VRYDAG 13 JUNIE 2003
Brand Smit woon in Blousteen Mansions nommer 711. Hy is getroud met Elsa Kleynhans (nou Junie was dit sewe jaar). Hulle het twee kinders: Martie is vyf en ’n half, en Ben is drie. Brand is ’n skrywer. Behalwe vir sy twee digbundels is daar ook die paar boeke oor sy jare in die Verre Ooste. Hy skryf ook gereeld artikels, en kort essays vir tydskrifte. Elsa is ’n onderwyseres by ’n plaaslike laerskool. Saam verdien hulle genoeg om siel en liggaam bymekaar te hou.
Brand en Elsa huur die woonstel in Blousteen Mansions, maar praat gereeld van miskien huiskoop êrens in die voorstede. Hulle hét immers twee kinders, en soms raak die woonstel ’n bietjie knap vir die vier van hulle. Elsa sal ook graag ’n tuin wil hê, en Brand het al genoem dat hy daarvan sal hou om op ’n stoep te kan sit.
Die gesin was verlede Desember bietjie Weskus toe (Elsa het familie daar), en Brand het gesweer nie weer nie. Elsa se broer is ’n plaaslike besigheidsman, en hulle het, soos voorheen, nie langs dieselfde vuur gesit as dit kom by politiek en godsdiens nie. Brand het aanvanklik gesê hy dink hulle moet by die huis bly hierdie Desember, maar hy en Elsa het weer daaroor gepraat. Hulle beplan nou om dalk vir ’n week of so Sodwana toe te gaan saam met Brand se jonger suster en haar man (hulle moet nog net die finansies behoorlik uitwerk).
Brand praat gereeld oor sy jare in die Ooste. Elsa luister geduldig, al ken sy al die stories teen hierdie tyd. Soms kom kuier iemand waarmee hy bevriend was in Taiwan. Hulle gesels dan tot laat in die nag oor insidente en mense, en oor tifone, besoedeling, epidemies, Engelse klasse, en Chinees. Brand se Chinees is nie te sleg nie, en hy maak gebruik van elke geleentheid om dit te oefen. Leesmateriaal is maklik om in die hande te kry (óf op die Internet, óf by die Chinese supermark), en hy sit gereeld ’n Chinese tydskrif en lees terwyl Elsa deur die nuutste Huisgenoot blaai.
Brand het verlede jaar veertig geword, en hy en Elsa het gereken dis ’n goeie tyd om ’n nuwe rekenaar aan te skaf. (Elsa se een kollega se man het ’n rekenaarwinkel, en hy’t hulle ’n goeie prys gegee op ’n model van so ’n jaar of wat oud). Brand het gemeen ’n rekenaar is ’n gepaste geskenk aan homself – dit is immers sy kwas vir die verwer, sy swaard vir die kryger, en sy vorige rekenaar het sporadies probleme gegee.
Brand volg ’n vaste daaglikse werkskedule. Hy staan gewoonlik op voor Elsa en die kinders, maak dan vir hulle ontbyt, vat die twee kinders kleuterskool toe, en laai vir Elsa by die laerskool af. Dan sal hy miskien ’n draai gaan maak by die poskantoor, en so teen tienuur se kant is hy agter sy rekenaar. Hy probeer ’n vaste hoeveelheid artikels en essays skryf elke maand (wat sy brood-en-botter is), maar sy groot liefde is steeds poësie. Hy werk op die oomblik aan sy vierde digbundel.
Brand is lief vir sy vrou, en is baie toegewyd aan sy kinders. Hy hoop Martie gaan iets soos ’n argitek of ’n veearts word, en hoewel dit nog bietjie vroeg is om te sê, reken hy klein Ben mag dit dalk in hom hê om ’n skrywer te word. Hy vertel dit vir almal wat wil hoor, en lyk elke keer verleë as Elsa vir hom sê, “Laat die kind toe om sy eie mens te word.” Al wat hy dan sê voor hy oor iets anders begin praat, is dat hy dit in die seun se oë kan sien.
______________________