Waar is my plek in die Groot Hiërargie?

DONDERDAG 12 JUNIE 2003

Die Wêreld van die Werkende Volwassene is jou voorland as jy oud genoeg is om die skool te mag verlaat en iemand bied aan om jou te betaal vir jou arbeid; ook as jy na ’n paar jaar aan ’n tersiêre instelling klaar is met al jou toetse en eksamens, of as jy moeg geleer is, of as jy moet begin om jou studieskuld terug te betaal.

Negentien-ses-en-negentig was die eerste jaar van my volwasse lewe wat ek nie meer ’n student was nie. Dit was die eerste jaar wat ek moes demonstreer waar ek gaan inpas in die Groot Hiërargie. Die jaar het vir my begin in ’n munisipale woonstel – sonder meubels, want ek het alles verpand gedurende die laaste paar weke van die vorige jaar. Ek kon van daai heel eerste maand van my post-universiteit volwasse lewe nie die huur bekostig van ’n munisipale woonstel nie. Teen die middel van hierdie maand is die elektrisiteit ook afgesny, so ek kon nie eens die nuwe fase van my bestaan vier met ’n koppie tee nie.

As jy na jou tersiêre opleiding nie begin met een of ander betaalde arbeid nie, en jy woon óf in ’n munisipale woonstel sonder elektrisiteit, of by jou ouers vir ’n paar maande, of in jou ouer suster se sitkamer (eers in die middel van die sitkamervloer, dan agter die rusbank), is jy in die oë van jou vriende, jou familie, ander mense wat jou ken, en in die oë van die breë gemeenskap, ’n mislukking.

Om oorsee te gaan, is – soos dit ook was in die middel-negentigs – een manier om hierdie negatiewe beskouing van jou persoon vry te spring. As jy emigreer, of ’n werk aanvaar in die buiteland waarvoor jy ’n formele werkspermit ontvang voordat jy vertrek, is dit een ding. Jy’s steeds in ’n formele werksituasie wat tydgenote in jou eie land kan verstaan, en tot ’n mate mee kan vereenselwig. As jy aan die ander kant net ’n rugsak of twee tasse pak, en jy gaan Engeland toe vir ’n jaar of twee, of jy gaan werk in Noordoos-Asië as ’n Engelse onderwyser vir ’n jaar of drie, word dit oor die algemeen gereken dat jy sal “terugkom” een of ander tyd om dán ’n lewe te begin in jou eie land as ’n Werkende Volwassene, en jou Plek in die Groot Hiërargie in te neem.

My jare in Korea en Taiwan val in hierdie tweede kategorie van Oorsee Gaan. Die verskil is dat ek na sewe jaar nog steeds nie weer my opwagting gemaak het in die Republiek om my plekkie in die son in te neem nie. (Daar was wel die eksperimentele terugkeer in 1998 wat geëindig het in ’n bediendekamer met pienk mure, maar dit was gou genoeg verby.)

Ek weet egter nou dat ek al vir amper ’n dekade lank sukkel om ’n antwoord te vind op ’n spesifieke vraag: Waar is my plek in die Groot Hiërargie?

My gesukkel met hierdie vraag kan tot ’n groot mate toegeskryf word aan die feit dat ek nie gemaklik sit in middelklas geselskap nie – as gevolg van die armblanke jare, en ook as gevolg van my persoonlike ideologie van Kreatiewe Onafhanklikheid voor Finansiële Gemak.

Sonder ’n antwoord op bogenoemde vraag was dit nog altyd moeilik om uit te werk watse tipe lewe ek wil lei as ’n Werkende Volwassene, met watse tipe werk ek myself sal kan vereenselwig, waar ek sal (wil) woon, met wie ek sosiaal sal kan omgaan sonder om soos ’n “mislukking” te voel, en watse tipe lewe ek ’n gesin sal kan gee.

’n Interessante situasie het ontstaan in ons gesin wat betref hierdie hele aangeleentheid. My ouers het albei van die platteland gekom en hulle pad oop gewerk na die Stedelike Middelklas toe. Dinge het skeefgeloop net toe hulle die kruin van sukses bereik het in hulle middel veertigs. Van toe af was hulle in en uit (meestal in) die Armblankeklas. My ouer suster het die spel goed bemeester, en geniet deesdae ’n relatief gemaklike Middelklasbestaan as beloning. My jonger suster, wat agt jaar oud was toe sy saam met die gesin die Armblankeklas binne gestruikel het, kan saam met haar eggenoot met gemak geklassifiseer word as Werkersklas – of dan Aspirant Middelklas.

Ek? Ek is ’n moeilike geval. Ek het die geleentheid gehad om lidmaatskap van die petite bourgeoisie te bewerkstellig as ’n hoërskoolonderwyser. Om ideologiese redes, ’n probleem met gesag, ’n klein porsie kunssinnigheid, en veels te veel ambisie het ek die geleentheid beleefd van die hand gewys.

Waar pas ek dus in, in hierdie Groot Sosio-Ekonomiese en Kulturele Hiërargie? Ek is niks anders nie as ’n Armblanke Intellektueel.

______________________