DONDERDAG 4 SEPTEMBER 2025
Ek is 54 jaar oud. Ek is geseënd en bedonderd (kan nie sê vervloek nie) met die neiging om te besin oor my bestaan: Wat doen ek met my lewe? Hoe maak hierdie aktiwiteit deel uit van die groot geheel? Wat behoort ek te doen?
Ek het dit gedoen toe ek 24 was. Ek doen dit steeds.
So, wat doen ek?
Ek maak geld – om te oorleef en ’n relatief goeie lewenstandaard te handhaaf – niks fancy nie, maar ordentlik genoeg. Ek dink ook konstant aan maniere om my inkomste uit te brei, en dit deel te maak van ’n daaglikse roetine. Ek wil nie op die spreekwoordelike straat staan en hustle nie. Ek wil goed-geoliede, inkomste-genererende masjiene bedryf. Ek gee nie om om self agter die knoppies en skakelaars en hefbome te sit nie, maar my hoop is dat sommige van die masjiene uiteindelik outomaties sal funksioneer. Heelwat van my ure elke week, indien nie elke dag nie, word tans gespandeer nie aan die instandhouding van sulke masjiene nie, maar aan dink oor hoe ek sulke masjiene kan opbou – en natuurlik aan die actual opbou van die apparaat.
Ek het nodig om ’n honderd-miljoen dalers of so bymekaar te skraap sodat ons kan begin dink aan aftree oor so tien jaar. Wat sal aftrede beteken in 2036? Wie weet. Maar ek hoop dat ons in ’n veilige gemeenskap woonagtig sal wees; dat ons genoeg sal hê om te eet; dat ons ’n eenvoudige maar goeie leefstyl sal kan handhaaf; dat ons mediese sorg sal kan kry sonder om paniekerig te raak oor die koste; dat ons so nou en dan plaaslik kan reis, en so elke dan en wan ’n week of twee kan spandeer in ’n ander land. As ’n mens al hierdie dinge kan doen sonder ’n klein fortuin in 2036, fantasties. Indien nie, gaan ek en my lewensmaat heelwat meer geld moet spaar oor die volgende dekade as wat ons tans doen.
Dan, dinge wat verder strek as geld. Ek hoop om my huidige positiewe uitkyk en redelike goeie gesondheid te behou so lank as moontlik. Ek hoop om my lewensmaat by te staan in háár strewe om gelukkig en gesond te bly. En dan hoop ek om op my beskeie manier ’n bietjie kennis en insig te deel met wie ook al my pad kruis – en natuurlik ’n bietjie kennis en insig op te tel by hierdie individue. Ek hoop ook om ’n fasiliteerder te wees, op watse klein skaal ook al, van die prosesse waardeur ander mense die vermoë ontwikkel, of verfyn, om te oorleef en produktiewe en gelukkige lewens te lei.
Dit is waaroor my lewe gaan op Donderdag 4 September 2025. Tot ’n groot mate is dit die breë trekke van my hele volwasse bestaan – hoewel ek uit die aard van die saak dertig jaar gelede meer gedink het aan genoeg geld om “vry” te wees as om gemaklik af te tree.
Terug na die goed-geoliede, inkomste-genererende masjiene. Dit voel asof ek honderde stukke het op die vloer rondom my lessenaar, en op die rakke langs die lessenaar, en uitgepak in klein hopies bo-op my lessenaar. En ek het dosyne notas soos hierdie een wat probeer orde skep van die honderde onderdele, in allerlei “privaat” en “amptelike” Word dokumente. Ek het ook lyste.
Anyways, ek wou maar net sê vele mense weet nie wat hulle doen met hulle lewens nie. Sommige van die mense is 24. Sommige is 54. En ek is seker daarvan sommige van hulle is 64.
______________________