Transformasie – voordele daarvan om nie verskyn nie

MAANDAG 23 MEI 2005

15:29

Sommige mense wil meer hê as dit wat aan hulle gegee word; ander weet van meer, maar hulle is tevrede met die goeie dinge wat binne hul onmiddellike bereik is.

18:24

Wat is transformasie?

Ek kyk na myself, en sien ’n funksionerende volwassene. Wanneer die fluitjie blaas in die oggend, begin ook ek op my eie pas saam te draf, en teen die einde van die dag wanneer die oorlewendes getel word … wel, is ek sover nog elke keer saam getel. As oorlewing die primêre oorweging is, máák ek dit as ’n funksionerende volwassene in die tyd en plek waar ek gekies het om my bestaan te voer.

Verskeie faktore speel egter ’n rol daarin dat ek oortuig voel dat ek beter kan doen, beter kan leef, beter kan funksioneer, beter resultate kan wys aan die einde van elke dag se bestaan. Die stappe waarop ek sal besluit na deeglike oorweging, dit is transformasie.

[19/06/15: Om te besluit op stappe is nie transformasie nie; om oor te gaan tot aksie om die stappe te implementeer, kan wel gesien word as die begin van transformasie.]

DINSDAG 24 MEI 2005

Die wete dat jy die gras geritsel het, beteken nie dat die slang nie werklik is nie.

* * *

Wanneer jy nie verskyn nie, hoef jy nie verleë te voel, of jouself te verduidelik, of verskoning te maak vir aspekte van jou lewe of die toestand van jou woonruimte nie.

Die voordele van ’n intieme, eerlike en ernstige verhouding is welbekend. Ek noem maar net dat daar ook voordele verbonde is daaraan om nie te verskyn nie – dit wil sê, om alleen te wees.

______________________