Verhoudings – kreatiewe onafhanklikheid – advies oor die lewe – identiteit

MAANDAG 1 AUGUSTUS 2005

17:41

Sommige mense knoop ’n verhouding aan omdat hulle glo die ander persoon kan aan hulle ’n weelderige lewe gee, en/of hoër status in die gemeenskap en tussen vriende en familie. Ander knoop ’n verhouding aan of betree die huwelik omdat hulle glo dit die volgende stap is in die lewe van ’n volwassene, en die persoon met wie hulle die verhouding aanknoop of die instelling van die huwelik betree, ag as ’n goeie lewensmaat.

Daar is ook individue wat wonder: Waar sal ek iemand vind wat my verstaan, en wat my sal aanvaar vir wie en wat ek is, en wil wees? Ek tel myself, asook die persoon met wie ek ’n intieme verhouding het, onder hierdie groep mense.

18:51

Kreatiewe onafhanklikheid is ’n goeie en edel doelwit om na te streef. Om jou arbeid te verrig soos jy dit goedvind en nie soos dit gedikteer word deur ander nie, is alles goed en wel. Maar hoe word dit toegepas op mediese dokters, tandartse, polisie offisiere, ingenieurs, brandweer personeel en noodhulpdienste? Skrywers, akteurs, filosowe, fotograwe en so meer is deel van ’n groep “arbeiders” wat sekerlik kan aandring op minimale inmenging op hoe hulle hul werk verrig, maar kan alle arbeiders aandring daarop?

Nog ’n vraag: Die skrywer of kunstenaar wat hand en tand veg vir kreatiewe onafhanklikheid, om te doen wat hy wil, soos hy dit goedvind, het elke nou en dan ’n tandarts nodig, of ’n mediese dokter, of ’n verpleegster of ’n bankklerk. Hy verwag dat hierdie mense hulle werk moet doen soos dit veronderstel is om gedoen te word. Dan praktiseer hy mos nie wat hy predik nie, of hoe? En is dit nie ook edel om te voorsien in die behoeftes van die gemeenskap nie?

19:00

Wat sou ek eendag wanneer ek oud is vir iemand sê wat my advies vra oor die lewe? (Ek bedoel nou as ek gelukkig genoeg is dat iemand vir my ’n vraag vra waarvoor ek so ’n mooi, goed uitgewerkte antwoord het, en die persoon is geduldig genoeg om na die kort toespraak te luister.)

Ek sal sê, drie dinge:

1. Leer jouself ken. Vra jouself vrae, en oorweeg elke moontlike antwoord deeglik voor jy een aanvaar. Indien ander mense antwoorde het op die vrae wat jy vra, of aan jou antwoorde bied, aanvaar dit slegs na jy dit krities oorweeg het, en as relevant ag vir jouself. Leer jouself ken in verskillende situasies, en in uiteenlopende omgewings. Neem jouself waar; sien waar jou sterkpunte lê, asook jou swakhede.

2. Maak geld. As jy dit kan doen sonder om iemand “baas” te noem, of sonder om na iemand anders se diktee te dans, sal jy een van ’n minderheid wees wat persoonlike vryheid in hulle arbeid geniet. As jy meer geld maak as wat jy nodig het vir jou basiese behoeftes en vir wat jou ook al gelukkig maak, ook goed so. Dit sal jou in staat stel om die lewe meer te geniet, en om ander mense by te staan in hulle stryd om oorlewing. Onthou: gierigheid is ’n slegte eienskap; wees wys met jou geld; en as jy jou selfrespek merendeels bou op die feit dat jy geld het, bou jy jou huis op sand.

3. Kennis … van jou omgewing, die wêreld buite jou onmiddellike ervaringsveld, die geskiedenis van die mens, ander samelewings, ander lande, ensovoorts. Ook kennis van sielkunde, filosofie en ander vakgebiede wat jou in staat sal stel om jouself, ander mense, en die wêreld beter te verstaan.

DINSDAG 2 AUGUSTUS 2005

Stel jouself die volgende toneel voor: 100 mense is vergader in ’n saal. Geen name word gebruik nie. Elke persoon het ’n stel wit kaartjies by hom of haar – sê so 50 kaartjies. Op hierdie kaartjies skryf die mense dan stellings wat hulle definieer: beskrywings soos, “Ek het ’n lang neus,” “Ek het ’n moesie op my voorkop,” “Ek vertel graag grappe,” “Ek hou van tuinmaak,” en dan ook ervarings soos, “Ek het geval met my fiets toe ek twaalf was en my voortande verloor,” “Ek het saam met my ouers deur Europa gereis toe ek 17 was,” “Ek het in my middel twintigs vir twee jaar in Suid-Korea gewerk,” en so meer. Die kaartjies word dan saamgegooi, en elke persoon word dan uitgeken deur hierdie stellings en ervarings. Natuurlik sal ten minste die helfte van die mense reageer as die stelling, “Ek is ’n man” gelees word. Vele sal hul hande opsteek as die stelling, “Ek het bakore” gelees word. Sekerlik sal die semi-unieke kombinasies van fisieke eienskappe en beskrywings van persoonlikheid die een persoon onderskei van ’n ander, maar sal persoonlike ervarings die grootste unieke identifiseerder blyk te wees?

DONDERDAG 4 AUGUSTUS 2005

As jy nie weet wat jy met jou lewe wil doen nie, wat doen jy met jou lewe? Hoe funksioneer jy? Hoekom leef jy soos jy leef, waar jy leef, en met wie jy leef? Hoekom doen jy die werk wat jy doen? Hoekom dra jy die spesifieke klere wat jy dra?

Ek is seker daarvan daar is interessante antwoorde op bogenoemde vrae. Of, meeste mense het in der waarheid ’n idee van wat hulle met hul lewens wil doen. Indien dit die geval is, wonder ek: “Wat?” En indien iemand dan die vraag antwoord, sal ek steeds nuuskierig wees: “Hoekom?”

______________________