Die verwarring en onsekerheid bevestig: Dit gaan alweer oor identiteit

MAANDAG 4 MEI 2009

Dit wil voorkom asof my pogings om geld te maak op die Internet gekniehalter word deur ’n vraag wat ek as beantwoord beskou het: Wie is ek?

Ek het onderskat tot watter graad die Internet ’n nuwe omgewing verteenwoordig. Ek het nie geweet dat ek soos enige ander geval van geografiese verskuiwing van jou persoon noodgedwonge weer bepaalde vrae sou moes vra, en sou moes antwoord nie: Wie is ek in hierdie plek? Wie is ek vir die mense wat ek gaan teëkom, in die gesprekke wat ek gaan aanknoop, in die projekte wat ek gaan aanpak?

DONDERDAG 7 MEI 2009

Na weke van dink aan dinge soos my eie handelsmerk, en die toenemende gebruik van die naam “Platform35” as my persoonlike handelsmerk op digitale markte en as deelnemer op forums, en die identifisering van drie domeine as my primêre fokuspunte, en lesse geleer van foto’s van myself op webblaaie en die gebruik van my eie naam, sien ek uiteindelik die bome vir die woud wat dit in werklikheid is.

“Dit gaan al die tyd oor identiteit?” roep ek uit, en ek wonder hoekom ek – ek! – dit nie lankal agtergekom het nie.

Ek was te lank verlei deur die idee van dinge doen op ’n spasie op die Internet eerder as van aangesig tot aangesig, en die stories van anoniem wees en agter jou rekenaarskerm geld maak op die Internet – wat moontlik is, maar ’n deel van my wíl verskyn. Natuurlik wou ek, “Brand Smit van Persoonlike Agenda” nie verskyn as ’n bemarker nie (“Sies!”), maar ek wóú geld maak van die huis af.

Ek was in ’n moeilike situasie. Ek het wel een of twee artikels geskryf onder my eie naam en dit publiseer op EzineArticles, maar ek het kort daarna weer verdwyn agter ’n skuilnaam in.

My advies (aan myself): definieer jouself in die omgewing waar jy woon, werk, besigheid doen, studeer en leef. Definieer jouself, en stel jouself voor as die persoon wat jy sê jy is. Dit is natuurlik te sê as jy enigsins wíl verskyn, en die vrugte wíl oes en geniet wat verskyning bring.

En om te dink ek het dit reeds geweet in 2004.

SATERDAG 9 MEI 2009

Ek het gedink ek het die vraag na wie en wat ek is, opgelos teen 2004, maar die oomblik toe ek ’n nuwe omgewing betree (“Internet Marketing” in 2006), het die verwarring en onsekerheid teruggekeer, met ’n duisend vars troepe gewapend tot die tande toe.

______________________