Wat jy nodig het – en waarin jy moet glo

VRYDAG 8 APRIL 2005

Wat het jy nodig?

Jy’t ’n maat nodig, iemand wat jou verstaan, wat verstaan waar jy vandaan kom en hoe jou idee van ’n toekoms lyk, wat jou foute en gebreke aanvaar en jou sterk punte en jou beskouing van jouself respekteer; iemand wat jou potensiaal en jou talente herken; iemand wat jou positiewe siening van wie en wat jy is, bevestig. Jy’t ook ’n plek nodig – ’n “huis”, ’n omgewing waar jy jou maatreëls kan laat vaar, waar jy kan ontspan, waar jy kan floreer, waar jy kan groei in wie en wat jy wil wees.

Jy’t eerlike en opregte liefde nodig.

DINSDAG 12 APRIL 2005

Het die afgelope paar ure (weer) bewus geraak van ’n paar dinge:

* die lewe is altyd ’n stryd – aanvanklik (of voortdurend) vir oorlewing, en daarna vir óf die handhawing van ’n goeie bestaan, óf vir iets beters – ’n buitengewone lewe, volgens jou eie beskouing;

* daar is soveel dinge om te vrees dat dit amper ’n wonderwerk is dat ons nie so vreesbevange is die heeltyd dat dit ons funksionering belemmer nie;

* in ag genome die vorige punt kan dit gesê word dat selfvertroue die kenmerk is van ’n dwaas – maar as uitstekende illustrasie van die teenstrydighede van die lewe, sal jy fokkol uitgerig kry as jy nie selfvertroue het nie;

* ek kom absurd voor aan myself in die klaskamer – ek wat by die huis my selfbewussyn en vermoëns aanwend tot produktiewe en meestal interessante arbeid, wat dan skielik verskyn in ’n omgewing met reëls en regulasies en konvensies en ’n hemp wat uitgekies is om by ’n broek te pas, en swak Chinese uitspraak, en opgemaakte “professionele” Engelse aksent.

Ook baie bewus geraak van wat ek nog wil doen, maar nie tans doen nie; wat ek nog wil weet, maar nie tans weet nie; vaardighede wat ek wil bemeester waaroor ek nie tans beskik nie; vrae wat ek het waarop ek nie die antwoorde ken nie – soos, wat die verskil is tussen ’n aartsbiskop en ’n kardinaal (trein arriveer, 21:30).

WOENSDAG 13 APRIL 2005

Mens moet glo dat dit MOONTLIK is
vir JOU
om FINANSIEEL ONAFHANKLIK te wees

en dat dit verder MOONTLIK is
vir JOU
om GELUKKIG te wees

en dat dit verder MOONTLIK is
vir JOU
om ’n POSITIEWE BYDRAE te maak

Te veel mense glo in slegs een ding: dat dit wat vir hulle “gegee” is, insluitende sosio-ekonomiese status en gepaardgaande rol, funksie, en relatiewe waarde vir die gemeenskap, die beste is wat hulle ooit uit die lewe kán en sál kry; dat dit selfs verwaand sal wees om ambisies te koester wat verder as dit strek. Hierdie oortuigings, glo ek, is tot ’n groot mate verantwoordelik daarvoor dat dit hulle werklikheid sal bly.

______________________