Oor aftrede en Pretoria

DINSDAG 24 NOVEMBER 2026

My ouers woon in die woonstel-area van Pretoria, ’n gemaklike afstand van die voorstede af. Om spesifiek te wees, Pretoria-Sentraal, ’n klipgooi van Melrose Huis af, en van Burgerspark; stapafstand van Kerkplein en die huis waar Paul Kruger sy jare as president van die Zuid-Afrikaanse Republiek gespandeer het.

Ek is tans op ’n besoek aan my bejaarde ouers – 88, en 84. Dit volg dat ekself oud genoeg is om my eie woonstelletjie te kan kry in die aftree-gemeenskap waar hulle woon.

Staande op die dak van die 9-verdieping gebou tussen die wasgoed en die duiwe wonder ek: Wat beteken dit om af te tree? Dit beteken jy jaag nie meer nie. Jy’t óf gekry waarna jy gesoek het en nou’s jy moeg maar tevrede, óf jy’t opgegee, óf vrede gemaak dat jy nie gevang het wat jy al die jare gejaag het nie. Of jy’t opgegee én vrede gemaak.

Middel-vyftigs. Getroud, maar geen kinders nie. Woon in die buiteland. Spandeer ’n fortuin om een keer per jaar op vakansie te gaan in Pretoria Sentraal. Geen skuld nie, maar vertrou ook nie die aandelemark nie. Spaar geld vir aftrede, maar inflasie eet kontant. Sal graag wil ophou jaag, maar ek wil nie arm oud word nie.

Gisteraand klop ’n ou tannie – die buurvrou – aan my ouers se woonsteldeur. Sy’s deurmekaar, sê sy. Sy sê weet nie waar haar vriende is nie. Sy kan ook nie hulle name onthou nie. My ma maak vir haar ’n toebroodjie en gaan sit vir ’n rukkie met haar en gesels. Sy raak deurmekaar en kan nie meer detail van haar lewe onthou nie. Sy woon alleen.

______________________