Nog notas oor die volwasse lewe

MAANDAG 14 JUNIE 2021

Ek het in 2015 ’n stuk geskryf oor die trifecta van die volwasse lewe: getroud, twee kinders, finansiële onafhanklikheid. Ek wil twee dinge byvoeg:

1. Nalatenskap – dit maak saak wat jy nalaat. Die filmmagnaat, Harvey Weinstein, was getroud, het ten minste twee kinders gehad, en was skatryk. Maar hy was ’n skobbejak wat vrouens gedwing het – of voor uiters moeilike keuses gestel het – om seksueel met hom te verkeer. Dit – nie sy huwelik of sy kinders of sy geld of dosyne films nie, is sy nalatenskap.

2. Nie ’n vereiste nie, maar kan opmaak vir die afwesigheid van ander item: Het jy ’n interessante lewe gelei? Het jy interessante plekke besoek, en mense ontmoet van verskillende kulture en agtergronde? Het jy kanse gewaag, al het jy misluk?

VRYDAG 18 JUNIE 2021

Een man het getrou in sy laat twintigs, drie kinders gehad, ’n gelukkige huwelik, sy eie onderneming bedryf, en finansiële sukses geniet – jaarlikse vakansies, insluitende oorsee, met die hele gesin, en later met kleinkinders. Op 68 is hy gediagnoseer met pankreaskanker, en is na twee jaar se onsuksesvolle behandeling oorlede.

’n Ander man trou in sy laat dertigs. Hulle huwelik is ook gelukkig, maar produseer geen kinders nie. Hy belê tyd en geld in verskeie ondernemings, maar finansiële onafhanklikheid ontglip hom. Ten spyte daarvan dat daar nooit geld is vir uitspattighede nie, leef hy en sy vrou gemaklik. Op 68 is hy nog relatief gesond, behalwe vir ’n bietjie rumatiek in sy knieë, en in sy een hand.

Nou, die miljoen-rand vraag: Wie’s die wenner?

Of, moet albei dankbaar wees vir hulle seëninge?

WOENSDAG 23 JUNIE 2021

Om te werk aan my eie projekte is ’n uitdrukking van my geloof in ’n beter toekoms. As ek ophou glo my eie projekte kan aan my ’n beter toekoms gee … sal ek iets anders moet vind om my geloof in te stel. Dit is wat my sedert 2006 … sedert 2003 … sedert 1997/8 … gedryf het om finansieel onafhanklik te word. Ek het meer tyd en energie hieraan bestee as aan enigiets anders in my volwasse lewe.

Dalk hoekom ek nooit ’n posisie kon vat waar ek myself sou sien as bloot ’n rat in die masjien nie. Wat sou my vorentoe dryf? Dat ek huur kon betaal aan die einde van die maand en kruideniersware kon koop? Dis net oorlewing! Om te werk aan iets wat aan my finansiële onafhanklikheid kan gee – finansiële onafhanklikheid! – is om geloof te hê. Dit is om voortgestu te word met ’n visie vir die toekoms.

Is ek eerder ’n arm gelowige – of dan ’n gelowige wat huur kan betaal en kruideniersware kan koop, en ’n bietjie spaargeld het in die bank – as ’n gemaklike rat in die masjien wat nie glo my lewe gaan ooit veel beter word nie?

Geloof in iets wat ek nie kan sien nie, is ingeweef in my psige. Om te werk aan iets wat my lewe kan verbeter, is ’n ritueel wat my geloof bevestig.

Plus, dit verhoog die waarskynlikheid van sukses.

[Moet bylas dat daar sekerlik mense is wat “bloot ’n rat is in die masjien”, en as húlle dit nie doen nie, sal iemand anders dit doen, maar ná werk en oor naweke ook werk aan hulle eie projekte, wat hulle ook hoop aan hulle ’n beter toekoms sal gee. Ek dink soms swart-en-wit.]

MAANDAG 28 JUNIE 2021

Ek glo aan iets.

Wanneer ek werk aan dit waaraan ek glo, bewys ek dat my geloof eg is.

Wanneer ek daaraan werk, is ek aktief besig om werklik te maak dit waaraan ek glo.

______________________