DIE AMPERSE EINDE
Ek het myself amper gisteraand doodgeskiet met ‘n speelgoedpistool. Vir die afgelope drie dae al kampeer ek uit op my sitkamervloer, met die een oog op die TV, en die ander een op my boek oor die geskiedenis van die KGB. Die hele doel van hierdie oefening was om ‘n poging aan te wend om belangrike besluite te neem oor my lewe, en oor ‘n moontlike toekoms. Op een stadium strek ek toe uit na ‘n kassie – gerieflik bereikbaar vanuit ‘n sittende posisie – om ‘n pakkie hoofpynpille vas te vat, en ek vat toe die speelding raak wat ek ‘n paar maande gelede in ‘n oomblik van verveling aangeskaf het. Die motivering agter die kopie was hoofsaaklik om myself te vermaak – om ‘n paar teikens te probeer raakskiet in my woonstel wanneer my grysstof kookpunt bereik. Die hoofpynpille was op daai oomblik benodig vir presies hierdie rede.
‘n Uur of twee na ek die speelgoedpistool ontdek het, telefoneer my ouer suster uit Londen. Binne die eerste sekondes het ek, tot haar irritasie, genoem dat ek altyd aan háár dink wanneer ek probeer uitsorteer wat die volgende stap in my lewe moet wees. Ek het aan haar verduidelik dat sy geen klad van ydel maande op haar professionele reputasie het nie, dat sy die regte besluite op die regte tye geneem het, en dat haar lewe in die laaste halwe dekade ‘n konstante opwaardse kurwe getoon het. In vergelyking met haar relatiewe reguit pad na sukses, het ék ‘n meer ongekarteerde roete geneem.
Slim soos sy is, raai sy my toe aan om nie tyd te mors deur aan die verlede te dink nie, en om myself nie te veel te bekommer oor “verkeerde besluite” wat ek oor die jare geneem het nie. Ek het instinktief ‘n jonger-broer-wat-drooggemaak-het-en-ouer-suster-wat-hom-die-pad-probeer-wys-argument aangevoel. Die gevolg was onvermydelik: Ek moes my oënskynlike rigtingloosheid verdedig.
En dit is presies wat dit is – oënskynlike rigtingloosheid, want daar was definitief ‘n doel agter alles in my lewe tot op hierdie punt. Ek het verduidelik dat ek die afgelope vyf jaar nodig gehad het om uit te sorteer waaroor die lewe gaan, wat ek graag wou doen met my lewe, en miskien die belangrikste – hoe om laasgenoemde te versoen met die noodsaaklikheid van ‘n gereelde inkomste.
Ons gesprek is kortgeknip toe sy ‘n ander oproep moes beantwoord (sy’t van die kantoor af gebel). Die volgende vyf minute het ek gespandeer in pynvolle kontemplasie oor die middelklasdogma wat dikteer dat enige persoon ouer as 24 wat nie geld maak nie, geklassifiseer moet word as ‘n “loser”.
Ek het egter beter geweet as om die intelligensie en verdraagsaamheid van middelklasburgers te onderskat. Hulle verwag byvoorbeeld nie dat almal in kantore moet werk nie – só kortsigtig is hulle darem nou ook nie! Hulle hét immers hulle helde wat rocksterre en skrywers en akteurs is. Die punt is dat meeste van hierdie mense geld maak, en in sommige gevalle hope daarvan. Soveel meer rede natuurlik om hulle te idealiseer.
My suster bel toe terug, en ek gaan sonder versuim voort met die verdediging van my eiesoortige uitkyk op die lewe. Sy noem toe dat ek haar ‘n bietjie deurmekaar gepraat het, maar laat blyk ook opregte simpatie. “Hoekom kom jy nie Engeland toe nie?” bied sy uiteindelik haar standaard advies van baie jare aan. Ek het verduidelik dat ek huidiglik aan ‘n meesterplan skaaf, dat ek dit oorweeg om terug te keer Suid-Afrika toe aan die einde van die jaar, en dat ek besluite moet neem oor hierdie sake voordat ek kan dink aan dinge soos vakansies. Of sy agtergekom het dat ek doelbewus vaag was en die skyn probeer voorhou het van iemand wat weet waar hy gaan wees teen sy volgende verjaarsdag, sal ek nie kan sê nie.
Die gesprek het einde se kant toe begin staan. Ons het wedersydse hoop uitgespreek dat alles goed sal gaan met die ander een, en totsiens gesê. Ek het in stilte na die vloer bly staar, en die moontlikheid oorweeg dat ek oortuigend geklink het.
Die volgende oomblik weerkaats die lig van die TV op die speelgoedpistool. In ‘n poging om uitdrukking te gee aan my misnoeë oor my alewige verwarring, tel ek die ding toe op, druk die koue plastiekloop teen my natgeswete voorkop, en trek die sneller. Niks, soos ek verwag het. Ek krap toe ‘n paar van die harde plastiekkoeëltjies uit ‘n laai, met die oog op ‘n tweegeveg met die boks ontbytpap. In my poging om die magasyn uit te haal, trek ek toe per ongeluk weer die sneller.
Tot my verbasing, en skok – in ag genome dat ek sekondes gelede die loop teen my voorkop gedruk het, bars daar ‘n sarsie koeëls los. Met ‘n slag wat herinner aan ‘n Wilde Weste-skietgeveg tref dit eers die warmwatergeiser, ‘n hele paar meter vanwaar ek steeds verstom vasgenael gestaan het, en toe skram dit weg badkamer toe. Na verskeie hoppe het die koeëls tot ruste gekom in die bad.
“Ek kon myself vrek geskiet het,” mompel ek toe senuweeagtig na my weerkaatsing in die spieël.
‘n Paar oomblikke later kom ek tot my sinne. Wat was werklik die moontlikheid dat ‘n klein, harde plastiekkoeëltjie eers deur my kopvel kon penetreer, dan deur my skedel, om homself uiteindelik te kon verdiep in my verwarde grysstof? Die redelike gevolgtrekking word toe gemaak dat ek myself kon beseer het, maar dat meer noodlottige gevolge onwaarskynlik was.
Eers omtrent ‘n uur later dink ek toe aan die moontlike kort beriggie in ‘n plaaslike koerant, as ek in ‘n hospitaal moes opeindig om ‘n klein plastiekkoeëltjie sjirurgies te laat verwyder uit my voorkop: “‘n Dertigjarige man het laat gisteraand, nadat hy ‘n telefoongesprek met sy loopbaangerigte ouer suster gevoer het, ‘n onsuksesvolle poging aangewend om selfmoord te pleeg met ‘n speelgoedpistool. ‘n Klein plastiekkoeëltjie het in sy voorkop vasgesit vanweë die aksie, en die man is kort daarna in die hospitaal opgeneem om dit te laat verwyder. ‘n Verpleegster sê dat hoewel hy in ‘n bestendige toestand is, die fisiese en emosionele letsels van die insident moontlik sigbaar sal vertoon tot hy sy midlife crisis tref in ‘n dekade of so.”
Oortuig daarvan dat ek ‘n tweede kans op die lewe gegun is, gooi ek toe die speelding terug in die laai, en sweer daar en dan geweld af as ‘n manier om my pad in die lewe te vind. En soos ek die verbryselde oorblyfsels van die amper vervloekte koeëls bymekaarmaak, kon ek sweer ek hoor hoe die boks ontbytpap net so effens agter die bottel koffie uitskuif.
(Julie 2001)
