Inleiding tot die SLOTHOOFSTUK

Die idee was oorspronklik om die materiaal van hierdie “Slothoofstuk” te gebruik as die vierde en finale deel van die “Persoonlike Agenda” projek. Derhalwe behoort dit nie te lei tot skok en verbasing as ek moet noem dat wat volg, voortbou op die materiaal wat hierdie hoofstuk voorafgegaan het nie.

Berei jouself dus voor vir nog ’n paar dosyn bladsye vol waarnemings, meestal ongevraagde sosiale kritiek, argumente met myself (en met ander mense, maar net in my eie kop), planne wat nie regtig relevant is vir enige iemand anders nie, en insigte wat dalk net handig kan wees vir een of twee mense.

Hierdie hoofstuk kan om verskeie redes steeds gesien word as die nie-amptelike laaste hoofstuk van die “Persoonlike Agenda” projek, terwyl dit ook dien as die eerste hoofstuk van die volgende projek. Laat my dan toe om nou plegtig aan te kondig, sonder enige verdere versuim, die absoluut finale …

SLOTHOOFSTUK

en

HOOFSTUK EEN

van die volgende projek, getiteld:

volume II

POST ONGETITELD

______________________

Belangrike notas oor waaroor die boek handel

MAANDAG 5 JULIE 2004

I

“Die Persoonlike Agenda van Brand Smit” is ’n versameling van meer as 100 stukke wat handel oor een persoon se idees van wat dit beteken om te lewe, wat die mens nodig het om te kan oorleef en relatief suksesvol te kan funksioneer in die moderne wêreld, en wat dit moontlik beteken om “gelukkig” te wees.

Die stukke is gewortel in my eie lewe vir die eenvoudige rede dat ek myself as primêre laboratorium rot gebruik het – omdat ek niemand anders beter ken as myself nie. Die feit dat dit outobiografies is, impliseer nie dat ek dink my lewe is, of was sover interessanter as meeste ander mense s’n nie – die teenoorgestelde is heel waarskynlik nader aan die waarheid.

Veral die afgelope vyf jaar van my lewe [1999 tot 2004] was om verskeie redes bevorderlik daarvoor dat ek sekere vrae gevra het oor my eie lewe, ’n paar antwoorde in die proses uitgedink het, en sekere beginsels geïdentifiseer het oor wat ’n “gelukkige” lewe moontlik kan behels. Ek glo dat hierdie dinge relevant kan wees vir ander mense wat ook die vraag wil beantwoord wat dit vir húlle beteken om te lewe.

II

Die boek handel oor die volgende scenario: ’n Man het na hoërskool universiteit toe gegaan, en ’n kwalifikasie verwerf in die sogenaamde geesteswetenskappe. Benewens kennis en insig – wat hom later handig te pas sou kom – het hy ook in die proses daarin geslaag om duisende rande se studieskuld te akkumuleer. Hy het altyd geweet hy sal self verantwoordelikheid moet aanvaar vir hierdie skuld – sy ouers is al vir jare gewikkel in hul eie stryd om finansiële oorlewing.

Na universiteit het hy nie baie hard gesoek vir ’n betrekking van enige aard in sy eie land nie, om redes wat hy destyds net vlugtig kon formuleer. Agtien maande na hy sy laaste tersiêre kwalifikasie verwerf het, het hy na Suid-Korea vertrek om daar geld te gaan verdien as ’n Engelse onderwyser. Na twee jaar het hy teruggekeer na Suid-Afrika, en ’n heroïese, maar totaal mislukte poging aangewend om in te val by die “konvensionele gang van sake”. Agt maande later het hy teruggekeer na Noordoos-Asië. Vir die afgelope vyf jaar is hy woonagtig op die eiland van Taiwan.

Die hoof protagonis van hierdie verhaal is nou in sy vroeë dertigs. Hy besit geen eiendom nie. Hy besit nie ’n motorkar nie. Hy is nie getroud nie, en hy’t geen kinders nie. Hy is ook nie tans betrokke in ’n intieme verhouding nie. Hy is duisende kilometers van sy naaste familie af – wat hy baie mis, en van die land van sy geboorte. Hy het nie spaargeld van betekenisvolle proporsies nie, en hy is steeds besig om sy studieskuld te delg – stadig, maar darem.

Tog is hierdie man relatief tevrede met homself. Hoekom? “Die Persoonlike Agenda van Brand Smit” poog om die redes hiervoor uiteen te lê.

III

’n Jong man stap deur die Galery van Volwasse Lewens. Hy kyk met ’n mengsel van verwarring en ’n tikkie vermaak deur die uitstalling wat illustreer hoe vele volwasse mense hul tyd verwyl op aarde. Hy sien die werk wat mense doen, die huise, die kinders, die jaarlikse vakansies, die familie-saamtrekke en so aan.

Deur al die vertrekke en gange vol hangende portrette kry hy, so reken hy, ’n gebalanseerde beeld van goeie tye asook moeilike tye wat moontlik ook op hóm wag.

Dit is egter die werk wat volwassenes doen wat sy aandag spits. ’n Paar sogenaamde beroepe lyk vir hom ietwat indrukwekkend, maar sy oorwegende indruk is, “Jislaaik, vrek die mense nie van verveling nie?!” So sal hy aanstap na ’n volgende uitstalling van beroepe. “Sjoe,” sal hy hardop sê, “ek kan nie dink dat mense hierdie dinge doen, elke dag van hulle lewens tot hulle oud word nie!” Dan sal hy deur nog ’n paar vertrekke stap. “Goeie donder!” sal hy weer uitroep. “Hoe kan hulle van ’n mens verwag om sulke vervelige werk te doen?”

Uiteindelik raak die kurator van die galery moeg vir hierdie ongeskikte uitbarstings. “Jong man,” berispe hy die besoeker, “mense doen meeste van hierdie werk nie omdat hulle dit geniet nie. Hulle doen dit vir die geld. Het jou pa en ma nie vir jou vertel dat ook jý eendag ’n inkomste moet verdien nie?”

Stadig maar seker dring dit tot hom deur dat mense geld verdien om huise te kan bekostig, en karre, klere, kos, vakansies by die see, speelgoed vir die kinders, en dinge soos tydskrifte en daaglikse koerante. Hy besef ook dat party mense regtig baie oud raak, en as hulle dan nie meer ’n inkomste kan verdien nie, hulle moet leef op geld wat hulle weggesit het tydens die jare wat hulle wel werksaam was.

Tog kan hy nie wegkom van die gedagte dat hy aan baie beter maniere kan dink om sy tyd te spandeer nie. Hy het nie ’n probleem met die idee van werk nie; dis net dat hy aan talle ander voorbeelde kan dink van werk wat baie meer opwindend sal wees, wat aan hom ’n gevoel sal gee dat die wyse waarop hy agt-plus ure per dag spandeer, meer werd is as net monetêre kompensasie. Hy glo ook dat hy homself veel makliker kan toewy aan hierdie ander werk waarop hy veertig of meer ure per week kan spandeer.

Die man verwoord dan hierdie gedagtes aan die kurator, wat weer geïrriteerd uit sy stoel opstaan en vinger in die lug vir die man skree, “Daai werk gee nie vir jou genoeg geld vir ’n huis en ’n kar en kos en klere en vakansies en speelgoed en medisyne en koerante nie! Verstaan jy dan nie? Van watse planeet af kom jy …”

Teen die tyd wat die man weer die muwwe, koel vertrekke verruil vir vars lug en sonskyn, voel hy ietwat paniekerig. Hy verstaan die hele storie van geld verdien en oud raak en so aan, maar hoekom sien hy nie sy toekoms in soortgelyke beelde as dié in die uitstallings nie? En hoe op aarde kan hy in teenstand wees as dit dan so ’n groot galery is, met so baie portrette, en soveel mense wat daarvolgens hul lewens lei?

Wie is hý om te dink hy kan iets anders probeer?

IV

Dis soos ’n fietsslot, of ’n kluis. Jy draai die slot tot by ’n nommer, en iets kliek in sy plek in. Dan draai jy dit na ’n ander nommer, en weer kliek dit. Weer draai jy die wieletjie, en weer val iets in plek. Nadat al die tande in die regte groewe geskuif het, gaan die slot, of die kluisdeur oop, en jy kan voortgaan met jou lewe.

Ek is net ’n gewone mens. Ek het dieselfde basiese struktuur as almal, en soos almal se “kodes” effens anders is, is myne ook relatief uniek. Maar die uiteinde is gewoonlik dieselfde: Alles val in plek, die deur gaan oop, en jy stap in.

Miskien is die probleem nie dat my kluisdeur nog nie oopgemaak het nie. Dis dalk eerder ’n geval dat die deur wél oopgeswaai het, maar ek het tot dusver verkies om buite te bly, die deur te ondersoek, die slotmeganisme te bestudeer, en die ander mense waar te neem wat almal deur dieselfde proses gaan van “insig” in die lewe van die volwasse mens, en “nou verstaan ek wat ek moet doen”.

Dit mag dalk ook aan die einde blyk dat my neiging om alles te bevraagteken, juis my unieke “kode” was. Wat in plek moes val, het dalk perfek so gebeur. Ek het dalk ingestap – of op die spreekwoordelike fiets geklim, en ek doen dalk presies die werk wat ek altyd veronderstel was om te doen.

______________________

Oorsprong van die SELF (en het reptiele siele?)

MAANDAG 5 JULIE 2004

’n Kort dialoog

“Het jy al ooit gewonder oor die ontstaan van die self? Wat kan moontlik die oorsprong wees van die self?”

“Wel, geboorte is seker ’n redelike antwoord.”

“Definieer ‘geboorte’.”

“Biologiese skeiding van moeder en kind. Ek sou sê die spesifieke oomblik is die knip van die naelstring. Ek reken dis die mees dramatiese oomblik van skeiding tussen die twee fisiese entiteite.”

“So die oomblik wat die naelstring geknip word, is die oomblik van geboorte van die self, die oomblik wat die nuwe mens bewus is van sy eie, afsonderlike bestaan?”

“Dit klink sinvol genoeg, dan nie?”

“Sou jy sê net die mens – lid van die spesie Homo sapiens – het ’n bewussyn van ’n eie unieke bestaan? Sou jy sê diere het ’n soortgelyke bewussyn?”

“Watse diere?”

“Baie mense sou seker eerste dink aan honde en katte.”

“Troeteldiere, maar dan sekerlik ook bobbejane, sjimpansees, gorillas …”

“Goed, kom ons sê dan alle soogdiere.”

“Of dan alle soogdiere wat naelstringe het.”

“Rotte?”

“Wel, rotte is soogdiere … en muise.”

“En walvisse. Maar as ’n rot beskik oor ’n bewussyn van ’n eie unieke bestaan, wat van ’n volstruis? En as jy reken dat ’n volstruis nié ’n bewussyn het van ’n eie unieke bestaan nie, hoekom nie?”

“Volgens ons redenasie is dit omdat ’n volstruis nie ’n soogdier is nie. Omdat volstruise eiers lê, is daar geen dramatiese oomblik van skeiding nie.”

“Dit klink nie reg dat ’n gewone huismuis ’n bewussyn het van ’n eie unieke bestaan, maar nie so ’n groot … kreatuur soos ’n volstruis nie, net omdat hy uitbroei. Dit sal beteken dat ’n reusagtige kreatuur soos ’n dinosourus ook nie ’n bewussyn gehad het van ’n eie unieke bestaan nie, net omdat daar nie ’n naelstring oomblik is, of was nie. En wat van eierlêende soogdiere?”

“Wel, ’n eierlêende soogdier lê ’n eier, so daar’s in elk geval nie ’n naelstring nie. Kom ons sê dan vir die oomblik dat volstruise, en ander groot eierlêende kreature ook beskik oor ’n bewussyn van eie bestaan.”

“Wat van insekte? Wat van kleiner organismes?

“Amebes?”

“En parasiete, en bakterieë. Hoe pas hulle in by die hele ding?”

“Dis moeilik om te sê. Kom ons hou vir die oomblik by soogdiere en die groot eierlêers.”

“Reptiele? As ’n volstruis kwalifiseer, moet ’n krokodil kwalifiseer. En as die grootste slang kwalifiseer, moet die kleinste slang kwalifiseer …”

“Kom ons gaan net eers terug na die vraag oor die ontstaan … maar wag ’n bietjie, waarvan praat ons nou eintlik? Wat presies ís die ‘self’?”

“Ons het ’n paar minute gelede verwys na die bewussyn van ’n eie afsonderlike bestaan. Kom ons kyk wat sê ’n woordeboek …”

[Die volgende terme en definisies kom uit Psigologie-Woordeboek, deur Gouws, Louw, Meyer & Plug (1979)]

self

’n Term met ’n verskeidenheid van betekenisse, waarvan die volgende die belangrikste is:

1. Die persoon se siening van homself, dit wil sê ’n sinoniem vir SELFKONSEP.

2. Al die persoon se eienskappe, dit wil sê die PERSOONLIKHEID.

3. Die kern van die persoonlikheid, dit wil sê ’n sinoniem vir PROPRIUM.

4. Die agent of uitvoerder van gedrag, dit wil sê die “ek”.

5. Die substraat van gedrag, dit wil sê ’n sinoniem vir PSIGE.

6. (W. James) Enigeen van ’n reeks aspekte van ’n persoon soos dit in verskillende lewensituasies of -areas na vore tree, bv. die sosiale self, die religieuse self en die beroepself.

selfkonsep

’n Persoon se siening en evaluasie van homself. Dit sluit kognitiewe, emosionele en evaluatiewe elemente in. Sinonieme: SELFBEGRIP, SELFBEELD en SELF. Vergelyk. IDEALE SELF en LIGGAAMSBEELD.

ideale self

(C. R. Rogers) Die totaliteit van eienskappe waaroor die individu graag sou wil beskik. Die veronderstelling is dat die persoon sodanige wense koester om aan voorwaardes vir aanvaarding te voldoen.

liggaamsbeeld

’n Persoon se subjektiewe voorstelling van sy eie liggaam. Dit kan een of meer van die volgende aspekte insluit: die subjektiewe en min of meer bewuste idee wat ’n persoon op elke oomblik van die posisie, houding en beweging van sy liggaam het; ’n persoon se kenmerkende ervaring van sy eie liggaam; en ’n persoon se evaluasie van sy liggaam of dele daarvan in terme van aspekte soos aantreklikheid, manlikheid, vroulikheid of gesondheid.

persoonlikheid

’n Term wat in sy wydste betekenis dui op die geïntegreerde en dinamiese organisasie van ’n individu se psigiese, sosiale, morele en fisiese eienskappe, soos dit in sy wisselwerking met sy omgewing, en veral met ander persone, tot uiting kom, en soos bepaal deur die interaksie tussen konstitusionele en omgewingsfaktore. Aangesien die persoonlikheid geleidelik ontwikkel gedurende die individu se lewensloop en dus nooit staties is nie, dui die term gewoonlik op die patroon van eienskappe op ’n gegewe tydstip gedurende die individu se lewe.

proprium

(G. W. Allport) Die kern van die persoonlikheid. Dit behels daardie aspekte van die persoon waarby hy hom nóú en intiem betrokke voel, byvoorbeeld sy belangrikste waardes en doelstellings.

psige

Die hipotetiese substraat of draer van alle belewenis en gedrag. […] ’n Verskeidenheid terme word naas psige gebruik om te verwys na die hipotetiese substraat van gedrag, bv. gees, persoon, persoonlikheid, individu, en organisme. Sinonieme: SIEL en SELF.

siel

1. (Teologie) Die onsterflike (en nie-materiële) aspek van die mens. […]

“Ek hou van die dele oor liggaamsbeeld en psige. Wat sê hulle oor die ideale self?”

“Hulle veronderstel ’n mens koester die beeld van ’n ideale self omdat hy of sy aanvaar wil word.”

“Aanvaar wil word? Ek het ’n ideale beeld van myself, maar as meer mense as die huidige handvol my aanvaar sal ek beslis op my senuwees raak!”

“Ek weet nie of jy dit opgetel het nie, maar nie een van die outeurs van daai definisies slaag regtig daarin om ’n vinger te lê op hulle teiken nie. Dis asof almal probeer om ’n redelike glibberige koekie seep vas te vat.”

“Kom ons kyk: persoon se siening van homself … al die persoon se eienskappe … die kern van die persoonlikheid … die agent of uitvoerder van gedrag … enigeen van ’n reeks aspekte van ’n persoon soos dit in verskillende lewensituasies na vore tree … ’n persoon se evaluasie van homself … die geïntegreerde en dinamiese organisasie van eienskappe … die draer van alle belewenis en gedrag … die onsterflike en nie-materiële aspek van die mens …”

“Soos ek sê, ’n glibberige koekie seep. Kom ons konsentreer eers op die mens se bewussyn van ’n eie self.”

“Bewussyn van ’n eie self? Onthou net, as die self ‘X’ is, kan die self nie ook ‘bewussyn van X’ wees nie.”

“Dalk is die self nie ’n ‘X’ nie, dalk is die self bewussyn … van … iets, of alles. Tog kan ‘self’ nie gelyk gestel word aan bewussyn nie … Kry jy ooit die gevoel dat jy iets probeer verwoord waarvoor jou woordeskat heeltemal te primitief is?”

“Gereeld.”

“Nietemin, die bewussyn van … eie lewende, liggaamlike, afsonderlike bestaan moet tog êrens ontstaan, op een of ander punt moet dit gaan van ‘niks’ na ‘iets’, van ‘0’ na ‘1’. As hierdie punt nié lê by die knip van die naelstring nie, na watter ander moontlikhede kyk ons?”

“Konsepsie?”

“Kan nie wees nie … kan jy jouself voorstel ’n bevrugte eiersel met ’n bewussyn, wat nog te sê van ’n gesofistikeerde bewussyn van eie bestaan?”

“Kan dit gesê word dat die self nie van een oomblik na ’n volgende ontstaan nie, dat dit eerder stadig ontwikkel?”

“Kan dit gesê word dat die liggaam nie van een oomblik na ’n volgende ontstaan het nie, omdat dit stadig ontwikkel?”

“Laat ek sien of ek dit reg verstaan. Die mens se fisiese liggaam ontstaan uit die moeder – en vir deeglikheid moet dit genoem word, nadat die moeder se eiersel bevrug was met ’n fisiese bydrae van die vader. Volgens die naelstring-teorie kan dit dus gesê word dat die pasgebore mens se bewussyn van hom- of haarself ook ontstaan uit die moeder, in die sin dat daar aanvanklik net een bewussyn was – dié van die moeder, dan na tien of twintig of dertig weke kan breinaktiwiteit by die fetus bespeur word, maar sekerlik niks wat genoem kan word ’n bewussyn van eie unieke bestaan nie – daar’s geen persoonlikheid nie, geen siening van homself nie, geen evaluasie van homself nie, en dan, die oomblik as die naelstring geknip word, is daar ongetwyfeld meer as een geval van bewussyn – die moeder se bewussyn, en die geboorteling se bewussyn.”

“Bewussyn van eie, afsonderlike bestaan miskien, maar steeds geen persoonlikheid nie. Ek meen, geen pasgebore baba het enige siening van homself nie, geen self-evaluasie nie …”

“Nog nie, maar jy kan nie ontken dat iets dramaties gebeur het van die een oomblik na die volgende nie.”

“Laat dit mens nie dink aan Frankenstein wat sy projek animeer, en ’n bewussyn gee van homself, met ’n elektriese skok nie? Behalwe in die geval van die pasgebore mens is die elektriese skok die knip van die naelstring.”

“Maar in die storie het die elektriese skok ook breinaktiwiteit gestimuleer. Uit die breinaktiwiteit het bewussyn ontstaan. In die geval van werklike mense, is die fetale brein reeds aktief weke voor geboorte, weke voor die knip van die naelstring. Of die fetus bewus is van enige iets, en indien wél, van wát, is natuurlik ’n ander vraag.”

“Laat ek ’n stelling maak: Ek is nou, op hierdie punt, Maandag 5 Julie 2004 om 12:48 in die middag bewus van myself as ’n afsonderlike entiteit, verwyderd van lewelose objekte in my omgewing (behalwe vir die stoel waarop ek al vir ure sit), en fisies verwyderd ook van alle ander lewende kreature. As ek nou moet sterf van skok of iets, gaan net ék dood. As iemand anders in die omgewing op hierdie oomblik sterf aan byvoorbeeld ’n hartaanval, sterf net daai persoon – ék gaan voort. Ek is bewus van hierdie afsonderlikheid. Ek is ook bewus van ’n ander tipe verbintenis, wat in alledaagse spraak genoem word ’n emosionele verbintenis, met mense wat ek al ken vandat ek … wel, vandat ek kan onthou. Ek is verder bewus daarvan dat ek ’n redelik eiesoortige persoonlikheid het, dat ek ’n bepaalde beskouing het van myself, en dat sekere aspekte van my persoon na vore tree in verskillende situasies. Ek is bewus van al hierdie dinge. My vraag is nou, op watter punt het ek die eerste keer bewus geraak – van myself, van my afsonderlikheid, van my bestaan as ’n afsonderlike entiteit? En indien hierdie punt nie die ontstaan is van dit waarna uiteindelik verwys kan word as die self nie, wat is dan?”

“Dis moeilik om ’n vinger te druk op een enkele punt. Mens moet jouself ook herinner daaraan dat ‘self’ nie gelyk gestel kan word aan breinaktiwiteit nie, en ook nie noodwendig gelyk gestel kan word aan bewussyn nie.”

“En breinaktiwiteit beteken ook nie noodwendig dat daar bewussyn is nie.”

“Nietemin, selfs as die ‘self’, of ’n bewussyn van eie unieke bestaan verstaan word as resultaat van ’n stadige proses wat in klein inkremente gebeur, moet daar steeds ’n punt van ontstaan wees. Daar móét, noodwendig, ’n punt van ontstaan wees! Waar hierdie punt lê, wanneer hierdie oomblik plaasvind van meer-word-as-net-vlees-en-bloed, hoe elementêr ook al, raak die kern van die mens se eksistensie.”

“Dan spekuleer ons nie eens oor die moontlike ooreenkoms tussen die mens se bewussyn en waardering van sy eie bestaan, en wat ander soogdiere ervaar nie.”

“En voëls, reptiele, visse, insekte … bome?”

______________________

“Ek, nou” en verwante notas

SONDAG 4 JULIE 2004

Is “Persoon A” dieselfde mens as wat sy was vyf jaar gelede? Ten spyte van veroudering, en in ag genome die effek van leefstyl op haar voorkoms en fisiese welstand, is sy heel moontlik steeds herkenbaar as dieselfde persoon. Psigies is sy egter bloot verwant. Om te beweer dat sy psigies dieselfde mens is, is nie te verskillend as om te beweer dat ek en een van my twee susters dieselfde mens is nie, net omdat ons van dieselfde baarmoeder afkomstig is.

Volgens wet is hierdie persoon steeds “Persoon A”. Sy is steeds verantwoordelik vir kontrakte wat sy vyf jaar gelede aangegaan het. Sy kan ook steeds verantwoordelik gehou word vir kriminele dade wat sy moontlik gepleeg het vyf of tien jaar gelede.

Sy dra ook steeds die vreugdes en die las van keuses wat sy gemaak het, of insidente waarby sy betrokke was enige tyd gedurende haar verlede.

Die SELF bly egter nie konstant nie. “SELF-2004 van Persoon A” is psigies slegs verwant aan “SELF-1999 van Persoon A”.

Dit kan verder gevra word of “SELF, Mei 2004 van Persoon X” dieselfde is as “SELF, Julie 2004 van Persoon X”, of slegs verwant. Die antwoord is weereens dat die twee slegs verwant is, maar heel waarskynlik nader verwant as “SELF, 1995 van Persoon X” en “SELF, 2003 van Persoon X” (’n partikulêre waarheid vir Persoon X, wat nie noodwendig toegepas kan word op Persoon A nie).

Mens kan selfs meer tegnies raak en vra na die verhouding van “SELF, 4 Julie 2004 om 16:34 van Persoon X” tot “SELF, 4 Julie 2004 om 16:33 van Persoon X”. Die antwoord is dieselfde: steeds slegs verwant, maar die graad van verwantskap is heel waarskynlik nouer as in die geval van byvoorbeeld “Mei-SELF” en “Julie-SELF”. (Weereens is enige sprake van verwantskap in die geval van Persoon X nie noodwendig geldig vir Persoon A nie, omdat vyf minute – selfs een minuut – ’n dramatiese verskil kan maak in een mens se lewe, terwyl relatief min dalk verander oor die verloop van ’n maand in ’n ander persoon se lewe.)

______________________

Verligte en onverligte – briljante nege

SATERDAG 3 JULIE 2004

Die verskil tussen die VERLIGTE en die ONVERLIGTE

Die ONVERLIGTE sê: Dit is wie en wat ek is, so ek moet dit maar net aanvaar.

Die VERLIGTE sê: Hier is die kaarte wat aan my gedeel is, en hier is die hulpbronne tot my beskikking. Hierdie is my vermoëns en beperkinge, en hierdie is my belangstellings. In ag genome al hierdie dinge, verklaar ek ’n bepaalde visie van WIE en WAT ek WIL wees, en WAAR ek sal verkies om dit te wees. Laat die werk dus begin.

SONDAG 4 JULIE 2004

Saluut vir die briljante nege! (uit elke tien)

Een stelling wat nie naastenby die aandag kry wat dit verdien nie: Mense is briljant! Mense is manjifieke kreature wat daarin slaag om te oorleef, en selfs gelukkige lewens te leef tot op ’n ryp ouderdom, dit ten spyte daarvan dat hulle fokkol weet of verstaan oor hul eie spesie, en oor hoe die mens funksioneer.

Sal iemand dalk sê, “Miskien weet hulle meer as wat jy dink.”

My opinie is, natuurlik weet meeste mense iets, en natuurlik verstaan hulle baie dinge. Maar in ag genome die totaliteit van wat daar te wete is, verteenwoordig wat hulle wel weet en verstaan so ’n fraksie van die geheel dat mens nie kwalik geneem kan word as jy ’n ietwat vulgêre frase benut om die hoeveelheid kennis en begrip aan te dui wat jy reken hulle oor beskik nie.

“Is jy dan nie ook een van hierdie spesie nie?” sal ’n intelligente leser weer vra.

Ja, sal ek antwoord, maar ek reken ek kan teen hierdie tyd wegkom daarmee om te beweer dat ek nie naastenby so onkundig is soos nege uit elke tien op straat nie.

______________________