Woensdag 31 Desember 2025

As hierdie stuk te lank was, sou mense geglo het dis geskryf deur ’n masjien.

Hier volg dus ’n kort fotoverhaal van my bestaan in 2025 …

2025 het, soos omtrent elke jaar die afgelope dekade, begin by Kaohsiung se Love River.

Die eerste dag is gespandeer by die oorblyfsels van ’n ou dorpie in die middel van die industriële area van Kaohsiung.

Februarie het ons Suid-Afrika toe gegaan, vir die eerste keer sedert voor die ding wat gebeur het in 2020. Op pad het ons ’n paar ure in Hong Kong gespandeer.

Maart het ons ’n rigting ingevaar een Sondagmiddag en toe ge-Google, “Coffee shop near me.”

In April het ek ’n vissersdorpie ontdek omtrent dertig minute se ry van ons woonstel af.

In Meimaand het ek ’n verskyning gemaak in een van Kaohsiung se top universiteite om met studente te praat oor die res van die wêreld – waarop ek natuurlik ’n kenner is want ek kom van die res van die wêreld af.

Ook in Mei was dit weer tyd om Tainan te besoek – die oudste stad in Taiwan.

In Junie het ons Italiaanse kos geniet op die kampus waar ek in Mei ’n kort verskyning gemaak het, om te vier dat ek alweer ’n jaar ouer geword het. Ook op die kampus ontdek: een van Chiang Kai-shek se vele motorkarre.

Op pad terug huis toe is ons gevang in ’n lelike reënbui en ons was gelaat met geen keuse anders as om te stop vir versnaperings nie.

Taitung/Taidong was ons keuse vir ’n middel-van-die-jaar wegbreek.

In Augustus het ons IKEA besoek.

In September het ek myself gefotografeer in ’n leë klaskamer …

… en ons het redelik vervelige kuns besigtig in Kaohsiung se redelik vervelige kunsmuseum (dalk moes ek ’n reeks van my klaskamer-selfies in ’n leë vertrek vasgeplak het teen die muur).

In Oktober het ek ten minste een ou gebou afgeneem …

… en ’n ou National Geographic ontdek.

November het ek weer my ouers, my susters, en ’n paar vriende besoek in Suid-Afrika, en ’n paar dosyn foto’s van kos geneem.

En in Desember het ons nog ou geboue en ’n verlate fabriek ontdek.

… en ’n fotoverhaal van 2025 bymekaar gesit.

______________________

Almal kry hulle beurt

SONDAG 19 OKTOBER 2025

Hier’s ’n gedagte vir middeljarige mense, en vir jong mense wat uiteindelik middeljarige mense mag word.

Vir my was dit ’n skok om 50 te word. Ek was beslis nie voorbereid daarop nie. Dit was ook in die middel van die sogenaamde pandemie van 2020-2022, so almal was in elk geval ’n bietjie op hulle senuwees.

Teen 54 het ek tyd gehad om gewoond te raak aan die idee, en ek kan ook sien hoe ek ouer raak by die dag – en beslis ouer lyk as toe ek 48 was.

Punt is, almal kry hulle beurt. Een dag is jy ’n kind, en ’n paar jaar later is dit jou beurt om ’n tiener te wees. En nog ’n paar kort jare later is dit jou beurt om 21 of 22 te wees. Dan 25 … en jy besef tyd staan nie stil nie. Dan’s dit jou beurt om in jou dertigs te wees. En net soos jy gemaklik raak met wat dit beteken om daai ouderdom te wees – hoe jy nie meer ’n tiener is nie maar nog dekades het om te werk aan ’n gemaklike aftrede, tref jy 40. Weer ’n nuwe rol, en ’n ietwat ander identiteit as toe jy 35 was.

En tensy die trein jou by ’n vroeër stasie aflaai, is jy skielik 50.

Feit is, iemand moet 50 wees terwyl ander mense 40 is en ander mense 30 en ander mense 20 en ander mense tieners en kinders en kleuters. En na ’n paar jaar skuif almal ’n paar stoele aan, en nuwe mense vul die ou posisies.

En jy aanvaar dit met waardigheid en ’n goeie sin vir humor. En hopelik ’n bietjie wysheid om te deel.

Net die dood kan dit verander: Almal kry hulle beurt.

______________________

Dinge wat ’n mens oud maak

SATERDAG 27 SEPTEMBER 2025

Hierdie hele week deurgeloop onder koors, verstopte neus, hoes … maar die ergste was die nagte: warm, bedompig, en omdat enige briesie my neus nog verder sou laat toetrek, geen waaier of lugverkoeling nie.

’n Mens se immuunstelsel beskerm jou van kieme en virusse wat konstant op jou case is, wat jou agtervolg 24 ure per dag sewe dae per week, wagtend op die kleinste kans om jou verdediging binne te dring en jou siek te maak. Laat sak jou wapens vir ’n oomblik – soos om met ’n nat kop voor ’n waaier te sit, en jou fort word oorrompel.

Selfde met jou geestelike immuunstelsel. Solank jy relatief gesond is, en alles werk soos dit moet, kan jy ook meeste van die geestelike kieme en virusse afweer wat jou geluk wil ondermyn. Maar die oomblik as daar ’n algemene verswakking bespeur word …

Daar’s soveel dinge wat aangaan in die wêreld waarvan ’n mens moet probeer sin maak. Soveel geweld, en misdaad, en korrupsie, en politieke leiers wat mense na hulle dood toe stuur en hulleself dan op die skouer klop vir ’n taak goed verrig. En daar’s persoonlike herinneringe van tien jaar gelede, en twintig jaar gelede … herinneringe van jou kinderdae. Herinneringe van toe jy koors gehad het in ’n ander stad in ’n ander land. En dan kom ander herinneringe van daai tye ook uit wat jy sorgvuldig weggepak hou meeste van die tyd. En al hierdie geestelike kieme en virusse vloei by jou hekke in terwyl jy in die klein ure van die nag worstel om ’n paar ure se slaap in te kry voor die son op kom.

Dit maak jou oud. Dit verander jou.

______________________

Vele mense weet nie wat hulle doen met hulle lewens nie

DONDERDAG 4 SEPTEMBER 2025

Ek is 54 jaar oud. Ek is geseënd en bedonderd (kan nie sê vervloek nie) met die neiging om te besin oor my bestaan: Wat doen ek met my lewe? Hoe maak hierdie aktiwiteit deel uit van die groot geheel? Wat behoort ek te doen?

Ek het dit gedoen toe ek 24 was. Ek doen dit steeds.

So, wat doen ek?

Ek maak geld – om te oorleef en ’n relatief goeie lewenstandaard te handhaaf – niks fancy nie, maar ordentlik genoeg. Ek dink ook konstant aan maniere om my inkomste uit te brei, en dit deel te maak van ’n daaglikse roetine. Ek wil nie op die spreekwoordelike straat staan en hustle nie. Ek wil goed-geoliede, inkomste-genererende masjiene bedryf. Ek gee nie om om self agter die knoppies en skakelaars en hefbome te sit nie, maar my hoop is dat sommige van die masjiene uiteindelik outomaties sal funksioneer. Heelwat van my ure elke week, indien nie elke dag nie, word tans gespandeer nie aan die instandhouding van sulke masjiene nie, maar aan dink oor hoe ek sulke masjiene kan opbou – en natuurlik aan die actual opbou van die apparaat.

Ek het nodig om ’n honderd-miljoen dalers of so bymekaar te skraap sodat ons kan begin dink aan aftree oor so tien jaar. Wat sal aftrede beteken in 2036? Wie weet. Maar ek hoop dat ons in ’n veilige gemeenskap woonagtig sal wees; dat ons genoeg sal hê om te eet; dat ons ’n eenvoudige maar goeie leefstyl sal kan handhaaf; dat ons mediese sorg sal kan kry sonder om paniekerig te raak oor die koste; dat ons so nou en dan plaaslik kan reis, en so elke dan en wan ’n week of twee kan spandeer in ’n ander land. As ’n mens al hierdie dinge kan doen sonder ’n klein fortuin in 2036, fantasties. Indien nie, gaan ek en my lewensmaat heelwat meer geld moet spaar oor die volgende dekade as wat ons tans doen.

Dan, dinge wat verder strek as geld. Ek hoop om my huidige positiewe uitkyk en redelike goeie gesondheid te behou so lank as moontlik. Ek hoop om my lewensmaat by te staan in háár strewe om gelukkig en gesond te bly. En dan hoop ek om op my beskeie manier ’n bietjie kennis en insig te deel met wie ook al my pad kruis – en natuurlik ’n bietjie kennis en insig op te tel by hierdie individue. Ek hoop ook om ’n fasiliteerder te wees, op watse klein skaal ook al, van die prosesse waardeur ander mense die vermoë ontwikkel, of verfyn, om te oorleef en produktiewe en gelukkige lewens te lei.

Dit is waaroor my lewe gaan op Donderdag 4 September 2025. Tot ’n groot mate is dit die breë trekke van my hele volwasse bestaan – hoewel ek uit die aard van die saak dertig jaar gelede meer gedink het aan genoeg geld om “vry” te wees as om gemaklik af te tree.

Terug na die goed-geoliede, inkomste-genererende masjiene. Dit voel asof ek honderde stukke het op die vloer rondom my lessenaar, en op die rakke langs die lessenaar, en uitgepak in klein hopies bo-op my lessenaar. En ek het dosyne notas soos hierdie een wat probeer orde skep van die honderde onderdele, in allerlei “privaat” en “amptelike” Word dokumente. Ek het ook lyste.

Anyways, ek wou maar net sê vele mense weet nie wat hulle doen met hulle lewens nie. Sommige van die mense is 24. Sommige is 54. En ek is seker daarvan sommige van hulle is 64.

______________________

Dalk reg, maar nie eerlik nie

DINSDAG 10 JUNIE 2025

Ek skryf nie meer juis oor mense se godsdienstige oortuigings nie, maar ek het onlangs ’n gedagte gehad oor eerlikheid.

’n Paar weke gelede hoor ek ’n storie oor ’n man wat sy werk bedank het. Tydens ’n godsdienstige samekoms sê hy toe aan almal teenwoordig dat hy voortaan op God sal vertrou vir sy brood en botter. Iemand in die gemeente staan toe kort daarna op en verklaar dat hy ’n plaas het, en dat hy die beheer daarvan sal oorlaat aan die man wat nou sonder werk is.

“Prys die Here!” roep dosyne mense uit. God het voorsien.

’n Alternatiewe verklaring is dat dit in almal teenwoordig se belang is dat “God sal voorsien.” Die man wat die plaas besit het, het gedink: Ek het iemand nodig om die plaas te bestuur. Staan ek nou op en maak dit bekend, sal God tog voorsien het in die man se behoeftes.

Wat hy dalk nie sou gedink het nie, maar wat waar sou wees: Sy aansien in die geloofsgemeenskap sou ook styg, want hy sou gesien word as ’n “instrument in God se hande”.

Dis waar eerlikheid inkom.

Gestel ’n persoon wat identifiseer as Christen sê: “Ek sien wat jy bedoel. Dalk is dit net ’n geval van ’n groep mense wat wil hê dat sekere dinge waar moet wees, en dit is in hulle belang om dinge te doen wat die indruk sal skep dat dit waar is. Ek kan sien hoe dit so verstaan kan word. Nietemin, ek kies steeds om te glo dat God werklik voorsien het, en dat Hy deur die man met die plaas gewerk het.”

As so ’n persoon hierdie stelling maak, is die argument verby. Ek sal niks verder hê om by te voeg nie. Ek sal die man se hand skud, hom bedank vir sy eerlikheid, en hom ’n goeie lewe toewens.

Gestel nou so ’n persoon wat identifiseer as ’n Christen neem ’n ander posisie in, en hou vol dat dit God was wat voorsien het, en dat hy weier om enige ander moontlikheid in te sien.

Vir hierdie persoon sal ek sê: “Jy is dalk reg, maar jy is nie eerlik nie.”

______________________