Die strydbyl kap vas teen my muur – dele twee tot vier

WOENSDAG 5 MEI 2004

Deel twee: Wil ek in die middel settle, of wil ek settle op ’n beter plek?

[…]

Gaan ek ophou droom van huis toe gaan net omdat die son Sondag op ’n sekere manier op Benewelde Lig geskyn het? Gaan ek skielik gelukkig wees hier omdat ek die helfte van my notaboek vol geskryf het oor redes hoekom ek eerder hier wil settle? Ek dink ek verstaan maar ’n fraksie van die lewe, en van wat in my eie kop aangaan. Hierdie literêre projek was ’n feilbare, dog ambisieuse poging om by te bly, om te probeer verstaan wat maak dat ek is wat ek is.

[…]

Ek wou ’n simbool wees (vir wie weet ek nie) van die moontlikheid dat mens ’n beter lewe kan hê as die een waarvoor mense “net” settle. Aan die einde wil ek net ’n gewone mens wees. En verloor gewone mense nie soms nie? Is hulle nie maar altyd later spyt oor dinge wat hulle gedoen het, of nie gedoen het nie? Kry gewone mense nie maar swaar nie? Verlang gewone mense nie maar altyd na iets of iemand nie?

Wat is die regte vrae? Ek is net ’n gewone mens, hoe de hel moet ek weet …

Die proses moet van voor af begin. Hierdie is die einde, en die begin.

Wat is ek? Wat is my besittings? Wat is my familie? Wat is my vrese, en wat is my doel in die lewe? Wat is die rol wat ek moet speel? Of is dit net ’n stryd, en jy wen solank jy staande bly?

Kan ek gelukkig wees met ’n vrou en kinders en ’n drie slaapkamer huis en ’n tuin en ’n agterplaas en ’n hond en … al die ander dinge wat saam met ’n agterplaas gaan? Kan dit die eindresultaat wees van ’n finale terugreis na my geboorteland? Moet ek bereid wees om alles te verloor vir die kans om alles te wen? En vir hoe lank wen mens voor jy weer verloor?

Gaan ek die Ewige Lewe wen as ek alles hier opgee en soos my eie karikatuur-held oor begin in Suid-Afrika? Gaan ek Hel toe gaan as ek hier bly, en aan die einde geluk vind op hierdie plek?

Of is Suid-Afrika my Hel, en Benewelde Lig, Nuwe Dorp in die suide van Taiwan my verlossing? Maak ek alles erger as wat dit veronderstel is om te wees, of het ek nie die vaagste benul nie?

Sal ek skielik al die antwoorde hê as ek oornag ’n miljoenêr word?

Hoekom voel dit meer soos die waarheid as enige ander moontlikheid? Is Armoede Hel, en Geld die Paradys? Word ons geleer dat dit nie so is nie omdat iemand die strate moet vee en die rommel moet wegry? Is daar ryk dwase net om ons van die spoor af te gooi? Weet ryk mense iets wat arm mense nie weet nie? Is Geld die Waarheid? Is Rykdom die Pad na die Ware Lewe?

As ek nou ’n lys moet opstel van my tien grootste vraagstukke en dilemmas, en ek verbeel my ek het ’n miljoen (of ’n paar) in enige groot geldeenheid, hoekom is dit dat ek een na die ander item op my lys kan deurhaal? Huis vir my ouers, en rus vir hul siele op hulle oudag; finansiële bystand indien een of albei van my susters dit ooit sou benodig; ’n goeie huis en ’n goeie kwaliteit lewe enige plek waar ek dit verkies; dosyne ander mense wie se probleme ek kan oplos, en so kan ek tot vervelens toe aankarring.

Ek dink ek verstaan nou. Jy moet óf tien keer meer as genoeg hê vir al jou behoeftes en dilemmas, of jy moet niks hê nie. In die eerste geval kan jy gelukkig wees op hierdie stukkie kosmos – tensy jy ’n ryk idioot is, en in die tweede geval staan jy ’n kans om ’n heilige man of vrou te word, arm genoeg om deur die oog van die naald te gaan. Enige iets tussen-in maak notaboeke veels te vinnig vol, en inspireer veels te veel rymlose gedigte.

* * *

[…]

Dit het my gelei tot die insig dat daar drie moontlikhede is: 1) TIEN KEER MEER GELD AS WAT MENS NODIG HET om in jou eie basiese behoeftes te voorsien, 2) FOKKOL GELD en geen verhoudings nie, wat tot gevolg sal hê dat niks jou sal bind aan hierdie wêreld nie – die kontemporêre askeet, en 3) DIE MIDDEL, wat neerkom op ’n bietjie geluk as jy jou kaarte reg speel, en veel frustrasie en onvervulde ambisies en begeertes.

[…]

Deel drie: Gestel ek bereik die gewenste finansiële situasie, wat sou ek kies, Taiwan of Suid-Afrika?

[…]

VRYDAG 7 MEI 2004

Deel vier: Ontknoping

09:35

Wie is ek as ek sak-en-pak terugkeer Suid-Afrika toe binne die volgende paar maande (en heel moontlik nie met sakke vol geld nie)? Ek is die Rooi Held, Die Ou Wat Kanse Waag, Die Ou Wat Bereid Is Om Gemak Agter Te Laat Ter Wille Van Sy Familie, Die Man Wat Bereid Is Om Alles Te Verloor Ter Wille Van Die Kans Om Alles Te Wen.

Wie is ek as ek doen wat ek die afgelope paar dae oorweeg het? Ek is ’n mens wat sy bes probeer om ’n goeie lewe te lei, ten spyte van die feit dat sy pogings nie altyd so interessant lyk op papier as wat die geval is met meer radikale planne nie. Kan enige iemand met hierdie persoon vereenselwig? Maak dit saak?

[…]

(Ek het gisteraand, net meer as twee ure nadat ek gaan slaap het, wakker geskrik na ek gedroom het ek is by die “huis”. My susters en my ouers was ook daar. In die droom moes ek toe skielik inpak en lughawe toe gaan, om twee of drie weke in Suid-Afrika te spandeer.)

[…]

14:20

Op watter punt neem mens ’n besluit? Of weet jy eintlik wat jou besluit sal wees, en dan kondig jy dit net aan wanneer jy gereed is?

14:49

Laat ek dit nou maar net aanvaar: Ek wil nie permanent teruggaan Suid-Afrika toe nie, maar ek sal altyd wil teruggaan “huis” toe.

[…]

[EINDE VAN DIE STRYDBYL NOTAS]

______________________