Waar jy niemand is: INLEIDING

Soms het ’n mens nodig om in ’n plek te wees waar min mense jou ken, ten einde ’n beter idee te ontwikkel van wie jy werklik is, of werklik wil wees. Waar jy niemand is is die aantekeninge van ’n persoon wat homself meer as een keer bevind het op so ’n plek.

Notas uit Stellenbosch

Hierdie deel bevat hoofsaaklik fragmente uit notas wat dateer uit die herfs van 1994, my laaste jaar as student op Stellenbosch.

Notas uit Pretoria

Joernaalinskrywings van die periode toe ek in my ouer suster se sitkamer in Pretoria gewag het om Korea toe te gaan: middel April tot einde Junie 1996.

Notas uit Suid-Korea

Op 29 Junie 1996 het ek ’n Cathay Pacific vlug gehaal na Seoel, Suid-Korea. Die gedagtes vervat in die notas van twee jaar tevore was ’n groot motivering, en die 22 maande in Korea sou weer beïnvloed wat ek later sou skryf.

Om Korea toe te gaan was ’n manier om die dooie steeg te ontsnap waarin ek myself bevind het na universiteit. Ek het nie geweet hoe dinge sou uitwerk in Korea nie. Ek het nie geweet wat om te verwag nie. Al wat belangrik was, was dat ek geld sou verdien, en ten minste ’n voorlopige antwoord kon gee oor wat ek besig is om met my lewe te doen.

Wat my ingewag het, was ’n magdom nuwe vrae. Een tema het uitgestaan: plek en identiteit. Tot op daai stadium sou ek ’n intelligente gedagte kon formuleer oor die onderwerp, maar ek was nooit vroeër gekonfronteer daarmee in ’n sosiale konteks so uitdagend en veeleisend soos in Chonju City nie – buiten die druk wat mens ervaar het as etniese en kulturele buitestaander in Korea, was daar ook Amerikaners en Kanadese, en Britte en Iere en Duitsers, en Australiërs en Nieu-Seelanders wat mekaar voortdurend uitgedaag het met vrae oor wie en wat jy is, om te bepaal of ’n mens aanvaarbaar is vir hulle sosiale kring.

Dit sou my jare neem voor ek ’n beter begrip sou ontwikkel oor plek en identiteit, voor ek sou begryp hoekom ek sekere vrae met soveel passie gevra het, en sekere aangeleenthede met soveel entoesiasme sou ondersoek.

Notas uit Johannesburg (en ander plekke)

Na amper twee jaar in Korea, en vier jaar na die “Testament” van April 1994, was ek terug op Stellenbosch. ’n Paar weke in Coronation (buite Vryheid, in KwaZulu-Natal) sou volg, en toe ’n paar maande in Johannesburg.

Hierdie gedeelte dateer uit die periode Mei 1998 tot Februarie 1999 – enkele weke na ek in Taiwan gearriveer het.

Die Bylaag sluit in ’n paar gevolgtrekkings en enkele nuwe insigte – geskryf in Taiwan in Februarie 2004, nadat ek die materiaal vir hierdie projek verwerk het.

______________________