WIE EN WAT
Identiteit is soos ‘n eksterne kenteken (of versameling kentekens) wat ons “ronddra” en “vertoon” om aan ander te wys wie ons is. Identiteit verskaf ook aan ons ‘n begrip van die verhouding tussen ons en ons omgewing en alles en almal wat deel is daarvan. Dit is egter nie wát ons is nie. Ek glo dat identiteit ‘n oorlewingsmeganisme is wat ons spesie aangeleer het in die proses van ewolusie, omdat vroeër meganismes wat dieselfde funksies gehad het as identiteit vandag, tot ‘n groot mate afgestomp geraak het.
Elkeen van ons kan ‘n hele lys dinge aframmel, wat almal wat wou weet sou oortuig dat ek nie Ronald Reagan is nie, en jy heel moontlik nie Napoleon Bonaparte nie. Ons het name, nasionaliteite, moontlik beroepe, telefoonnommers, selfoonnommers, identiteitsnommers, paspoortnommers, kredietkaartnommers, adresse, bloedtipes, alma maters, herinneringe van hoërskool, belangstellings, gunsteling vakansieplekke, ambisies en drome… net om ‘n paar te noem. Maar nie een van hierdie dinge, of die hele klomp saamgegooi, is meer as net inligting óór ons nie.
‘n Plant, hoe diep sy wortels ook al in die grond is, ís nie die grond nie. Die plant bly ‘n plant, en die grond bly grond. Ons identiteite is moontlik iets soortgelyks. Die plant het die grond nodig om te oorleef in die tuin. So het ons identiteit nodig om te kan funksioneer, en inderdaad, om te oorleef.
As die formulering van jou ware identiteit dus nie die einddoelwit is nie, wat is? ‘n Aanvanlike antwoord blyk “plek in die wêreld” te wees. Geen mens kan sy plek in die wêreld vind of definieer sonder om eers uit te sorteer wie hy is in verhouding met alles om hom nie. Identiteit is die middel tot hierdie doel.
Hoekom wil ons weet waar ons behoort? Die antwoord is so naby soos die naaste deur met ‘n slot in: VEILIGHEID. Ons is verstrooi oor die hele planeet. Daar is soveel verskillende rasse, tale, kulture, subkulture, en ander verskille tussen ons dat dit ‘n wonderwerk is dat ons mekaar nie uitmoor ter wille van ons eie kanse op oorlewing nie… of eerder, dat dit nie meer gebeur as wat alreeds die geval is nie. Ons het nodig om veilig te voel, want daar is meer dinge wat ons bestaan bedreig as wat ons in een leeftyd kan opnoem. En dan is daar nog ons oer-vrees om te verdwyn in die nietigheid die dag wanneer ons sterf.
Een manier om veilig te voel, en ‘n bietjie beter oor die moontlikheid van verdwyning, is om tussen ander te wees “soos jy”. Hierdie beginsel is so oud soos die lewe self, en dit manifesteer in nasionalisme, godsdiens, bloed-is-dikker-as-water, vriendskappe, subkulture, die manier hoe wilde diere van dieselfde spesie saamgroepeer, en in die geblaf van honde in die nag.
Oervrese, en nuwe redes om te vrees, verskerp dus ons drang na veiligheid. Die drang na veiligheid stimuleer behoefte aan plek-en-lidmaatskap. Ten einde lidmaatskap te bewerkstellig benodig ons inligting oor onsself – daarom die soeke na identiteit.
Die probleem is dat hierdie “soeke na identiteit” in baie gevalle ‘n uitgerekte proses is, en die drang na veiligheid – soos die redes om te vrees vir ons lewens – kan nie wag tot jy jou regte naam van die dakke kan uitskree nie.
Wat op aarde kan help om hierdie proses minder traumaties te maak, om jou angs te verlig as jy nog nie mooi weet wie jy is, en waar jy inpas nie? Anders gestel, wat kan jou angs verlig terwyl jy nog “soek” na jouself, en na jou plek in die wêreld? Dié keer is die antwoord so naby soos die naaste beursie vol banknote: GELD.
Hoekom laat geld – of dan, om oor meer as genoeg geld te beskik – jou beter voel as jy nie seker is van jou identiteit nie? Omdat geld die noodsaaklikheid van (‘n goed-gedefinieerde) identiteit verminder deurdat dit die oorspronklike behoefte aan ‘n sin van persoonlike veiligheid en sekuriteit bevredig.
Hoe bevredig geld die behoefte aan ‘n sin van persoonlike veiligheid en sekuriteit? Geld koop kos, klere, ‘n dak oor die kop en deure en hekke met grendels en slotte; geld koop ook die dienste van ‘n tandarts wanneer jou tande pyn, die hulp van dokters as iets anders verkeerd is, en dit koop medisyne in die geval van siekte en ‘n bed in ‘n goeie hospitaal in ernstiger gevalle; geld koop ook vermaak, geselskap, en in meer gevalle as wat meeste sal erken, is geld ook direk of indirek bevorderlik vir die ontwikkeling van vriendskappe. Om op die langtermyn toegang te hê tot voldoende kapitaal, is om te weet dat al bogenoemde beskikbaar is wanneer dit benodig word; om te weet dat al bogenoemde beskikbaar is wanneer dit benodig word, is om veilig te voel.
Beteken dit hoe ryker die ou is, hoe minder hoef hy te weet oor homself? Nie heeltemal nie. Hoe ryker die ou is, hoe beter die kans dat hy gaan voel sy bestaan, vir nou, is beter verskans as dié van die boemelaar in die rioolpyp. En hoe beter hy voel oor sy kanse op oorlewing, hoe minder sy dringende behoefte aan alternatiewe maatreëls om ‘n bewussyn van sekuriteit te bewerkstellig – naamlik plek en lidmaatskap.
(Dan is dit natuurlik ook so dat indien hy wel wil verskyn aan die wêreld, of geen keuse het anders as om te verskyn nie, geld uiters handig te pas kom in die aanskaffing van toepaslike (en in vele gevalle voorafverpakte) Kentekens van Identiteit – vryelik beskikbaar op die Internet, uit bestel-per-pos katalogusse, of ‘n wye keuse van poetsblink inkopiesentrums.)
Wat ookal die verskil tussen die kind van geld en die kind van die laer-middelklas wanneer dit kom by identiteit, verander dit niks aan die feit dat, selfs al kan jy ‘n boek skryf oor jou eie identiteit en oor jou persoonlike agenda in hierdie wêreld, dit steeds nie die volle waarheid omsluit oor wát jy is nie. In terme van materie is jy soveel pond vleis, soveel liter bloed en soveel meter vel. En het jy regtig wetenskaplikes nodig om aan jou uit te wys tot watter graad jy dieselfde is as ‘n hond of ‘n bobbejaan?
Die vraag na WIE jy is, is so prakties soos die regte moersleutel in ‘n werkswinkel: Dit dien ‘n doel, en die doel is ‘n bewussyn van persoonlike sekuriteit.
WAT jy is, is egter moeiliker om vas te vat. As ons net soveel pond vleis en bloed en vel en bene minder of meer is as ons troeteldiere, met (meeste van die tyd) ‘n brein wat meer ontwikkeld is, dan moet selfs ék wonder of ek my tyd mors deur te doen wat ek doen. Dan maak dit mos ten volle sin om skaamteloos geld na te jaag vir geen ander rede nie as die sekuriteit, en die vermaak en gemak wat dit kan koop.
Wat daarvan, moet mens uiteindelik vra, as ons net soveel pond vleis en been meer of minder is as ‘n wilde dier, en niks meer nie? Of is die feit dat ons breine soveel meer ontwikkeld is, so belangrik dat ooreenkomste in organiese samestelling tussen die mens en ander “minder ontwikkelde” lewensvorme regtig nie eintlik saakmaak buite die laboratorium nie? Nog ‘n vraag: Hoe affekteer dit ons ambisies, ons beskouing van gemeenskap, ons drome oor die toekoms, ons hoop vir die volgende geslag, as ons glo dat niks buite ons fisieke bestaan lê nie; as betekenis in die lewe en definisies vir goed en sleg gevind moet word binne dit wat ons kan dink en voel en ervaar – individueel, en as individue-in-gemeenskap-met-ander-wat-soortgelyke-ervarings-het? En hoe verander dit die onderwerp as dit moet blyk – bo redelike twyfel – dat ons meer ontwikkelde breine ‘n aanduiding is dat die mens deel is van iets wat verder strek as dit waarvan kameelperde en kokkerotte en spinnekoppe deel is?
(Woensdag, 1 Oktober 2003)
___________
