Waan of bates, die goeie werk sal voortgaan

WOENSDAG 11 JANUARIE 2017

Daar is ’n paar redes hoekom ek reken dit is belangrik dat ek amper elke dag van die week ’n paar ure aan my skryfprojekte spandeer. Een rede het te make met illusie wat ’n mens gelukkig maak. ’n Bekende spotprenttekenaar verduidelik dat, siende dat mens in elk geval heel waarskynlik tot ’n groot mate onder ’n waan verkeer, jy net sowel ’n delusie kan kies wat jou gelukkig maak. Ek kies om te glo dat honderde mense gereeld lees wat ek sover gepubliseer het, en dat dit net ’n kwessie van tyd is voor meer mense inskakel op my frekwensie, by wyse van spreke. Dit is ’n idee wat my gelukkig maak, wat my aan die gang hou, en wat dit vir my makliker maak om ander dinge te doen wat ek nie soveel geniet nie, maar wat geld inbring.

Ek kan ook verduidelik dat my skryfprojekte ’n positiewe nalatenskap sal wees van my bestaan, en dat ek dalk hier en daar iemand kan oortuig om iets positiefs eerder as negatief te doen, of om die lewe nog ’n kans te gee, sou dit daarop neerkom.

Vroeër vanaand tref dit my dat daar nog ’n rede is hoekom ek gerus kan voortgaan met my harde werk, al betaal dit nie juis nie. Daar is ’n besigheidsmodel wat sê dat jy eers waarde skep, en later kyk hoe jy munt kan slaan daaruit. Dit is presies wat groot tegnologiemaatskappye soos Twitter, Facebook en Google gedoen het, en die model wat gevolg word deur slimfoontoepassings soos WhatsApp: voorsien eers waarde aan baie mense; maak later geld.

Dit is tot ’n mate ook wat ek doen. Ek behoort binne die volgende jaar of twee die 700-merk verby te steek wat betref stukke inhoud op BrandSmit.NET en AssortedNotes.COM. Hierdie inhoud is persoonlik, oorspronklik, en strek so ver terug as 1994 (uit die aard van die saak is die oudste teks ouer as die werwe self).

Ek kan in die maandelikse statistieke sien die werwe word besoek deur meer as ’n paar mense, en dat ’n betekenisvolle persentasie mense ten minste vyftien minute per keer op die werwe spandeer. En daar is nog heelwat wat ek kan doen om die leserstal uit te brei – sosiale media, meer formate, ’n nuusbrief.

In kort, ek is besig om twee waardevolle bates te ontwikkel wat wel nie geld maak nie, maar – ek mag dalk twee jaar of vyf jaar van nou af ’n boek produseer wat wel ’n bietjie kommersiële waarde het. En indien daar ’n kommersiële item op die spreekwoordelike rak is, sal twee webwerwe (wat in een geval reeds meer as ’n dekade op die internet is) met honderde stukke inhoud, met ’n gereelde leserskring, nie slegte bates wees nie.

______________________