Die Spreekwoordelike Gemiddelde

Deur 14 - 04 - 2002

[Vier weke in Suid-Afrika, vriende, familie... en toe terug na Taiwan met nuwe inspirasie.]

———————

[Eerste twee paragrawe uit die Pers Notaboek, April 2002]

Wat was die primêre motivering agter meeste van my groot besluite die afgelope twaalf jaar? Dat ek wou uitstyg bo die (spreekwoordelike) gemiddelde waarmee ek groot geword het.

Wat is “verkeerd” met ‘n “gewone” lewe? Wat “verkeerd” is daarmee is dat dit vervelig is. Data wat ingekom het tussen my twaalfde en agtiende verjaarsdae het ook die diagnostiese slippie uitgespoeg dat benewens die feit dat hierdie ‘n lewe is van materialistiese opgaarding, dit ook een is waar as jy nie in jou spoor trap nie, jy alles kan verloor – insluitende jou selfrespek en die agting en respek van ander in die gemeenskap.

———————

[Die ding van "uitstyg bo die gemiddelde" moet gekwalifiseer word. Ek het nie 'n probleem met die sogenaamde gemiddelde nie. As 99 uit 100 mense wil doen wat "almal" doen, dan is dit 'n keuse wat hulle maak uit hulle eie vrye wil, gebaseer op hulle eie motiverings.

My probleem – en dit kan ek terugdateer na die tyd net voor ek klaar gemaak het met hoërskool – is dat ek nie na X-hoeveelheid jare wil terugkyk na my spore op die Strand van Lewens, en vind dat my eie lyn van spore onherkenbaar is van ander s'n wat op dieselfde tyd as ek op die Strand gestap het nie. Ek wil kan terugkyk en sê: "Dáár! Daar's my spore! Ek hét geleef. Ek het óók op daai sand gestap!"

Ek wil verder hê dat my geslagsgenote ook moet kan sê: "Ja, ons sien. Ons sien ons eie spore, en ons kan sien dat jy ook gestap het, maar op ander plekke, en teen 'n ander pas."

Wil ek nuwe spore trap? Nie noodwendig nie. Ek het geen obsessie om ander se spore te vermy net omdat ek bang is hulle spore verduister my eie nie. My eie spore gaan noodwendig soms op plekke op die Strand loop waar ander se spore ook lê, maar laat dit dan spore wees wat nie elke dag oor en oor gestap word nie.

Sommige spore is dit ook werd om weer 'n bietjie vars getrap te word, al sê mense dan aan die einde, wanneer spore noodwendig vergelyk word: "Ons sien jou spore, maar het (dié of daai) dan nie ook daar gestap nie?"

Dan sal ek wil sê: "Ja, ek vermoed so. Ek hét op tye paadjies gevat waar spore reeds gelê het. Maar dit was heel moontlik paadjies wat, in my opinie, weer 'n bietjie geloop moes word. Hoekom? Om maar een rede te gee, as 'n merker vir toekomstige geslagte. Sodat ook húlle herinner kan word dat, as hulle mooi kyk, daar meer as een lyn is wat gevat kan word."]

Hierdie inskrywing dateer: 14 - 04 - 2002 om 00:38 en sorteer onder Boek Een. [...]

Gesluit vir kommentaar.