Toe boek – verskyning – liefde

MAANDAG 14 FEBRUARIE 2005

Wat ek GEWORD het, is vir die mense wat ek liefhet, ’n toe boek . En dit sou bloot ’n uiters handige en akkurate metafoor gewees het, as dit nie was daarvoor dat dit ook letterlik waar is nie.

* * *

Dit gaan nie oor liefde nie, dit gaan oor verskyning. En dit, soos vele dinge in die lewe, is nie ’n probleem … tot dit een word nie.

My ouers en my twee susters verskyn aan my soos hulle hulself sien – hulle verskyn aan my as wie en wat hulle is, in hul eie oë. Ek verskyn aan my familie nie soos ek myself sien nie, maar soos hulle my sien by verstek. In die afwesigheid van data oor wie en wat ek geword het, staan hulle in verhouding met my op ’n wyse wat vir húlle aanvaarbaar is, op ’n wyse wat hulle in staat stel om aan die einde van die dag te kan sê, “Ons ken hom. Hy’s ons broer (of seun).”

Wat ek geword het, en derhalwe is, word verduur as gevolg van ou data (en moontlik ter wille van die handhawing van die herinneringe waaruit die ou data saamgestel is) en vanweë manifestasies van wie ek is in spraak en optrede wat herinner aan wie ek voorheen was, wat versoenbaar is met ’n vroeër beeld wat hulle steeds aanhang van wie ek is (of dan veronderstel is om te wees).

Soos met ’n boek wat nie deur die skrywer oopgeslaan kan word en in die gesig van die leser geforseer kan word nie, so is dit ook met wat ons word. Ons moet “gelees” word. En dit, soos ’n boek ryk aan teenstrydighede, slim metafore, en ’n ontwikkelde, voller karakter, vat tyd.

Ek sal staan, met my arms oop, om my familie te omhels wanneer hulle op hul eie tyd na my sal soek.

* * *

Hoekom, sal iemand vra, moet my familie na my soek? Omdat hulle my verloor het. Hoe het hulle my verloor? Deur my nie te erken, en te aanvaar as die persoon wat ek geword het nie, maar deur my slegs te verduur omdat ek hulle herinner aan ’n manifestasie van myself waarmee hulle hulself makliker kan vereenselwig.

Ek glo steeds dat my familie my liefhet. Aanvaarding verg egter verdraagsaamheid, openhartigheid, en die vermoë om iemand wat jy liefhet in die oë te kan kyk en te erken dat die persoon iets geword het wat jy nie verstaan nie, maar om ook te verstaan dat jy nie skielik ’n vreemdeling is in sy of haar oë nie.

[03/06/15: Hierdie vervreemding van een familielid van ander familielede met wie hy voorheen noue bande gehad het, kan wees as gevolg van, onder andere, seksuele oriëntasie, verandering in religieuse affiliasie, of verandering in politieke oortuigings. In my geval was dit merendeels religieuse affiliasie, en oor die algemeen ’n meer humanistiese uitkyk oor die lewe en die mensdom.]

______________________