Persoonlike Agenda, Boek Twee: Inleiding

Deel een: Opsies vir die jong volwassene

Middelklas Suid-Afrikaners het in die laaste halfeeu of so met groot entoesiasme ’n hoeksteen van die geïndustrialiseerde wêreld omhels: die Vaste Betrekking. Die idee is om klaar te maak met hoërskool en dan deur tersiêre studie en/of praktiese ondervinding jouself te kwalifiseer vir ’n beroep. Na die suksesvolle afhandeling van hierdie opleidingsfase – gewoonlik as die jong volwassene in sy of haar vroeë twintigs is – dan dikteer die reëlboek dat die jong gegradueerde of pas gekwalifiseerde ’n frenetiese soektog moet begin na ’n geleentheid om arbeid te verrig en geld te verdien – en hoe vaster die geleentheid, hoe beter.

Die stabiele inkomste wat ’n vaste betrekking aan ’n jong volwassene sal gee, sal die enkellopende man of vrou finansieel onafhanklik maak van hul families; indien hulle dit so verkies, sal dit ook die jong volwassene in staat stel om in die huwelik te tree. Status in die gemeenskap, jaarlikse verhogings, professionele bevordering, en ander byvoordele van ’n vaste betrekking soos ’n mediese fonds, sal die jong getroude paartjie in staat stel om ’n gesin te begin, en ’n goeie, stabiele lewe te verseker vir hulleself en hul onmiddellike nageslag.

Natuurlik is ’n vaste betrekking nie vir almal wat dit begeer, beskore nie. Ekonomiese realiteit, en ander faktore maak dit soms onmoontlik vir almal om matriek te behaal, wat nog te sê van om ’n tersiêre kwalifikasie te bekom. Die idee van die vaste betrekking bly egter die ideaal, selfs in hierdie gevalle.

Een alternatief vir die vaste betrekking is om jou eie besigheid te begin. Selfs al sou jong volwassenes wat talent vertoon as entrepreneurs se ouers graag wou hê dat hulle een of ander tersiêre kwalifikasie moes behaal – miskien om op “terug te val” – sal ’n entrepreneur sy vryheid van die konvensionele pad kan koop met harde kontant wat gegenereer word uit sy eie besigheid. Laasgenoemde mag enige iets wees van professionele tuindienste, tot ’n reeks pizza restaurante, of die maak van tuinstoele en -tafels. Solank as wat so ’n besigheid aan die entrepreneur ’n gereelde inkomste gee, en hy derhalwe kan bewys dat hy nie net vir homself nie, maar ook op die langtermyn vir die welsyn van ’n gesin mede-verantwoordelikheid kan aanvaar, sal wat hy doen goedkeuring en selfs respek van sy familie ontvang.

Talent, persoonlikheid, oortuigings – godsdienstig of polities, of ’n kombinasie van motiverings dryf sommige jong volwassenes egter daartoe om hulle dae te vul met werk wat nie noodwendig ’n inkomste genereer nie. Een voorbeeld wat genoem kan word is die musikant wat net genoeg geld verdien om vir ’n kamer in ’n losieshuis te betaal, en wat gereeld in argumente betrokke raak met sy familie omdat hy nooit vir hulle kan verduidelik hoe hy eendag ’n gesin gaan onderhou nie. ’n Ander voorbeeld is die sendeling, wat teen karige betaling die Evangelie verkondig vir maande op ’n slag in soms eksotiese lande ver van die huis af. Laasgenoemde kan ten minste nog hoop op ’n bietjie simpatie as hy met ’n ou bakkie rondry, en nie geld het om by duur restaurante te eet nie. Hy kan sy finansiële situasie regverdig omdat wat hy doen, gesien word as selfopoffering vir ’n Goeie Saak.

Deel twee: Die skrywer, geloof, en die vaste betrekking

Dit bring ons by die skrywer van hierdie materiaal. ’n Musikant sou hy graag wou wees, maar die enkele musiekinstrumente wat hy besit, vergaar vinniger stof as ’n skrynwerker se tafel. Entrepreneurswese, aan die ander kant, is iets wat hy altyd geassosieer het met ’n Saterdagmiddag in 1985 buite die destydse Loftus Versfeld, met hom wat besig was om worsrolletjies te verkoop vir die koffers van die Christelike Jeugvereniging. Sy opinie van hierdie alternatief tot ’n vaste betrekking het egter in die laaste paar jare meer gesofistikeerd geraak, en hy’t selfs boeke en ander leesmateriaal begin aanskaf om homself uiteindelik suksesvol te kan voordoen as ’n smous van enige iets wat geld kan maak.

Dit moet ook genoem word dat die skrywer in sy jeug sekere godsdienstige oortuigings baie ernstig opgeneem het. (Om watter ander rede sou hy worsrolletjies wou verkwansel op ’n middag wat al die ander mense in die omgewing rugby wou kyk?) Sekere persoonlikheidstrekke, en sy erns met kerklike leerstellings het sy familie laat glo dat hy moontlik nie bestem was vir enige iets in die wêreld van geld en besigheid nie. ’n Predikant miskien, of ’n sendeling, is daar gefluister.

Helaas, geld vir die luuksheid van ses jaar se teologiese studie om uiteindelik ’n vaste betrekking in die Kerk te aanvaar, was daar nie. En so het die skrywer die tweede beste opsie uitgeoefen – hy’t onderwys gaan studeer.

Sy belangstelling in teologie en sy erns met godsdienstige leerstellings is egter nooit oorskadu deur die realiteite van die grootmenswêreld nie. Toe hy vakke moes kies vir sy Baccalaureus graad in die kunste, het hy Bybelkunde (later Godsdienskunde) gekies eerder as ’n vak wat hom ’n beter kans sou gee op ’n vaste betrekking in die onderwys. Vir die volgende paar jare was sy belangstelling toenemend gefokus op teologiese studie – dat hy eintlik besig was om onderwys te studeer, was net van akademiese waarde.

Teen die tyd wat hy uiteindelik by die Diploma vir Hoër Onderwys gekom het, het sy godsdienstige oortuigings egter ’n transformasie ondergaan. Hy het in groot opregtheid vrae begin vra wat sy ouers, en enige skoolhoof, sou verkies het hy eerder nie moes uiter nie. Oor die bestaan van die god aan wie hy voorheen sy lewe wou toewy, was hy nou onseker. Teen die formele dogma van die kerk waarin hy gedoop en aangeneem is, het hy lang argumente afgesteek.

Hy het nietemin voortgegaan om die “ware doel en betekenis” van sy eie lewe te ondersoek. In die proses het hy enige sekerheid wat hy ooit voorheen gehad het oor wat dit beteken om ’n mens te wees, verloor. Hy het ook begin om aantekeninge te maak oor sy opinies, en oor die vrae wat hom gepla het.

Die skrywer se lewe het hierdie rampspoedige fase getref presies op die tyd wat hy veronderstel was om sy skoene te poets vir sy eerste poging tot ’n vaste betrekking.

Ernstige student soos die skrywer was, het hy op hierdie stadium reeds twee grade en ’n diploma verwerf. Dit sou dus sin maak vir hom om, soos dit ’n persoon betaam wat oor sulke kwalifikasies beskik, te probeer om ’n onderwyspos êrens los te slaan. Enige iets tydelik sou hom op die regte spoor plaas. As hy gelukkig was, en hy kon homself sover bring om ’n toegewyde onderwyser te wees, kon hy moontlik binne ’n dekade die mees gesogte prys toeëien wat enige jong onderwyser kan begeer: ’n vaste betrekking.

Wat het die jong, pas gekwalifiseerde onderwyser-skrywer gedoen? Het hy, soos sy maats in die Fakulteit Onderwys, die kennisgewingbord met skrefiesoë gefynkam vir ’n moontlike betrekking? Het hy navraag gedoen by plaaslike skole? Het hy ten minste ’n Curriculum Vitae opgestel, om aan enige skoolhoof wat daarna kyk ’n idee te gee van watse lojale en bekwame onderwyser hy kan wees? Nee. Wat hy wel gedoen het, was om sy hare te laat groei, en ’n gat in sy een oorlel te laat skiet waarin hy ’n silwer son gedruk het. En dit was die einde van sy onmiddellike kanse op ’n vaste betrekking …

Geld moes egter verdien word, dit sou hy geweet het selfs al het sy ouers en sy meer verantwoordelike ouer suster nooit die onderwerp aangeroer nie. “Wat gaan jy doen met jou lewe?”, “Wat is jou planne?” en “Hoe beplan jy om geld te verdien?” was vrae wat niemand werklik nodig gehad het om hom te vra nie. Tesame met al die vrae oor die bestaan van God, die doel en betekenis van sy lewe, en die vraag na wát presies die mens is, moes hy ook die vraag kontempleer oor waar in die arbeidsmark hy ’n begin gaan maak wat moontlik, na die verloop van tyd, mag lei tot ’n stabiele, besoldigde posisie. Want behalwe vir die geldaspek, moes hy ten minste probeer om in te pas, miskien ’n vrou te vind, en – wie weet? – dalk selfs ’n motorkar aan te skaf wat verder as die naaste dorp kon ry.

Oor die volgende paar jare het die skrywer probeer om ’n middeweg te vind in plekke soos Korea en Johannesburg, en uiteindelik, Taiwan. Hoe kon hy al die vrae beantwoord wat hom soos besete honde jaag, en terselfdertyd geld verdien? Hoe kon hy homself verbind aan iets wat aan hom ’n gereelde inkomste gee, terwyl hy terselfdertyd oortuig kon wees van die feit dat hy nie sy lewe mors in die oënskynlik eindelose stryd om oorlewing, en miskien ’n greintjie materiële gemak nie?

Die jong seun wat in groot erns gebid en getrou sy Bybel bestudeer het, het as ’n jong volwassene afstand gedoen van sy geloof in die leerstellings van die Kerk. Maar hierdie jong seun het ook ’n man geword wat steeds oortuig was daarvan dat hy “meer” moes doen met sy lewe as “net” geld maak.

As hy ’n sendeling geword het vir die Christelike boodskap, kon hy nog ’n beroep gedoen het op die ondersteuning van ’n Hoër Hand. Hy kon mooi Bybelversies aangehaal het in sy argumente oor hoekom hy nie ’n vaste betrekking wil, of kan, aanvaar in ’n maatskappy wat ingestel is op winsbejag nie. Hy kon aanspraak maak daarop dat hy ’n Goeie Saak dien, en saam met sy familie bid vir begrip – en finansiële ondersteuning.

Die werklikheid vir die skrywer was egter dat hy ’n toenemend persoonlike agenda begin dien het. Na ’n paar jaar het hy nie werklik meer omgegee as mense hom eiesinnig, verwaand en selfsugtig genoem het nie. Hy wou doen wat hý wou doen; basta met die res.

Behalwe dat hy sy familie baie gemis het, en steeds graag die basiese vertroosting van sy eie gesin eendag sou wou geniet, het hy geweet dat sy lewe in selfopgelegde ballingskap in die Verre Ooste hom sekere geleenthede gebied het wat hy nie in sy eie land as vanselfsprekend kon aanvaar nie. Hy’t tyd gehad om dae en nagte lank die vrae te kontempleer wat hom na al die jare steeds gepla het; hy kon ook met ’n paar Engelse klasse elke dag genoeg kapitaal verdien om aan sy familie (en aan die bank) te wys dat hy die hele geld-verdien-storie ernstig opneem, soos dit ’n verantwoordelike volwassene betaam.

Hy het egter geweet dat selfopgelegde sosio-ekonomiese ballingskap uit die land van sy geboorte nie volhoubaar is nie. Hy moes een of ander tyd terugkeer, ongeag hoeveel vrae onbeantwoord sou bly, en ongeag die implikasies van so ’n aksie vir sy finansiële en sosiale status.

Soos die tyd aangestap het, het hy ook toenemend oortuig geraak van sekere dinge wat hom tot ’n mate herinner het aan die leerstellings wat hy jare tevore verwerp het.

Dit was sekerlik so dat hy dit geniet het om te skryf, dat dit ’n goeie manier was om tred te hou met sy eie gedagtes, en ook dat hy sy eie vrese en ambisies op so ’n wyse kon verduidelik aan sy familie en enige iemand anders wat moontlik sou belangstel. In die jare sedert hy begin dink het aan homself as ’n “skrywer” het hy meermale probeer om materiaal te produseer wat van ’n kommersiële aard was. Hetsy kortverhale of artikels, hy het geglo dat hy moontlik op hierdie manier die kloof tussen sy persoonlike agenda en die ekonomiese realiteite van die moderne wêreld kon oorbrug. Hy kon egter nooit lank genoeg konsentreer op fiktiewe karakters, of relase oor nagmarkte om ’n beroep as ’n inkomste genererende skrywer van die grond af te kry nie. In stede daarvan het hy aanhou opstelle skryf oor sy eie lewe, oor die vrae wat hom pla, die emosionele armsaligheid van sy lewe in “ballingskap” en die potensieel noodlottige implikasies van ’n ontydige terugkeer na sy geboorteland.

Daar was egter meer agter sy skrywery as net ’n goeie argument, of ’n poging om iets na te laat wanneer alles verby is. Hy het nie net geskryf vir sy eie vermaak, of vir die vermaak van ander nie. Hierdie voormalige kind van die Hervormde Kerk, van Bybelstudie en gebedskringe, was besig om meer te doen as om net sy persoonlike agenda te verwoord – hy was besig om te preek. Dat hy dit gedoen het in sy eie woorde, gekleur in die skadu’s van sy eie politiek en gemotiveer deur sy eie onsekerhede en vrese, het niks weggevat van die feit dat wat hy skryf, toenemend begin lyk het soos ’n boodskap nie.

Hy wou nie net vertel van sy eie lewe nie (wat maar bra vervelig was op die beste van tye), en hy wou nie net meer hê dat sy familie moes verstaan hoekom hy nog steeds nie die moontlikheid wil oorweeg van ’n vaste betrekking in sy eie land nie. Hy wou verkondig wat hy in sy eenvoudige begrip as verkeerd geag het in die moderne wêreld. Hy wou verkondig wat hy geglo het gedoen kon word om die situasie te verbeter. Hy wou preek vir mense wat hy glo nie altyd die beste keuses maak onder die beskikbare moontlikhede nie. Hy wou bekend maak aan ander wat ook wonder – en wonder almal nie aan die einde nie? – dat hy al ’n bietjie hierdie sake oordink het, en dat dít is hoe hy reken dinge staan, al stem mense nie noodwendig saam met hom nie.

Hierdie kind van ’n soort van middelklas Afrikaner familie wou, na vele jare, sy eie visie verkondig van ’n beter lewe vir almal wat dit begeer.

Het die Skrywer dus, uiteindelik, ’n Sendeling geword vir ’n Goeie Saak? Al hoes en proes hy soms in ’n taal wat nie heeltemal kerklik is nie. Al weet hy nie aldag wie die Baas van die Goeie Saak is nie. Al raak mense helfte van die tyd aan die slaap met sy skryfmateriaal in hulle hande. Al het hy nog steeds nie uitgewerk hoe hy gaan opmaak vir die feit dat hy nie wíl, of kán soek vir ’n vaste betrekking nie. En al mag dit hom twintig jaar vat voordat hy die basiese vreugde en vertroosting van sy eie gesin kan geniet.

Deel drie: Administrasie

Hierdie is dan, soos jy sekerlik kon aflei, die begin van BOEK TWEE. Die hoofprotagonis van die eerste boek is weer aan die woord – en genoeg woorde, soos dit geblyk het, om ’n tweede boek te regverdig.

Die “verhaal” word hervat vanaf die eerste deel van Mei 2003, kort nadat ek BOEK EEN afgehandel het. Soos met die eerste boek, is die materiaal merendeels in chronologiese volgorde.

Dit moet ook genoem word dat hierdie tweede boek ’n ander tipe skryfproses as die eerste volume behels het. Teen Mei 2003 was ek deeglik bewus van die feit dat wanneer ek iets skryf, ek die versoeking moontlik nie gaan weerstaan om dit in te sluit by my “projek” nie. Dit het egter nie die integriteit van wat ek geskryf het, geaffekteer nie. Siende dat ek steeds nie seker was (en is) of hierdie projek ooit geborg sal word deur ’n kommersiële uitgewer nie, het ek geweet ek kan maar skryf wat ek wil, en op wyses wat ek ag as mees geskik vir die spesifieke inhoud. Hierdie benadering was versterk deur my oortuiging dat die eerlikheid en integriteit van die materiaal veel belangriker is as enige monetêre beloning wat ek ooit daarvoor mag ontvang. Sou hierdie projek dus ooit gepubliseer word (spesifiek deur ’n kommersiële uitgewer), sal ek kan bevestig dat hierdie teks nie geskryf was op ’n wyse wat dit meer publiseerbaar sou maak nie. En as dit nooit gepubliseer word nie, dan kan ek net my skouers optrek en verklaar dat ek ten minste gesê het wat ek wou sê.

Net nog ’n paar laaste opmerkings oor die inhoud, en die potensiële waarde daarvan vir jou as leser. Die materiaal is selfgesentreerd, dit erken ek. Hierdie boek gaan hoofsaaklik oor een persoon, oor sy werklikheidservaring, en oor hoe hy die lewe sien. Die potensiële waarde vir jou as leser lê daarin dat dit jou dalk sal laat wonder oor die keuses wat jy gemaak het in jou eie lewe, of oor keuses wat jy op die oomblik kontempleer. Dit is verder my opregte wens dat as jy nie saamstem met van die opinies in hierdie boek nie, jy sal poog om die redes daarvoor te verwoord. En as jy wel saamstem, ook goed so (weereens sal dit ideaal wees as jy weet hoekom). Hierdie projek is duidelik geen Stephen King riller of Dalene Mathee epic nie. Troos jouself dus as jy deur die soveelste stuk gegaap het: as die dobbelsteen anders geval het, het jý dalk hierdie boek geskryf.

Brand Smit

Dinsdag 6 Januarie 2004

______________________

Drie gedagtes uit die 16k

SATERDAG 13 DESEMBER 2003

“Jy’t nie ’n huis nie, jy’t nie ’n kar nie, jy’t nie ’n regte job nie, en jy’s alreeds in jou dertigs en jy’s nog nie getroud nie.”

“Ja, ek weet. Maar …”

“Geen maar’s nie. Hierdie is die dinge wat vir mý saak maak as ek ’n man beoordeel. Jy mag dalk sewe jaar in Noordoos-Asië gespandeer het, gebroke Chinees praat, en ’n hele literêre projek vol geskryf het oor jou opinies. Maar jy’t nie ’n behoorlike huis nie, jy’t nie ’n kar nie, jy’t nie ’n werk nie, en jy’s alreeds in jou dertigs en daar’s nie eers ’n romantiese verhouding op die horison nie.”

En dis dit. Saak gesluit.

Maak dit saak? Nie soveel as wat dit irriteer nie.

DINSDAG 30 DESEMBER 2003

Vele mense bereik ’n punt waar hulle besef hulle tel nie regtig nie. Sommige mense hou aan probeer; ander stop.

Ek het al talle mense gesien in Taiwan wat die indruk skep dat hulle opgehou het om te probeer. Hulle lê, voete in die oggendson, en wag vir iemand om ’n koeldrank te koop, vir ander Mahjong-spelers om te arriveer, vir die sigaret tussen hulle vingers om uit te brand sodat hulle nog een kan opsteek.

Is dit moontlik dat ek net nie hierdie mense se uitkyk op die lewe verstaan nie? Miskien is nie almal so gepla daarmee om te “tel” in ’n groter begrip van sake nie.

* * *

Een van die positiewe gevolge van die Industriële Rewolusie was die vrystelling van die lyfeienes, en die opheffing van ’n stelsel wat hulle aan die grond, en aan hulle landhere gebind het. Hierdie emansipasie, tesame met ’n beleidsverskuiwing wat meegebring het dat ’n betekenisvolle persentasie publieke grond nie meer vir landboudoeleindes beskikbaar was nie (soos in Engeland), het egter verseker dat die voormalige lyfeienes kort daarna, ter wille van hulle eie oorlewing, gebind was aan die behoeftes van die nuwe industrieë.

Die Industriële Rewolusie het ook meer vryheid vir die individu beteken – in teorie, en aan hulle meer keuses gegee. Geld maak dinge soms gelyk. Meer as net kapitaal het die lyfeiene aan die grond en die landheer verbind onder die feodale stelsel. Vandag, in teenstelling, koop geld amper enige iets wat jy nodig het. As jy vandag ’n industriële of korporatiewe lyfeiene is en jy wen die lotery, of jy dink aan ’n goeie idee, staan jy ten minste ’n kans om môre te regeer oor jou eie klein koninkryk.

______________________

Die einde van ’n adres/Transformasie

VRYDAG 26 SEPTEMBER 2003

Ek sit in ’n kaalgestroopte woonstel en wag vir die verhuisingstrok om my en my gemors te verskuif na ’n nuwe habitat toe. Sommige gedagtes moet egter dringend genoteer word.

Eerstens, soos ek reeds talle kere genoem het, is my sin van waar ek behoort hoogs onstabiel op die beste van tye. Dit het die vraag laat ontstaan of ek ooit werklik êrens tuis sal voel. Ek bedoel, sommige mense pas nooit in op enige plek nie, reg? Is dit nie die betekenis van die etikette “swerwer” en “eensame” nie?

Teenstrydig met die eerste punt het ek ook onlangs ’n méér ontwikkelde sin van waar ek hoort, ervaar. Ek is ook skepties daaroor om té goed in te pas. Is dit omdat ’n mens moet konformeer aan stelle reëls – wat meestal nooit uitgespel word nie – om te kan inpas? Sulke reëls sluit in wat en hoe jy moet aantrek, hoe jy moet optree teenoor verskillende mense, hoe jy jouself moet gedra, wat jy moet sê en wat nie, wat jy moet glo, watter ideale aanvaarbaar is en watter nie, en watse ambisies mens behoort te hê. Maar wat help dit om eerlik te wees – om nie te konformeer ten koste van wie jy glo jy werklik is nie – as jy alleen opeindig? Wat is die waarde daarvan om getrou te bly aan jouself, as dit beteken dat jy altyd alleen loop?

Die ander ding wat ek graag wil noem – verwant aan die eerste saak, is dat ek miskien myself moet transformeer in ’n kreatuur wat makliker inpas. Dit kan tog nie só moeilik wees nie – ek het immers vriende! (Familie tel nie regtig in hierdie geval nie. Hulle het ’n morele verpligting om jou te aanvaar in hulle midde … dis nou te sê as jou klerestyl, jou gedrag, wat jy sê, waarin jy glo, en jou ideale, nie jou familie so teen die bors stuit dat hulle die punt bereik waar hulle voel dit beter sal wees vir almal as jy nie daarop aandring dat hulle jou behoefte moet bevredig om deel te wees van hulle intieme sirkel nie. My klerestyl, my gedrag, en selfs my ambisies is gelukkig nie van so ’n aard dat dit my ouers of my twee susters se waardigheid te lelik krenk nie. Dit strek natuurlik ook tot my voordeel om so te glo.)

So, met die treklorrie wat al nader kom, wat is die kanse dat ek myself tot so ’n mate kan transformeer dat ek makliker ’n toetrede kan maak tot groepe en gemeenskappe?

* * *

Teen 14:55 was alles verby. Ek wou die vorige deel geëindig het met die woorde, “So, terwyl die skurke in hulle blou lorrie al nader kom …” maar ek het gedink ek sal hulle die voordeel van die twyfel gee. Skurke was hulle toe wel, maar vriendelik genoeg na hulle twee keer meer geld uit my geforseer het as wat ek gehoop het die hele operasie my sal kos. Ek wou geargumenteer het, maar hulle het dreigend saamgegroepeer, met die een wat sy T-hemp so effens opgetrek het om sy onderwêreld tatoeëermerk te vertoon. Op daai oomblik onthou ek toe nog een van die Belangrike Beginsels van Oorlewing: Beteuel jouself voor jy betrokke raak in fisiese konflik met meer as een skurk op ’n slag as jy alleen is. Hierdie beginsel is natuurlik nog meer van toepassing as die skurke die tipe is wat groot rusbanke en wasmasjiene op hulle rûe by drie stelle trappe opdra, en soveel te meer as jyself, sal ons maar net sê, die skolastiese tipe is. (Is dit nodig om by te voeg dat dit nie ’n goeie idee is om los papiere met notas op uit die rusbank te wil trek terwyl die reeds genoemde skurk besig is om die rusbank by ’n stel trappe op te dra nie?)

Alles in ag genome het die proses sonder veel insident verloop. Ek sit nou buite my gunsteling koffieplek, rustig suigende aan ’n koppie romerige Weense koffie, terwyl ek die swael-besoedelde lug van hierdie deel van die dorp inadem.

In die ure wat verby gegaan het tussen die trekkery en die koffie, moes ek ook ’n klas gee by die skool waar ek al amper vyf jaar lank werk. Hier was ek in die gelukkige posisie om ’n paar keer so uit die hoek van my een oog ’n Taiwannese kollega – wat in die kantoor werk – raak te sien. Nodeloos om te sê besiel haar sensuele skoonheid my om soveel as moontlik fotokopieë te maak, en selfs om gesprekkies met haar te voer in my eiesoortige Chinese dialek.

Toe een van die studente haar vra of sy getroud is, skud sy net haar kop. Dit forseer my toe om my eie reputasie te kontempleer as ’n swerwende wolf van die pad tussen my huis en … wel, die 7-Eleven. ’n Vinnige hoofberekening van die redes vir hierdie jammerlike stand van sake herinner my toe daaraan dat ek ’n probleem het met my plek in die wêreld.

Dit bring ons terug by my pre-konfrontasie met die getatoeëerde vervoerman vraag: Is dit moontlik dat ek myself kan transformeer in ’n individu wat die vermoë sal hê om makliker in te pas?

______________________

Stigting van die Anti-beuselagtigheidsliga

DONDERDAG 25 SEPTEMBER 2003

Bestaan daar iets soos ’n anti-beuselagtigheidsliga? Indien nie, roep ek dit nou tot lewe op hierdie oomblik. Ons leuse sal niemand se tyd mors nie: “Wat is die punt?” Die liga sal ’n oefening wees in betekenisvolle onderneming – ’n doelgerigte aanval op nutteloosheid. (Die gedagte het wel onlangs by my opgekom dat hierdie materiaal waaraan ek werk dalk net ’n nuttelose onderneming is. Wie gee werklik om of ek my eie ware naam ken? Wie gee om of ek betekenis in my lewe sien, en of ek my dae vul met betekenisvolle aksies?)

Ons almal het groepe waaraan ons behoort – of meeste van ons, in elk geval. Meeste mense hou daarvan om deel te wees van iets, so nou is daar nog ’n groep waarvan u as leser ’n trotse lid kan word! Ons kan selfs naamkaartjies laat druk, en aan elke lid ’n spesiale nommer gee.

Lidmaatskap sal natuurlik gratis wees vir die eerste miljoen lede; daarna kan ons ’n klein jaarlikse fooitjie hef. Een reël sal wees dat almal behalwe arm kunstenaars koek en tee moet bring na vergaderings toe, en verkieslik genoeg daarvan sodat die kunstenaars hulle plastieksakke en leë koeldrankbottels kan opvul na die tyd.

Miskien moet ons ’n geheime organisasie wees, met selle wat gemeenskappe oral in die wêreld kan infiltreer! Dan kan ons ’n manifes skryf, en oor vyftig jaar Rusland oorneem, of Kuba, of Mpumalanga. Ons kan ook protesaksies loods teen nuttelose organisasies en instellings, soos uitgewers wat net ingestel is op profyt. Ons kan selfs sendelinge oplei om van deur tot deur te gaan met traktaatjies …

______________________

(Aanvanklik oor) Die fauna en flora van Taiwan

SATERDAG 20 SEPTEMBER 2003

Taiwan het baie mooi blomme, en bye ook. Daar’s ook bome, en so nou en dan sien ’n mens berge. Die lug is wel besoedel. Daar’s ook baie honde wat op straat rondloop en vir mense met lang neuse blaf. Sommige van die honde is groen.

Wat my regtig pla oor dié storie is … hoekom is ek so desperaat vir antwoorde? Hoekom het ek so baie vrae? Is dit oor my opvoeding – godsdienstige omgewing waar daar gereeld vir ’n mens gepreek is deur dié wat veronderstel was om te weet? En as jy nie geweet het nie, kon jy hel toe gaan! Ek meen, geen mens kon dit ooit as ’n verskoning gebruik het dat hy nie gewéét het nie! Jy was óf een van die gelukkiges wat gewéét het, en derhalwe hemel toe kon gaan, of jy was een van die wat nié geweet het nie, en dus voorlopig verdoem was tot ewige foltering in Satan se hel. Ek sê “voorlopig verdoem”, want daar was altyd die moontlikheid dat jy die nodige kennis kon opdoen voor jy jou laaste asem uitblaas, en as een van dié wat dan wéét kon ook jy die ewige paradys betree – nie omdat jy ’n goeie mens was, of gesterf het terwyl jy ’n ander een van verdrinking gered het nie, maar omdat jy gewéét het!

(Ek belowe ek sal terugkom by die blomme en die diere.)

Om en by tien jaar gelede was ek nie meer seker van wat ek weet nie. Ek het om verstaanbare redes paniekerig geraak. Ek moes van voor af begin om uit te sorteer wat ek weet, want selfs al was ek nie meer seker oor die hemel of die hel nie, het ek nogtans gemeen mens is in ’n groot penarie as jy nie weet oor sekere dinge nie.

Dit het tot gevolg gehad dat ek die afgelope tien jaar nie die konvensionele prioriteite gevolg het van iemand met my sosio-kulturele agtergrond en tersiêre opleiding nie. Ek het besluit dat ek nie onmiddellik aandag kan gee aan sulke aardse dinge soos finansiële welvaart, posisie en status in die gemeenskap, en of ek eendag in die malhuis gaan beland nie. Al wat ek geweet het, was dat ek nie wéét nie.

Ek het baie ander teëgekom wat oënskynlik geweet het, of net voorgegee het hulle weet, of om redes wat ek tot vandag toe nie kan vaspen nie, nie omgegee het of hulle weet nie. Ek, aan die ander kant, was in ’n posisie waar alles wat ek geweet het, geloofwaardigheid verloor het. Ek sou dus noodwendig alle konvensionele prioriteite moes uitstel tot die wonderlike dag van bevryding wanneer ek kon aankondig dat ek, na jare van onsekerheid, uiteindelik weer wéét.

Ek is gou gekonfronteer met ’n harde werklikheid. Banke wat so gaaf was om vir onkundige studente geld te leen, kruidenierswinkels, en die eienaars van huurkamers en woonstelle wou opsluit nie wag vir betaling tot jy geweet het, of verstaan het, wat jy geglo het noodsaaklik was om te weet of te verstaan nie. Almal wou nóú geld gehad het, ongeag of jy geweet het wat jy moes weet, of nie.

Dis hoe ek in Noordoos-Asië beland het. Hier kan ek geld verdien sonder om voor te gee dat ek oor die tipe “kennis” beskik waaroor ek voorheen beskik het. Hier is dit goed genoeg dat mens anders lyk, van ’n ander deel van die planeet af kom, en natuurlik dat jy Engels kan praat. Wat ’n paradys! So karring ek nou al vir jare aan in hierdie geweste, in my oënskynlik eindelose soeke na antwoorde.

Om egter nie te erken dat daar voordele verbonde is aan hierdie onkunde nie, sal van my ’n miserabele leuenaar maak. Die een voordeel is dat ’n mens jou onkunde kan weerspieël in jou voorkoms. Vermaak jouself ’n bietjie deur op ’n sypaadjie in die middedorp of -stad te staan en na verbygangers te staar. Ek glo dat ’n mens die afleiding kan maak dat die welgekledes met skoongeskeerde bene en gesigte in goed geartikuleerde sinne kan verduidelik wat hulle weet. Die ander deel van die skare, dié met wollerige bene en wange en geklee in ou jeans en vuilerige T-hemde, sal heel waarskynlik met lang vervelige monoloë faal om uiteen te sit wat hulle nié weet nie.

Nou, hier’s waar onkunde handig te pas kom: Indien jy jouself in die tweede groep bevind, en mense kyk na jou en meen jy lyk soos ’n hawelose, dan kan jy net jou skouers pateties laat sak en vir hulle sê jy weet hoe jy lyk, maar dit is omdat jy nie wéét nie! In sommige gevalle verstaan hulle jou probleem, en het hulle simpatie. Ander – wat mens net kan aflei nog altyd gewéét het – verstaan nie, en sal derhalwe nooit simpatie hê met ’n mens nie.

Daar is ’n derde groep: Karakters wat die modieuse uniforms dra van mense wat oor antwoorde op die belangrikste vrae beskik en derhalwe wéét, maar wat verskrik na die plafon staar as daar van hulle verwag word om ’n definitiewe stelling dié kant toe of daai kant toe te maak.

Terloops, die faktor van finansiële hulpbronne, wat mense in staat stel om ’n vooraf saamgestelde en vooraf verpakte uniform aan te koop wat aan hulle die voorkoms sal gee dat hulle oor die belangrikste brokkies kennis beskik, kan nooit onderskat word nie. Selfde met gemeenskap. As almal in jou groep dieselfde uniforms dra en dieselfde rympies resiteer, is die waarskynlikheid skraal dat iemand in die omgewing ongemaklike vrae sal vra – behalwe natuurlik as daar een met ’n vuil baard en ’n T-hemp wat skoenpolitoer adverteer, die koffiewinkel binne strompel, en per ongeluk by die verkeerde tafel gaan sit.

* * *

’n Meer liberale houding jeens jou voorkoms, en ander voordele van lewe in die Verre Ooste soos om elke dag Chinese take-aways te kan eet, kan nie oor die hoof gesien word nie. Nietemin, ek sien uit na die dag wat ek genoeg kennis bymekaar gemaak het om weer te kan verklaar, “Ek weet.”

Daar is altyd alternatiewe. Ek kan sê dat ek opgee, of myself probeer oortuig dat ek nie meer omgee nie. Dit sal dit dalk net moontlik maak om my tyd en energie te gebruik om geld en materiële gemak na te jaag, hoewel dit sekerlik ’n transformasie van ongelooflike dimensies sal vereis. Die kans is ook altyd dat ek later in my lewe weer gekonfronteer sal word met die feit dat ek, in werklikheid, steeds nie wéét nie. Dis vir my ’n groot dilemma.

Soos ek reeds vermeld het, die kruidenierswinkel, die bank en die woonsteleienaar gee nie regtig om of ek weet nie. Solank ek aanhou om gereeld geld in hul hande te stop, bly hulle beleefd. Hierdie is egter nie ’n wenslike situasie vir die langtermyn nie. Ek moet óf vinniger by die punt kom waar ek oortuigend genoeg kan verklaar dat ook ék oor die belangrikste kennis beskik (en derhalwe wéét), óf ek moet my hande so gou doenlik op meer geld kan neerlê en dit wettig my eie kan noem. In laasgenoemde geval sal ek meer tyd kan koop om vrae beter te kan formuleer, en om ’n gepaste stel antwoorde daarop te kan vind.

Die ideale resultaat is dat ek, sonder om ’n oog te knip of na die wolke te staar, kan verklaar dat ek inderdaad, na jare van onkunde, weer weet – hoewel dit nie noodwendig dieselfde sal wees as wat andere dink húlle weet nie. Ek sal ook weer my baard kan laat groei, en ek sal nie verplig voel om naastenby modieus aan te trek nie, selfs al kan ek dit bekostig. Hoekom? As mense dán kommentaar lewer oor my voorkoms, en agter hulle hande spekuleer oor my onkunde, kan ek met selfvertroue en hernude trots my skouers reguit trek, stadig omdraai, en hulle inlig: Ek mag dalk soos ’n boemelaar lyk, maar ek wéét.

Nou, wat betref die groen honde …

______________________