Die nuwe etiket (dele een tot vier)

DINSDAG 10 JUNIE 2003

Die nuwe etiket (i)

[…]

Die nuwe etiket (ii)

In terme van wat ek nou doen vir ’n inkomste, die hoeveelheid geld wat ek verdien, en my tersiêre kwalifikasies, kan ek oorweeg word vir Lidmaatskap van die Middelklas. In terme van die sosio-ekonomiese omstandighede waarin ons gesin onsself bevind het tydens my jeug in die middel tot laat tagtigs, is ek ’n Armblanke. In terme van my hang-ups en onsekerhede, is ek ’n Armblanke. As ek nou teruggaan Suid-Afrika toe en ’n betrekking aanvaar as ’n hoërskoolonderwyser, sal ek net ’n kerf bokant die werkersklas wees; in ander woorde, Petit bourgeois. As ek teruggaan Suid-Afrika toe en struggle van maand tot maand, maar my kreatiewe onafhanklikheid behou, sal ek ’n Armblanke wees.

Die nuwe etiket (iii)

Vraag: Wil ek ’n “armblanke” wees?

Antwoord: Dis nie ’n kwessie van waar ek wíl wees nie, dis ’n kwessie van waar ek ís. En wat gaan ek in elk geval antwoord? “Ek wil middelklas wees”?

Klasbewussyn is soos politieke bewussyn – gekoppel aan jou persoonlike ervarings. Met politieke opstand is daar altyd mense wat vra, “What’s the big deal?” So is daar sekerlik vele van my tydgenote wat sal wonder waaroor presies skop ek soveel stof op.

As ek my eerste 14 lewensjare moes deurgebring het in ’n armblankebuurt, in ’n armblankehuis, met armblankekos op die tafel, armblankeklere aan my lyf, en armblankevakansies in die agterplaas, sou ek moontlik meer van ’n gevoel gehad het dat ek êrens behoort. (Sou dit my lewe beter gemaak het? Nie noodwendig nie. Die saak is immers meer kompleks as net om ’n sin van lidmaatskap te ervaar.)

Wat ’n middelklashuis, middelklasklere, middelklaskos, middelklasvakansies, en ’n idee van wat die toekoms mag inhou vir my gegee het tot ek 14 jaar oud was, was eerstehandse kennis van die sogenaamde bourgeoisie, asook vriende wat grootgeword het in die wêreld van die middelklas. Die belangrikste seëning wat ’n aanvanklike middelklaslewe egter vir my gegee het, was ’n relatiewe maklike pad na tersiêre opleiding, wat my aan die einde kennis en insig en selfs ervaring gegee het van die Groter Wêreld.

Wil ek teruggaan Suid-Afrika toe en vir myself ’n twee slaapkamer huurhuis in ’n armblankebuurt soek? Nee. Wil ek teruggaan Suid-Afrika toe en tussen ’n klomp Armblankes gaan staan en uitroep, “Ek’s een van julle!”? Fok dit. Selfs Vladimir Lenin het gesê, “Less windy talk about ‘proletarian culture’, and let’s first rid ourselves of a serf mentality. We could do with some bourgeois culture for a start.” (Hy’t blykbaar in sy laaste toesprake en skryfwerk klem gelê op ordentlike opleiding en onderrig. Dis natuurlik ook waar dat hy ’n bietjie van ’n romantiese idee gehad het van mense wat gelukkig sal wees al werk hulle tien ure per dag in ’n fabriek, solank hulle party net aan bewind is. Miskien het hy gemeen dit sal alles goed uitwerk. Of miskien het hy nie omgegee vir individuele welsyn nie. Sou hy persoonlike geluk en vervulling gesien het as dekadente, kapitalistiese waardes?)

Die nuwe etiket (iv)/Mislukking en klasbewussyn

Hoe en waar jy inpas in die wêreld is, soos klas en politieke bewussyn, iets waaraan meeste mense eers begin dink as hulle hulself aan die verkeerde kant van die lyn bevind. (“Watter lyn?” sal baie mense weer vra, en by hulleself dink, “Jislaaik, hierdie ou het lekker baie issues!”)

Ek het vir jare geglo ek hoort in die middelklas – in die tagtigs in Suid-Afrika as ’n kind het ek geglo alle blankes is middelklasmense, maar later ook in terme van kleredrag, taalgebruik, toekomsvooruitsigte, tersiêre kwalifikasies, stokperdjies en belangstellings, en vriende. Tog, vir jare al sukkel ek met die oortuiging dat ek ’n mislukking is in hierdie spesifieke klas – die sosio-ekonomiese domein waar ek veronderstel was om te slaag. Die feit dat ek al jare in die Verre Ooste woon, het dit net moontlik gemaak om hierdie “mislukking” te verdoesel.

Hierdie mislukking was pynlik ooglopend tydens die periodes wat ek wel in Suid-Afrika gewoon het na ek klaargemaak het met universiteit. Ek kon nog in 1995 wegkom met die feit dat ek steeds op papier geregistreer was vir ’n tersiêre kursus – ek was dus nie ’n werklose armblanke nie, ek was ’n “nagraadse student”, maar van die begin van ’96 af was my werklike status in die Groot Hiërargie duidelik vir enige een wat sou omgee om te kyk.

Gedurende die ses maande wat ek in Johannesburg gewoon en gewerk het in 1998 was dit ook duidelik aan almal, en tot groot verleentheid aan myself, dat ek dit nie “maak” in die Middelklas nie. Hoe ’n mens ook al daarna gekyk het, ek was ’n mislukking in die klas waarin ek gewerk het, waarin ek gesosialiseer het, en waarin ek gewoon het – die bediendekamer waarvoor ek nie huur betaal het nie, was immers in ’n middelklasbuurt.

Van die oomblik wat ek in Taiwan aangekom het, kon ek weer hierdie mislukking kamoefleer. Vanaf 2000 het daar egter heelwat ander Suid-Afrikaners ook Taiwan toe gekom, wat óf voorheen suksesvol was in die Middelklas, óf ten volle verwag het om suksesvol te wees ás en wanneer hulle terugkeer Suid-Afrika toe. Ek het myself weereens in sosiale sirkels bevind waar ek gereken het ek die feit moes verdoesel dat ek ’n Middelklas Mislukking was in 1998, en ook sou wees as ek moes terugkeer enige tyd gedurende die afgelope drie-en-’n-halwe jaar (sedert 2000).

Oor hierdie wegkruipery en voorgeëry dat ek iets is wat ek inderdaad nie is nie, kan ek die volgende stelling plegtig bekend maak: Nie meer nie. (Of soos Roberto Duran in 1980 geprewel het in sy geveg teen Sugar Ray Leonard, “No más, no más.”)

Ek sal op ’n dak klim en uitroep: “Ek is ’n Armblanke! Ek koester geen middelklas ambisies meer nie! En ek weier om verder voor te gee dat ek ’n kind van die middelklas is! My ouers is kunstenaars wat permanent pendel tussen die laer middelklas en die klas van Armblankes! Ek is ’n skrywer, en ’n Armblanke! Dit, julle skynheilige bastards, is die realiteit! Dit is my realiteit, en dit is al my realiteit vir twintig jaar lank!”

En terwyl ek op die dak is sal ek sommer vir die ander Armblankes ook skree, “Fok julle ook met julle serf mentality! Ek weier om weer in ’n poverty state of mind te verval waar ek laer trek met ander armgatte, en modder gooi na dié wat meer besit as ek … wat ’n kar het, en ’n mooi huis, en wat oorsese vakansies kan bekostig! Goed vir hulle! Mag hulle gelukkig wees! Watter een onder julle begeer nie hierdie dinge vir julleself en julle kinders nie?! Ek is nie een van húlle nie, maar ek is ook nie een van júlle nie! Ek is in ’n klas van my eie!”

En die Armblankes op die sypaadjie sal terugskree, “Ja, en voetsek jy met jou fancy universiteitsgrade en jou fancy Japannese kamera …”

______________________