Weer tyd vir wiskunde | Oor aartappels en vrugte

VRYDAG 25 JULIE 2003

Ek het, lief vir somme soos ek is, my vriende in hierdie plek getel: “vier” is die getal waarmee ek vorendag gekom het. Van hierdie vier is twee mans, en twee vrouens. Ek het nie tans kontak met enige van hierdie mense nie.

Dis Vrydagaand, reeds vyf na middernag (Saterdagoggend, dus). ’n Verlate vlakte van ’n naweek staar my in die gesig. Ek reken my gemoed sal teen vroeg môre-aand in sy moer wees. Ek gaan die hele aand video’s wil kyk, terwyl ek deep-fried tofu en calamari in my keel afspoel met koue groen tee. Dan sal ek my metabolisme versnel met die een Nat Sherman na die ander in die vals oortuiging dat dit sal verhoed dat ek vet raak van al die olierige kos.

Ek sal moet weggaan. Stryd vir die Siel. Stryd om Oorlewing. Ek weet ek het ander mense nodig, maar soms is jy genoodsaak om ’n ander plan maak.

Die naweek is nog ’n leë doek, onbevlek met werklike gebeure. Tyd om kreatief te raak, anders raak die werklikheid dalk kreatief met my …

SATERDAG 26 JULIE 2003

Eet aartappels of vrek – dis my enigste twee keuses.

Ons almal weet hoe ’n gebalanseerde dieet lyk – proteïne, suiwelprodukte, ’n verskeidenheid groente en vrugte, ensovoorts. Maar wat doen jy as jy jouself in ’n situasie of omgewing bevind waar daar net aartappels is? Gaan sit jy op ’n klip en kerm, “Ek wil vrugte hê, en groente, en melk en vis en eiers …”?

Ons almal wil ’n gebalanseerde dieet volg! Ons almal wéét ons het dit nodig! Maar daar is nie nou vis of vrugte of ander groente nie! Daar’s net aartappels! So eet aartappels of vrek!

’n Ander gedagte: As jy ’n miljoenêr is, is die waarskynlikheid groot dat dit die gevolg is van dinge wat jy in jou verbeelding opgewek het, en aksies wat jy geneem het. Meeste “gewone” mense is oortuig daarvan dat hulle maar altyd swaar sal kry. As hulle gelukkig is, behou hulle hul werk tot hulle 65 tref, en tree dan af met hulle skete en pyne, en ’n aftree-polissie of twee. Feit is, as jy jouself die regte dinge voorstel, en die regte aksies neem, kan meer as genoeg geld een van die vrugte wees wat jy sal pluk.

______________________