? Wat van as ek my plek in die son gevind het? Hoekom moet ek dit opgee vir ander mense se politieke argumente?
Hoekom is daar Zimbabwiërs in Kaapstad, Nigeriërs in Johannesburg, en Taiwannese in Bronkhorstspruit? Omdat hulle redes het hoekom hulle dáár wil wees, en nie op ander plekke nie! En miskien mis hulle ook dinge van die plekke waar hulle vandaan kom! Miskien het ook húlle geliefdes agtergelaat! Wat moet ek nóg sê as hierdie stukkie aarde my paradys blyk te wees?!
En hoeveel ander immigrante, en “illegal aliens” en langtermyn “toeriste” kan woon in omgewings wat hulle spesifieke geaardhede, en hul ambisies en persoonlike politiek beter pas as die omgewings waar hulle vandaan kom, en nog steeds twee keer per jaar hulle familie besoek vir tot ’n maand op ’n slag? Ek kan dit nog nie doen nie, maar dit is beslis binne my bereik!
As ek werklik so weemoedig en vol verdriet is oor my lewe in Taiwan, weg van my mense af, hoekom haak ek nog hier vas na 63 maande? Hoekom het ek boekrakke, en muurbehangsels, en elektriese waaiers? Hoekom sit ek en skryf op ’n Maandagmiddag as ek kan inpak, of geld kan verdien vir my repatriasie? Omdat ek nou al vir jare sit met ’n fokken groot dilemma: Wat doen ’n mens as jy ’n plek gevind het waar jy die tipe lewe kan leef wat jy verkies – waarvan jy vroeër in jou armoede en sukkelry net gedroom het, maar sonder om jou familie af te skryf?
Jy hou op om sirkels rondom die punt te dans. Jy sê wat enkele dae, of weke, of maande gelede ondenkbaar … nee, onverwoordbaar was.
Jy sê: Hierdie eiland van ballingskap is my huis, my plekkie in die son. Hier gaan ek ’n paar potplante aanskaf, en weer die een boks vol boeke uitpak wat ek twee maande gelede ingepak het om ’n ander punt te maak.
Jy sê: Hier gaan ek bly, want hierdie vreemde wêreld is waar ek meer tuis voel as ooit tevore in my lewe.
Wat van my geliefde suster in Bronkhorstspruit, en haar opregte pleidooi aan ’n broer wat sy effens nader aan haar sal wil hê as die ander kant van die planeet?
Ek sluit my oë en sê met opregte liefde: Ek het nie ’n fokken clue hoe dit sal uitwerk vir my om op Bronkhorstspruit te woon nie.
My behoefte aan gemeenskap met my familie beïnvloed my oordeel oor die voor- en nadele van Bronkhorstspruit tot so ’n mate dat ek nie myself behoort te vertrou as ek dink Bronkhorstspruit sal orraait wees nie.
Nog ’n moontlikheid wat ek net kan ignoreer as ek onvergeeflik naïef wil wees, is dat ek dalk wel Bronkhorstspruit leefbaar vind vir ’n paar maande, maar my suster en swaer besluit om terug te trek Vryheid toe, of Phalaborwa, of enige ander plek waar hulle meer geld kan verdien. Trek ek saam? Of het ek inderdaad my eie lewe? Moet wat vir hulle goed genoeg is, noodwendig goed genoeg wees vir my, omdat ek eerder Saterdagaande saam met hulle wil braai as om deep fried seekat te eet terwyl ek alleen sit en video’s kyk in my woonstel in Taiwan?
Ek het in ’n vorige stuk gevra of daar nie ’n alternatief is tussen Volle Repatriasie en Bly-Maar-In-Taiwan-En-Gaan-Een-Keer-Per-Jaar-“Huis”-Toe-Vir-Vakansie nie. Die antwoord, soos ek ook toe geweet het, is in verskeie vorme al lankal op die tafel: om meer as een keer per jaar, en vir langer periodes as drie of vier weke, my land, en my familie te besoek (verblyf kan op meer maniere uitgesorteer word as ek wat ’n spaarkamer beset vir weke op ’n slag).
Ek het ook al gepraat van werksvakansies, maar ook dít het daarop neergekom dat ek na een of twee rondtes van kuier-werk permanent sal terugkeer na Suid-Afrika – veral as ek ’n beter begrip gekry het van hoe dit sal uitwerk.
Sonder om onnodig krities te wees oor die idee van ’n sogenaamde werksvakansie, voel ek amper lus om uit te bulder: STOP THIS MADNESS! Erken wat jy nou al vir jare weet! Erken dat jy gemaklik is op hierdie plek waar jou boeke reeds in rakke staan, jou ornamente op ou kassies, en waar jou lappe reeds teen jou mure hang! Settle down, for crying out loud! Of erken dat jy dit reeds vir jare al doen …
* * *
Dis nou drie-uur, Maandagmiddag 3 Mei 2004. Ek skryf nou al sedert ek my vier ontbytpappe afgesluk het met koffie wat vanoggend buitengewoon sterk was. Ek het intussen ’n draai gaan ry deur die buurt wat ek ’n paar bladsye gelede probeer beskryf het, verby die paar akkers groen rysland met die woonstelgeboue op die rand daarvan, deur die straatjie waar ryker veterane en hulle nageslagte woon in dubbelverdieping huise, tot by die 7-Eleven waar ek ’n bottel groen tee en ’n warm middagete gekoop het.
“Wat het jy gedoen?” wil ek myself amper paniekerig vra as ek dink aan wat ek gesit en skryf het sedert ontbyt.
Omdat ek nie lus is om die bladsye uit my notaboek te skeur nie – en omdat dit in elk geval teen my beginsels sal wees, het ek geen ander keuse nie as om te verklaar dat die oorlog verby is.
Die uitslag? Ek het gewen. En hopelik ook my ouers, wat nie meer bekommerd hoef te wees dat ek in hulle buitekamer sal intrek ’n paar maande na my repatriasie terwyl ek sonder ophou praat oor hoe ek in Taiwan van die een kafee tot die ander stad kon gery het op my fiets terwyl ek opstelle uitgedink het nie. En hopelik ook my geliefde suster in Bronkhorstspruit (of in Vryheid, of in Phalaborwa) as ek twee keer per jaar vir ’n paar Saterdae in ’n ry gaan voorstel, “Hoe lyk dit met ’n braai?” En hopelik ook my geliefde ouer suster as ek gedurende een van my trips “huis” toe ook ’n week of twee in Engeland gaan kuier. En hopelik sal my tande ook wen wat ek hier kan laat stop vir R60 sonder dat ek ’n mediese fonds het. En hopelik ook my aanstaande vrou en kinders wat meer van die wêreld sal sien as net ’n stowwerige agterplaas in ’n plattelandse dorpie êrens in Suid-Afrika.
Ja, hier sit ek, om 25 minute oor drie, op Maandagmiddag 3 Mei 2004 en ek verklaar plegtig: Ek gaan settle. In Taiwan. En ek gaan Augustus en September by die familie kuier (en elke tweede aand by die Spur eet). Ek gaan die goeie stryd stry, net waar ek is. Ek gaan handhaaf waaraan ek gebou het die afgelope vyf jaar, en ek gaan my boekrakke en my antieke kassie hou net waar dit is. My plek in die son, my huis, is hier. Ek is ’n ewige banneling, ’n tydlose buitestaander, omdat dit is soos ek dit wil hê. My plek is waar ek hoort. En vir nou is dit hier.
* * *
[…]
DINSDAG 4 MEI 2004
Beteken wat ek gister geskryf het dat ek nié meer wil teruggaan Suid-Afrika toe nie?
My antwoord is dit, ek het ’n keuse gemaak wat vir my sal gee wat ek al begeer vir so lank as wat ek kan onthou, naamlik stabiliteit, ’n gevoel dat ek “gearriveer” het, dat die soektog na my eie plek in die heelal oor is. As ek kan vrede maak met wat ek besluit het, beteken dit ek kan ’n bietjie ontspan, ek kan my swaard omskep in ’n ploeg, ek kan konsolideer, ek kan begin handhaaf-en-hou (of ek kan voortgaan om te handhaaf waaraan ek gebou het vir die afgelope vyf jaar). Die gevoel wat dit vir my gee is sterk. Dis fokken kragdadig. Ek wil amper so ver gaan om te sê as ek wou teruggaan Suid-Afrika toe … moes ek dit verlede Vrydag gedoen het.
* * *
Ek dink ek het net moeg geraak. Ek het skielik onlangs begin praat van permanent teruggaan Suid-Afrika toe. Settle in Taiwan is net ’n ander vervulling van dieselfde behoefte. Hierdie behoefte is die belangrikste faktor wat verstaan moet word in die skielike U-turn van idees en kontemplasies oor my toekoms. Hierdie behoefte is die sleutel, die as waarom die settle in Taiwan idee draai.
Ek dink ek is moeg vir onsekerheid. Ek is moeg vir hardloop, om dinge na te jaag wat altyd drie of vier maande weg is, dinge waarvoor ek “net 150 000 bymekaar moet skraap”.
Hierdie moegheid het Sondag ’n kritiese punt bereik, nadat ek laatmiddag hier uitgery het op my fiets, en die son so ’n sagte lig op ’n buurt gegooi het waarvan ek by die dag meer hou. Ek het toe geweet dit gaan kom, maar ek het nie op daai oomblik tyd gehad om dit te verwoord nie (koffie en fliek saam met ’n vriendin tot elfuur).
Ek het Sondagaand geweet ek is moeg gehardloop, dat ek rus vir my siel wil hê – en as ek dit hier kán kry, dan vat ek dit (selfs al kan ek dit moontlik ook in Suid-Afrika kry).
Ek gaan dus doen wat ek nog altyd gesê het ek nie sal doen nie – ek gaan settle vir minder. (Dinsdag, twintig minute oor vyf in die namiddag)
(Hoekom voel dit asof ek net ’n gewone mens geword het met daai laaste woorde? En hoekom voel dit goed?)
* * *
As dit ’n heroïese ding sou wees om terug te gaan Suid-Afrika toe, sou dit nog een ding gewees het. Maar as ek slaag in my dreigemente en my planne van die afgelope paar jaar, gaan enige iemand regtig vir my handeklap? En as ek misluk, gaan enige iemand kyk na my gesig, of my naam vra, voor hulle oor my trap?
* * *
[…]
Ek is moeg vir halsoorkop fantasievlugte waar enige lewe op enige plek in Suid-Afrika goed genoeg sal wees, solank dit naby aan my familie is. Ek is lief vir my familie, maar die here alleen weet daar is ander oorwegings wat ’n volwassene wat verantwoordelikheid aanvaar vir sy eie lewe, in ag moet neem.
Lees verder: Die strydbyl kap vas teen my muur – dele twee tot vier
______________________