Taiwan en onafhanklikheid: Redelike argumente

DINSDAG 28 MEI 2024

Hier’s ’n toets vir ’n leier van ’n onafhanklike Taiwan: Erken jy dat jou klein nasie deur ’n supermoondheid aan die ander kant van die aardbol uitgebuit kan word om hul mededinger, wat jou naaste buurman is, te ondermyn? Besef jy dat die aanvaarding van militêre bystand van hierdie supermoondheid gesien sal word deur jou naaste buurman as pogings om hulle natuurlike groei as ’n streeks- en wêreldmoondheid te ondermyn? As jy nie daarin slaag om dit te erken en hierdie werklikheid te begryp nie, het jy geen saak om die leier van ’n land te wees nie, nog minder ’n de facto maar nie de jure onafhanklike een nie.

WOENSDAG 16 OKTOBER 2024

’n Redelike argument kan gemaak word dat Taiwan onafhanklik moet wees. Die land en haar mense het bewys in die laaste sewe dekades dat hulle nie enige nie-Taiwannese politieke meesters nodig het om hulle sake te kan behartig nie.

Nog ’n insig wat ek onlangs gekry het uit die boek, A New Illustrated History of Taiwan, deur Chou Wan-yao, is dat Taiwan nie net deur die Japannese gekoloniseer is tussen 1895 en 1945 nie, maar tussen 1945 en ten minste die 1990’s tot ’n groot mate ook deur die Nasionalistiese regering van die Republiek van China – wat hulle ook gedwing het om ’n taal te praat waarmee hulle nie bekend was nie (Mandaryn, oftewel die Beijing dialek van Chinees), en wat hulle ook geforseer het om te fokus op die geskiedenis van ’n moederland wat nie Taiwan was nie (naamlik Vasteland China), met feitlik geen aandag wat gegee is aan die unieke historiese ervarings van die mense van Taiwan nie. Dit kan verder geargumenteer word dat vele Taiwannese sekerlik angstig is daaroor om vir die derde keer in meer as ’n eeu gekoloniseer te word – dié keer deur die regering van die Volksrepubliek van China.

Ek reken twee punte moet hier beklemtoon word:

1. Taiwan waag die welsyn en voortbestaan van miljoene mense op die eiland van Taiwan as hulle ’n noue bondgenootskap bewerkstellig met die Verenigde State van Amerika. Twee stellings van die Amerikaanse staatsman, Henry Kissinger, is relevant: “America has no permanent friends or enemies, only interests” en “[It] may be dangerous to be America’s enemy, but to be America’s friend is fatal” (laaste een was meer ’n waarskuwing dat indien sekere dinge gebeur in Suid-Viëtnam in die laat 1960’s, Amerika as sulks gesien sal word). Feit is, Amerika het ’n historiese rekord van ander lande uitbuit vir hul eie nasionale behoeftes en politieke agendas, en wanneer dit duidelik raak dat dinge nie gaan uitwerk soos hulle gedink het nie, dan onttrek hulle. En die land wat hulle vertrou het, sit met die gebakte pere. Taiwan het ongelukkig meer as ’n paar politici en gewone burgers wat naïef glo dat Amerika die beste vriend in die wêreld is; dat Amerika Taiwan sal bystaan indien China ooit die eiland aanval, en dat Amerika nooit Taiwan in die steek sal laat nie.

2. Die regering in Beijing het ’n beter argument as die regering in Taipei oor wie volgens internasionale konvensie beheer behoort uit te oefen oor die areas wat regeer word deur die Taiwannese regering – wat hulleself steeds amptelik voordoen as die regering van die Republiek van China. Kortliks: Die Qing-regering het Taiwan en ander eilande afgestaan aan Japan in 1895. Na die Tweede Wêreldoorlog het Japan alle vorige verdrae wat deur Imperiale Japan onderteken is met betrekking tot China, nietig verklaar, insluitende die 1895-verdrag van Sjimonoseki, en daarmee hul aanspraak op Taiwan opgegee. Die Volksrepubliek van China is die opvolgerstaat van die Chinese republiek wat bestaan het tot en met 1949 onder leiding van die Chinese Nasionalistiese Party, sowel as van die Qing-staat wat geval het in 1912, en het beheer geërf van alle gebiede wat voorheen onder die beheer van daardie state of regerings was. Die regering in Taipei was tot en met die 1970’s deur dosyne lande, insluitende die VSA, beskou as die wettige regering van die hele China, insluitende Taiwan. Die Taipei-gebaseerde Republiek van China word egter sedert die laat 1970’s nie meer deur meeste lande erken as die wettige verteenwoordiger van die mense van China nie. Wat ons terugbring by ’n vorige punt: Die Volksrepubliek van China is die opvolgerstaat van die Qing-staat, sowel as van die Chinese republiek wat deur die KMT-regering gelei is in Vasteland China tot en met 1949, en het wettig beheer geërf van alle gebiede wat voorheen onder die beheer van daardie state of regerings was, insluitende die eiland van Taiwan en omliggende eilande. Indien die regering in Taipei en die 23 miljoen burgers van die eilande van Taiwan ’n kans wil staan om amptelik onafhanklike status te verkry, moet hierdie ambisie met Beijing uitgewerk word.

VRYDAG 18 OKTOBER 2024

Die tyd is ryp om te praat oor Taiwannese onafhanklikheid.

Die regte manier vir Taiwan om daaroor te praat, is met China.

Die verkeerde manier om daaroor te praat, is vir die president van die Republiek van China (Taiwan) om uitlatings te maak dat Taiwan en China aparte entiteite is – ten spyte van wat die konstitusie dikteer wat aan die Taiwan president sy posisie gee, en dat China nie enige reg het om in Taiwan se sake in te meng nie. Om die status quo dan nog verder te skommel in reeds onstuimige waters, beweeg Taiwan nóg nader aan die wêreld se mees aggressiewe supermoondheid, die VSA, wat China beskou as haar grootse geopolitieke teenstander.

De jure Taiwannese onafhanklikheid, na sewe dekades van de facto onafhanklikheid, is inderdaad ’n hoogs relevante onderwerp wat verdien om bespreek te word op die hoogste staatkundige vlakke. Maar hierdie saak moet onderhandel word met China, in ag genome redelike argumente dat Taiwan deel is van Een China. Uitdagende uitlatings van die Taiwannese kant af met skimpe van oorlog met Amerika as veronderstelde bondgenoot, is die verkeerde manier om die onderwerp aan te roer.

SATERDAG 19 OKTOBER 2024

Natuurlik sê mense China sal nooit instem tot Taiwannese onafhanklikheid nie.

Wat is die alternatief? Amerika maak ’n militêre basis oop op een van die eilande wat Taiwan beheer naby aan die Chinese kus, met die idee dat hulle beter beskerming sal kan verleen aan Taiwan vir wanneer die Taiwannese president eensydig onafhanklikheid aankondig? Of, die president ontmoet met amptenare van die Amerikaanse regering, wat hom, hand op die bors, verseker van al die geld en wapens en sanksies wat Amerika kan optower om Taiwan te help indien die eiland-staat amptelik onafhanklikheid verklaar? Dat die militêre konflik wat sal volg daarop aanvanklik die Amerikaanse regering se langtermyn doelwitte sal dien om China ekonomies, diplomaties, en militêr te verswak as ’n geopolitieke opponent ten koste van honderde-duisende Taiwannese se lewens, sal seker spoedig geëtiketteer word as disinformasie – as sogenaamde “gesprekspunte” van Beijing.

In die werklike wêreld is daar slegs twee opsies vir Taiwan in die volgende dekade of drie: 1) As ’n provinsie van China met sekere voorregte, soos ’n eie geldeenheid en selfs ’n eie vlag, en 2) As ’n onafhanklike maar noue bondgenoot van China.

WOENSDAG 30 OKTOBER 2024

Om op te som:

1. Aktiviste vir Taiwannese onafhanklik maak ’n redelike argument hoekom Taiwan verdien om erken te word as ’n onafhanklike staat.

2. Taiwan se onafhanklikheid sal onderhandel moet word met die regering van die Volksrepubliek van China, en niemand anders nie. Hoekom? Onafgehandelde sake van die Tweede Wêreldoorlog en die gevolge daarvan, en van die Chinese Burgeroorlog.

3. Argumente kan gemaak word hoekom die regering van die Volksrepubliek van China Taiwannese de facto onafhanklikheid behoort te erken, en staat-tot-staat diplomatieke verhoudings aan te knoop met Taiwan.

4. Die regering van die Volksrepubliek van China sal heel waarskynlik nié instem tot Taiwannese onafhanklikheid nie, vir rasionele redes wat sin sal maak vir enige iemand wat die agtergrond verstaan, asook die mandaat wat die regering in Beijing glo hulle het om te regeer oor alle grondgebied wat deel uitgemaak het van China voor die volksrepubliek uitgeroep is in Oktober 1949.

5. Die regering in Taipei sal uiteindelik ’n skikking bereik met die regering in Beijing dat Taiwan na vyf of tien jaar ’n outonome, of kwasi-selfregerende provinsie sal wees van die Volksrepubliek van China. Daar sal weerstand wees van Taiwannese nasionaliste, maar uiteindelik sal die meerderheid van die bevolking van Taiwan die nuwe politieke status aanvaar.

6. Daar sal vrede wees.

______________________

’n Betekenisvolle brokkie kennis

DINSDAG 8 OKTOBER 2024

Ek het in 1994 freneties begin notas maak. Dit was asof ek ’n roeping aangevoel het om te rapporteer oor my lewe. Die afgelope dertig jaar het ek aan en af gerapporteer; soms elke dag en soms net ’n paar verlore paragrawe in een kalenderjaar.

Die punt is steeds om te sê: Hier is ek. Dis hoe ek die lewe ervaar.

* * *

Dertig jaar gelede wou ek geld maak want ek wou doen wat ék wou doen. Ek wou nie gehad het mense moes bevele blaf en verwag ek moes spring nie. Ek wou geld gehad het om te kon reis en te kon studeer (seriously, ek was 23 jaar oud en ek wóú studeer).

Twintig jaar gelede was ek ernstig daaroor om my inkomste te verbeter want ek wou ’n beter lewe bewerkstellig vir myself, en die vir die jong vrou met wie ek later sou trou. Ek wou meer reis, en ek wou meer gereeld my familie in Suid-Afrika besoek.

Vandag wil ek my inkomste verbeter want ek wil my finansiële sekuriteit versterk, veral met die oog daarop dat ek binne dalk twee dekades nie meer lus gaan wees om te werk nie, of dalk nie meer alles kán doen wat ek wil doen nie.

Verskillende begeertes, maar dieselfde pad wat lei tot die vervulling daarvan. Een verskil is dat ek weet hoe twintig en dertig jaar onder my voetsole voel, en ek weet hoe dit deur my vingers glip. En ek weet twintig of dertig jaar van nou af – as ek so lank hou – is ek amptelik oud. Nie noodwendig afgeleef nie, maar definitief bejaard. Hierdie betekenisvolle brokkie kennis was nie deel van my bestaanservaring twintig of dertig jaar gelede nie.

______________________

Moontlikhede van die aard van ons realiteit (en wie’s in beheer)

VRYDAG 23 AUGUSTUS 2024

Een: Die wêreld het natuurlik ontstaan deur ontploffings en kosmiese uitbreiding en evolusie. Politieke leiers is mense wat deur ’n kombinasie van persoonlikheid, toeval, en sosiale druk posisies van mag bekom het. Meeste van hulle is korrup, hoewel sommige sekerlik hulle bes probeer om hulle gemeenskappe te dien en op te hef. Dan sterf hulle of hulle word uitgestem of ontslaan, en iemand anders neem hulle plek. ’n Ander weergawe hiervan is dat die toutjies in Amerika getrek word deur ’n sameswering van Groot Olie, Intelligensie, en Wall Street (sien Mike Benz op X). ’n Mens kan sekerlik veronderstel dat elke land sy eie weergawe het van sulke groot en magtige belange wat agter die skerms besluite neem.

Twee: Die wêreld het natuurlik ontstaan deur ontploffings en kosmiese uitbreiding en evolusie. Politieke leiers is marionette van die Vatikaan, wat agter die skerms al die belangrike toutjies trek. Hoekom? Die Rooms Katolieke Kerk het Europa regeer vir amper ’n duisend jaar lank. Die algemene veronderstelling is dat hulle stadig maar seker mag en invloed verloor het oor die volgende vyf eeue. Hierdie veronderstelling is óf verkeerd, óf hulle het geslaag daarin om weer ondersteuners in posisies van mag te plaas.

Drie: Die wêreld het natuurlik ontstaan deur ontploffings en kosmiese uitbreiding en evolusie. Politieke leiers is marionette van ’n Joodse komplot om die wêreld te regeer tot hulle voordeel. Hoekom? Joodse komplot-leiers glo in die superioriteit van Jode, en glo dat dit God se wil is dat Jode die wêreld moet regeer.

Vier: Die wêreld het natuurlik ontstaan deur ontploffings en kosmiese uitbreiding en evolusie. Op ’n stadium is effektiewe beheer van die wêreld oorgeneem deur reptiel-wesens van die buitenste ruim wat demone aanbid. Politieke leiers is Satanistiese pedofiele wat marionette is van hierdie reptiel-wesens wat deur manipulasie die wêreld regeer tot hulle eie voordeel.

Vyf: Ons en die wêreld waarvan ons sintuiglik bewus is, is deel van ’n rekenaarsimulasie – wat ons ervaar as realiteit, is inderwaarheid ’n super-realistiese, gevorderde rekenaarsimulasie. Wat is die argument hiervoor? Op een of ander stadium sal die mensdom die tegnologiese vaardighede en hulpbronne ontwikkel om ’n kragtige rekenaarsimulasie te skep van hulle voorouers. Kans is goed dat hulle vele sulke simulasies sal skep. Kans is dat die gesimuleerde inwoners van hierdie wêrelde bewus sal wees van hulleself. Wat is dan die kans dat die persoon wat bewus is van homself deel is van die generasie wat die oorspronklike skeppers is van sulke simulasies, en nie een van moontlik duisende simulasies nie?

______________________

Hoe gaan aftrede lyk oor tien of vyftien jaar?

MAANDAG 17 JUNIE 2024

Die stille waarheid: Ek het gesê wat ek wou sê. Nou doen ek wat ek moet doen om te verseker dat ek ’n relatief gemaklike aftrede kan geniet oor ’n paar jaar.

DINSDAG 18 JUNIE 2024

Nou dat ons op die onderwerp is: Hoe gaan aftrede lyk oor tien of vyftien jaar?

Gaan ’n gemaklike maar nie luukse laer-middelklas lewe méér kos as nou of minder, relatief gesproke?

Gaan behoorlike gesondheidsorg duurder of goedkoper wees?

Hoe bekostigbaar gaan huishoudelike robots wees? Sekerlik sal dit goedkoper én meer bruikbaar word, soos die geval was met persoonlike rekenaars die afgelope dertig jaar.

Wat van voedselproduksie? Dit is reeds moontlik vir woonstelbewoners in die middestad om ’n wye verskeidenheid groente in hulle sitkamers te groei, of in ’n spaarkamer. Hoe noodsaaklik gaan onafhanklike voedselproduksie wees vir oorlewing in die stad in 2030, of 2035, of 2026?

Hoe duur sal dit wees om te reis? Selfbesturende taxi na die treinstasie waar jy met ’n hoëspoedtrein sal reis na jou bestemming – duurder as nou of meer bekostigbaar? Sal ’n persoon in sy of haar sestigs of sewentigs enigsins wíl reis na ander plekke met die gepaardgaande risiko as hulle by die huis kan bly en enige dorp, stad, berg of strand in die wêreld kan ervaar met virtuele tegnologie?

Met vrugte en groente skoon van chemikalieë, genoeg oefening, lae misdaad in hoë-sekuriteit gemeenskappe, goedkoop gesondheidsorg, sal jou gemiddelde Generasie X’er dalk langer leef oor die volgende paar dekades. Groot vraag: Hoeveel geld gaan jy nodig hê om hierdie aftrede te kan bekostig?

Nog iets: Hoe sal geld werk tien jaar van nou af? Papiergeld en muntstukke sal waarskynlik uitgefaseer word. Hoeveel gaan jou Bitcoin en ander kripto-geldeenhede werd wees in 2035? Gaan dit vervang word met digitale geldeenhede wat deur ’n Ministerie van Finansies of Sentrale Bank behartig gaan word. Hoeveel erg gaan hierdie instansies hê in politieke opinie – veral opinies krities van die regering wat betref buitelandse beleid, misdaadbekamping, immigrasie, en entstowwe?

Sekerlik verdien dit ’n langer bespreking, maar kan demokrasie werk in realiteit, of is demokrasie soos die ou gesegde sê, “Twee wolwe en ’n skaap wat besluit wat hulle vir aandete gaan hê”?

Gepraat van wolwe en ’n skaap, hoe gaan lewe op die self-regerende eiland van Taiwan lyk oor ’n dekade of so? Gaan Amerika ’n ander skaap vind om te offer vir sy bloedlus en gierigheid? Die Filippyne dalk? Suid-Korea? Japan? Hoe ver sal China gaan om dit duidelik te maak aan Imperiale Amerika dat indien Taiwan ’n vasaalstaat gaan wees, dit beslis nie een gaan wees van ’n brokkelende ryk in die weste nie?

Hoe fisiek gaan aftrede in jou sestigs of sewentigs oor ’n dekade wees? Gaan jou liggaam kunsmatig aan die lewe gehou word met buise en masjiene terwyl jou verstand op vakansie is, of die wêreld vol reis? Natuurlik sal die buise net aanhou om voedingswaarde in jou are te pomp terwyl jou krediet hou. Die oomblik as jou krediet nul bereik, vervaag jou uitsig van die strand, of van die Eiffeltoring, tot jy een laaste “bliep” hoor.

Wat van ’n mediese instansie wat jou bystaan om jou eie lewe te beëindig wanneer jy ’n sekere ouderdom bereik? Of wanneer jy een of ander siekte ontwikkel wat genees kan word, maar dit sal tyd en geld vereis. Of wanneer jou geld min raak. Hoe populêr gaan dit wees vir mense wat nie ’n gemaklike aftrede kan bekostig nie, of vir wie iets verkeerd gegaan het ’n paar jaar voor hulle sou aftree? Hoe normaal gaan dit wees tien jaar van nou af vir dokters en ander professionele mense wat werk met ouer mense om dit voor te stel as ’n “waardige” oplossing? (Sal mediese personeel ’n kommissie verdien vir hulle aanbevelings?)

Gaan dit ’n geval wees van mense wat geld het wat gaan leef tot die rype ouderdom van 120 of selfs langer, met vars gedrukte of ontwikkelde organe, nuwe tande, en allerhande ander mediese wonders in die plek van hulle ou onderdele, en mense wat teen 45 of 50 nie daarin geslaag het om finansiële sukses te bewerkstellig nie, of wat nie genoeg geërf het van die vorige generasie nie, wat aangemoedig sal word om staatsgesubsidieerde genadedood te ontvang?

______________________

Vier stories uit die sewentigs en ’n paar ander dekades

DINSDAG 28 MEI 2024

Die BBC se Kultuur-seksie het ’n artikel met ’n onderhoud wat ’n program van die maatskappy gevoer het in 1976 met onder andere die hoofsanger van die Sex Pistols, Johnny Rotten.

Rotten, wat sy bynaam gekry het oor sy vrot tande, het ordentlike mense in die tweede helfte van die sewentigerjare gevul met afsku, en vrees vir die toekoms.

Tog, wat het Rotten gedoen die oomblik toe hy genoeg kontant in sy sak gehad het? Het hy dit gespandeer op partytjies en vriende wat hom misbruik het vir geld en dwelms? Het hy vir ’n paar maande ’n hotelkamer gehuur en al sy geld op drank en vroue spandeer? Nee, hy’t vir hom ’n goeie woonstel gekoop in ’n goeie woonbuurt, waar hy homself vir ’n paar jare gevestig het met sy vrou. Hulle was gelukkig getroud vir meer as vier dekades, tot sy gesterf het na jare van lyding aan Alzheimer se siekte. Vir die laaste vyf jaar van haar lewe was Johnny Rotten haar voltydse versorger. Baie vrot van ou Johnny.

VRYDAG 31 MEI 2024

Europa, in die 1860’s. ’n Prinses bekend vir haar skoonheid is verloof aan die kroonprins van ’n naburige staat. Almal dink hulle is ’n mooi paartjie. Dan sterf die prins. Sy verloofde gaan terug na haar geboorteland. Sy’s ontroosbaar. Haar verloofde familie laat weet hulle het regtig van haar gehou, en wat is die kans dat sy dalk met haar oorlede verloofde se broer (wat mal verlief is op een van sy ma se diensmeisies) kan trou. Sy antwoord dat sy baie hartseer is en dat niks dit kan verander nie. Nietemin besoek die broer haar. Hulle huil saam. Dan raak hulle verloof. Almal dink hulle is ’n mooi paartjie. Sy gee geboorte aan vier seuns en ’n paar dogters. Sy en haar man betree die troon nadat terroriste haar skoonpa se been afblaas. Na ’n dekade word haar oudste seun koning. Sy is oortuig dat haar aangenome land hervorming nodig het om rewolusie af te weer. Min hervorming word egter deurgevoer. Twintig jaar later word haar oudste seun, die koning, haar skoondogter, en ses van haar kleinkinders vermoor in die kelderverdieping van ’n huis waarin hulle aangehou is deur rewolusionêre wat die regering omvergewerp het. Sy en haar dogters vlug suid. Haar suster, wat getroud was met ’n koning van ’n ander land, oortuig haar eie seun, nou koning van haar aangenome land, om ’n skip te stuur. Die groep van sewentien adellikes wat so gered word, sluit in haar een dogter wat aan boord gaan met vyf van haar seuns, ses honde, en ’n kanarie.

* * *

Ooskus van Amerika, Februarie 1978. ’n Katastrofiese sneeustorm tref mense op pad huis toe. Dit sneeu aaneen vir meer as dertig ure. Skole en universiteite en besighede sluit. Treine gaan staan. Duisende karre is vasgevang op die snelweg en ander paaie. Veertien mense sterf omdat hulle karre so toegesneeu is dat die uitlaatgasse nie kan ontsnap nie. Talle mense is vir dae lank sonder hitte, water, kos, en elektrisiteit. Opgehoopte sneeu word in die hawe gegooi om plek te maak vir nuwe sneeu. Talle huise stort ineen of word weggespoel die oseaan in. Een kind verdwyn gedurende die storm enkele meters van sy huis se voordeur af. Sy liggaam word eers drie weke later gevind.

* * *

Engeland en Ierland, 1970’s. ’n Vrou gebore in ’n ryk familie verkoop al haar aandele in die familie-besigheid, verkoop haar huis, en deel die kontant uit aan arm mense. Sy woon saam met haar minnaar in ’n werkersklasbuurt. Saam beroof hulle haar familie se herehuis. Later sluit sy aan by ’n terroriste-organisasie in Ierland. Sy gooi melkkanne met plofstof uit ’n helikopter uit. Sy neem deel aan nog ’n rooftog. Dié keer steel hulle ’n klomp skilderye by ’n ander ryk ou – onder andere die enigste Vermeer buite Buckingham-paleis in private hande. Die polisie kry die skilderye in die bagasiebak van ’n kar. In die tronk trou sy met ’n ander minnaar en gee geboorte aan sy kind. Weer op vrye voete maak sy kragtige missiele, met pakke koekies om die terugslag te absorbeer. Sy hou aan met stry en baklei tot sy dekades later sterf, sonder geld, woonagtig saam met ou nonne in ’n aftree-oord bestuur deur die Arm Diensknegte van die Moeder van God.

______________________