Voor- en nadele van intieme verhoudings – om kinders te kry

DINSDAG 17 MEI 2005

Om alleen te wees het voordele en nadele. Die nadele sluit in om soms regtig eensaam te voel, en verveeld en gefrustreerd met jou eie geselskap. In tye van intense eensaamheid dink mens soms aan ’n verhouding as hemelse paradys – met miskien ’n argumentjie hier en daar om dit realisties te maak.

Natuurlik het ’n intieme verhouding ook voordele en nadele. Die voordele het, soos verwag kan word, baie te make met die nadele van alleen wees. Die nadele van ’n intieme verhouding is weer verwant aan die voordele van alleenheid.

Aan die einde moet jy vir jouself besluit of die voordele van ’n intieme verhouding – liefde, ondersteuning, kameraadskap, geselskap – swaarder weeg as die nadele, wat insluit voortdurende verskyning, botsende gewoontes en voorkeure, om mededeelsaam te wees wanneer jy nie regtig mededeelsaam wil wees nie, en hoër finansiële verwagtinge; ook of die nadele daarvan om op jou eie te wees uiteindelik die voordele oortref.

DONDERDAG 19 MEI 2005

Een van twee dinge word oorweeg wanneer dit kom by kinders kry: a) ons wil ’n kind hê, so kom ons doen ons bes, en b) swangerskap is reeds realiteit, so wat gaan ons doen?

Bogenoemde moet in ag geneem word in opmerkings oor wat mense motiveer om ’n kind te hê.

Nog iets: Ek het veel te sê oor ouers wat kinders kry om hul eie gate toe te stop, om hul eie emosionele of sielkundige behoeftes te bevredig. Punt is: in beide bogenoemde gevalle kan die persoon nie juis beweer die kind is verwek ter wille van die kind nie – die kind bestaan immers nog nie! (Meer korrek in die eerste geval.)

Dit volg dus dat volwasse mense, wanneer hulle oorweeg om ’n kind te kry, dit natuurlik doen om hul eie redes, en om hul eie behoeftes te bevredig. Hoe dan anders?

Ek-nou het ’n lewe van my eie. Daar is steeds ’n emosionele naelstring tussen my en my ouers, maar ek het tot ’n groot mate my ouers se idees van ’n volwasse lewe, en selfs hul oortuigings, agtergelaat en my eie mens geword (by wyse van spreke). Ook ek is verwek 34 jaar gelede deur twee volwasse mense wat hul eie behoeftes wou bevredig in die verwekkingsproses (ek bedoel emosionele behoeftes eerder as fisies – tog is dit ook so dat ’n kind in die eerste plek verwek word omdat twee volwassenes hul fisiese behoeftes wil en moet bevredig.)

’n Mens kan dus nie wegkom van die werklikheid dat kinders verwek word omdat volwassenes hul eie behoeftes het om te bevredig nie – hetsy fisiese, sielkundige of emosionele behoeftes, en natuurlik in vele gevalle ’n kombinasie van hierdie behoeftes.

______________________